
Dis lente. Die lug ruik anders, die lug voel anders en alles lyk sommer ook anders. Weg is die vaal en grys kleur van die winter Weskus. Nou is dit die tyd van veelvuldige seëninge van blomme soos dit net aan die Weskus gesien kan word.
Daar is so ‘n opgewonde atmosfeer deur die hele blommetyd. Dis asof die oopmaak van die blomme ook die mense se harte en gemoedere oopmaak. Asof die blomme sommer diep in die siel inpraat. Oral gesels vreemdelinge met mekaar, vra vrae. Gesels soos ou vriende, al het hulle mekaar nog nooit ontmoet nie. Almal het een gemeenskaplike belang, en dit is om blomme te kyk, blomme te vind, saam te gaan stap en saam met toerleiers meer te ontdek.
En natuurlik is daar blomme te sien van onder in die Kaap al die pad tot in die Noordkaap. Party plekke en dorpe het baie blomme gehad na goeie reëns en ander het minder blomme gehad. Maar elke blommetjie wat opkom is bekyk en waardeer. Mense reis ver om na die blomme skouspel te kyk en sommer weer net ou vriende raak te loop en te kuier.

Elke week ruik die lug anders. Want soos die verskillende blomme in plate oopmaak, gee dit ook ‘n spesifieke reuk af. Sommige dae is dit ‘n soet reuk en ander dae ruik dit weer meer soos onkruid. (En vir die allergiese mense is dit minder lekker). Elke week lyk dit ook anders, want met tye is die wit blomme meer, net om opgevolg te word met geel en dan weer pienk of pers. Soms is dit sommer ‘n lekker bont spul blomme van alle soorte en geure. En tussen alles staan die verskillende soorte aalwyne bloedrooi in blom. Die insekte kom en gaan saam met die blomme. Haarwurms hardloop soos motortjies oor die grootpad. Miniatuur stinkbesies vergader en versuip in waterplassies. Oral haal die goggas die beste uit die natuur om hulle voortbestaan te verseker.
Dit was ook die tyd wat die Duckitt Plaas buite Darling sy deure oopgegooi het vir besoekers en kon jy hier orgidiëe sien wat nie sommer algemeen te koop is in ons supermarkte nie. Alle kleure en vorms. Dit was ‘n reënerige dag toe ons daar ‘n draai gooi, maar gelukkig was daar ‘n pannekoekstalletjie wat sommer dadelik byklank gevind het by ons groepie. Blomme en pannekoek in reënweer…dit kan mos nie beter bymekaar wees nie!
Die Weskus Nasionale Park stel ook weereens nie teleur nie. Vroegoggend, selfs op ‘n weeksdag het rye motors gestaan en wag voor die hek, om die plate blomme te gaan kyk in die Posberg area. Posberg word net oopgestel vir die publiek in Augustus en September. Augustus was dit net Posberg wat eintlik blomme gehad het om te sien, en dit was soos spitsverkeer soos die motors in en uitry.

Maar teen die middel September verras die res van die park ons toe met die mooiste blomme wat oral te sien is. En gelukkig is die voëls so baie dat dié wat verveeld raak met die blomme, iets anders het om te doen. Daar was dus soveel om te sien en die erge verkeer wat ons toe verwag het, het nie plaasgevind nie.
Danksy moderne tegnologie is fotos geneem deur honderde selfone en die wereld in gestuur. Die Weskus was weer op die kaart, en op die internet. En alhoewel ons gebuk gaan onder grendeltyd, was dit een gebied waar jy met dankbaarheid jou afstand kon en wou behou. Die Weskus is groot en ten spyte van die verkeer was ons nooit bekommerd dat mense te na aan mekaar sou kom nie.

Tuine is gelaat staan vir ‘n paar maande, nie omdat die inwoners lui is vir tuinmaak nie, maar omdat elke “onkruid” eintlik ‘n blom kan wees. Ook wil almal die blomme kans gee om behoorlik uit te droog en saad te skied sodat die blommeprag hulleself weer volgende jaar sal herhaal. Maar teen die einde van September was die weelderigheid besig om af te gaan, en oral kom die Weskussers nou uit hulle huise en word daar met erns erf skoongemaak en bosse en plante uitgehaal en nuut aangeplant. Almal wil immers die meeste uit die grond haal veral nadat hierdie jaar sulke goeie rëen aan die Weskaap geval het.
Pelikane Lepelaars Dikkop Wyfie met kuikens
Vlerksleep onder die voëls het ook weer in alle ywer begin. Daar word letterlik vlerk gesleep en vere geskud en die kleure van die voëls is nou op hulle mooiste. Dit raak soms erg moeilik om die jonges van die volwassenes te onderskei, en menigte voëlkykers krap saam kop oor dié of daai voël, en raak opgewonde oor nog ‘n “lifer” wat hulle raakgesien het. Bedags is dit besig om die voëlbadjie en skrop die voëls stofgaatjies vir ‘n stofbad, net om water te kom drink en dan sommer ‘n waterbad ook te neem.
Dis ook die tyd wat die trekvoëls begin terugkeer en ons kon die terugkeer van duisende Trekduikers gadeslaan.

Na die aanslae van die winterweer en storms was die strande gevul met alle vorme van plastiek en gemors. Die manne en vroue van die Yzerfontein bewarea, die Rotariers en Natuurbewaring het met projekte na vore gekom en die inwoners van tot so ver as Darling is aangemoedig om te kom help om die strande skoon te maak. Maar na stormweer, lyk dit weer dieselfde. Dit is dus nie vreemd om Yzerfontein stappers te sien wat sommer uit hul eie uit van die vullis optel en verwyder nie.

Die afgelope week was die weer aan die kus fantasties. Vandag is dit besonders warm en windloos. Dis die einde van ‘n kort vakansie. Die besoekers is sommer vroeg strand toe en oral is daar mense besig om ente te stap met hulle honde.

Op die rotse deel twee robbe in die genot van die heerlike weer en lê lui en uitgestrek op die rotse. Hulle kleur smelt so in met die rotse dat ons hulle byna nie gesien het voordat hulle begin roer het nie. Ons maak ons dus vinnig uit die voete om hulle nie te steur nie.
Na ‘n lang ent se heerlike stap na die see, skud ons die sand van ons voete en met ‘n draairoomys in die hand, sit ons bo die hawe en geniet die uitsig oor die strand. Wat kan dan nou lekkerder wees as so ‘n mooi lentedag hier by die see.

Pragtig gestel Helma. Wat ‘n voorreg om hierdie jaar vir die eerste keer deel te kon wees van die Weskus blommeprag.
LikeLike
Sowaar. En die blomme was nie suinig met die vertoning nie!
LikeLike
Pragtige foto’s, het dit geniet om te lees.
LikeLike