Afrikaans - Blog Hidroponika

Ons Hidroponika stelsel

Ek het vir jare belang gestel in hidroponika as ‘n manier om groente te groei. Maar weens my werksdruk het ek net nooit tyd of energie gehad om dit te probeer nie. En omdat ek nie groen vingers het nie, het die groente wat ek in die grond gegroei het, nooit kos geword nie. Dit het gewoon weens al die peste en plae net so in die komposhoop beland.

En toe kom vervroegde pensioen en trek ons Kaapstad toe. En daar in die huurhuis het ek skielik beperkte moontlikhede van plantgroei. Ons was toe in die fase van ‘n moontlike verhuising oorsee en omdat alles nog in die lug gehang het, wou ek niks aanpak wat ons weer tot niet moes maak nie

Maar toe kom die virus en ons land sluit toe op 27 Maart 2020. En skielik word ons belas met van die mees drakoniese reëls en regulasies wat ons land ooit gesien het. En ek hoor hoe blankes nie kospakkies mag kry nie en kospakkies moet beheer word deur die staat, en ek besef dat ons paar wat nog in hierdie land oor is, plan sal moet maak om vir onsself te sorg. Veral wat voedselvoorsiening betref. Maar hoe gemaak as jy nie kan plant nie?

3 weke na die toesluit begin het, is daar skielik nie meer slaaiblare of tamaties in die winkels nie. Ons mag ook net binne ‘n radius van 10 km beweeg. En dis toe dat ek vir my man sê, “ou man, ons sal moet plan maak. Ons kan nie dat regulasies maak dat ons later nie kan eet nie”. Maar nou het ons ‘n probleem gehad. Die regulasies het bepaal wat jy mag koop, en wat nie. Jy kon bv. nie emmers en moppe of koshouers koop wat reg langs die toiletpapier gestaan het nie. Jy kon nie eers tou of wol koop wat langs die skoonmaakmiddels gestaan het nie. Daar was rooi toue rondom als wat jy nie mag koop nie, gespan. Net die mees essensiële is toegelaat om te verkoop. So hoe gemaak.?

Een van die regulasies word egter na week 3 verslap, en dit was dat loodgieterpype en loodgieter toebehore asook die mees basiese boerdery benodigdhede verkoop kon word. Met maskers aan, en al die parafinalia, is ons die koöperasie binne en nou moes ons vinnig planne maak. Ons besluit is toe om maar dreineringspype te koop en die ente toe te maak. Gelukkig het die spesifieke koöp een sak kleiklippies en ‘n sak voeding beskikbaar. Maar geen hidro plant houers nie. Gelukkig is daar nog meer as genoeg klein sakkies saad en ons is geholpe.

Ons kry toe in een klein winkel ‘n stel plastiek kinder koeldrankglasies wat gelukkig te koop is, en siedaar.

By die huis word die dreineringspype toe omgeskakel in Hidroponiese buise. My man boor vir my ronde gate in die pype sodat die koeldrankglasies daarin kan pas. Die buise is deur my man so gesny dat dit kon pas in die vensterbanke van die huurhuis waarin ons bly. Hy maak vir my met rondlê hout sommer voetstukkies vir die buise om vas te kan staan. Met die soldeerbout smelt ek toe die nodige hoeveelheid rye of gate in die glasies en toe is ons reg vir plant.

Ons eerste dreinpyp stelsel is klaar. Die pynappel stingel net vir effek tot ons kon plant

Die meeste saad word toe geplant sommer in watte, soos in die ou dae geleer op skool. Toe hulle groot genoeg is, word hulle oorgeplant in die bekertjies en versigtig met die kleiklippies gevestig.

Ander saadjies word gesit in Cocopeat om te ontkiem. Ons probeer alle metodes net om seker te maak dat ons genoeg plantjies kan kry.

Elke dag word gekyk of en hoe die saadjies ontwikkel. Ek het nou baie tyd en waar ek kan, kyk ek video’s om planne te maak en nog goed oor die sisteem te leer.

Saadjies ontkiem in Cocopeat.

Dit neem die plante in die vensterbank nie baie lank om heel gelukkig te groei nie. Die voeding is heel eenvoudig en elke week maak ek die buise leeg en vervang die voeding. Die plante groei met rasse skrede. Ons is verbaas oor hoe vinnig die groente groei met die min water en voeding. Binne drie weke is die slaai al so groot dat ons van die blare kan begin pluk en eet en sommer ook vir die bure kan gee. Vir my is dit die eerste keer dat ek suksesvol slaai kon kweek sonder peste en plae.

En toe byt die gogga ons altwee mos behoorlik.

Die plante groei in die vensterbank

Die tamaties, komkommer en soetrissies groei so hoog dat ons later moet plan maak om stutte te bou, om die tamaties teen op te lei.

Maar toe moet ons weer trek. Die buise word leeggetap en ons laai die buise met hulle plante in die bakkie en vervoer dit tot by die nuwe huurhuis. Hier gekom is dit toe duidelik dat die plante swaar kry onder die nuwe weersomstandighede en ook waar hulle moet staan. Ons begin die eerste tekens van stress sien en ‘n week of wat later het ons ook die eerste keer luise op die groente. Maar ons probeer ons bes en gaan goed aan.

Toe die ergste handel en reis regulasies verslap, vind ons ‘n hidroponiese winkel in Brackenfel en gaan vra raad. Hulle is fantasties met hulle hulp en inligting en gee vir ons ander aanvullende voeding. Hulle verduidelik vir ons waar ons verkeerd gegaan het, en wat ons kan doen om beter resultate te kry. Ons koop daar sommer ekstra groeikoppies en voorraad wat ons nodig het. Ons maak ook ‘n plan om die beligting te verbeter en begin hoopvol weer van voor.

Hierdie keer wil ons dit reg en makliker doen en dinge gemakliker vir my maak. Hidroponika is soos enige ander stokperdjie….jy begin klein, en voor jy jou oë oopmaak brei die stokperdjie uit en word dinge of duurder of meer gekompliseerd.

Kyk gerus na die volgende skrywe om te sien hoe ons vorder.

0 comments on “Ons Hidroponika stelsel

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: