‘n Ietsie oor my

Cropfoto
Helma

As ‘n kind het ons baie gekamp. Ek was altyd mal daaroor. Maar na ons getroud is, het kamp so ‘n bietjie in die agtergrond verdwyn. Dit was totdat my man die dag vir my gevra het, dat ons as ‘n soort van eksperiment, ‘n bietjie langs Stilbaai se kus gaan kamp, en kyk of ons en die kinders daarvan hou.

Die kampgogga het ons daardie naweek behoorlik gebyt.

Wat begin het as ‘n eenvoudige kamp met ‘n klein tentjie en net die allernodigste gebruiksartikels, het met die tyd aangegroei tot ‘n groter tent. ‘n Paar jaar later het ‘n bakkie wat omskep is, met tuisgemaakte laaie en tente gevolg. Nog later het ons opgegradeer na ‘n bakkietipe kampeerder (Toertuig) en selfs later ‘n karavaan omgebou.

Fotografie het ook min of meer hierdie patroon gevolg. Ek het altyd ‘n mik en drukkie gehad van skooldae af. ‘n Paar jaar gelede het ek opgegradeer na groter kamera, en het my man aangesteek om ook te begin. Aanvanklik het hy begin met video fotografie, maar nadat ons besef het dat hy eintlik meer fotos neem as videos het ons besluit dat ons albei kamera mense is. En daar byt nog ‘n gogga ons. Nou wat doen mens as jy kampeer? Jy kyk, en jy loop rond, en jy sien dinge wat jy in jou gewone dag tot dag wandelinge net nie opmerk nie. En omdat jy buite is en rustig is, het jy al die tyd in die wereld om ‘n foto te neem. (Dis nou as jy nie voeltjies en diere afneem nie, natuurlik).

Ek het ook altyd dagboeke gehou van ons toere en waar ons kamp. Dus het ek al ‘n stewige versameling leesstof met die jare opgegaar. Met ons eerste toer na Namibia het ons toenertyd begin met ‘n begroting van R150 per dag, petrol of diesel uitgesluit. Ongelooflik om dit vandag te dink. Dis altyd lekker om die dagboeke te lees of na te slaan as ons weer toer, te kyk wat was vir ons lekker en waarvan het ons gehou!

Dit was hierdie dagboeke wat vriende en kollegas by my geleen het as hulle toere begin beplan het. Dus was dit net makliker om te begin om al hierdie data op elektroniese maniere te begin versamel. En Voila! Nou is dit makliker om dit met almal te deel.

Geniet die reis saam met ons! Net dalk steek jy ook aan.