
Dis vroegoggend in die weskus. Dis nog stikdonker en yskoud buite, maar oral hoor jy die manne gereed maak vir ‘n dag op die see. Die wat reeds klaar is, ry met hulle bote, in allerhande groottes, op die hoofpad verby see toe. Daar is duur en luukse bote en dan is daar klein en eenvoudige bote. Baie van die bote en bakkies se registrasies vertel van ver plekke waarvandaan die manne kom. Want al loop die snoek lekker aan hierdie deel van die weskus, loop dit nog nie oral nie.
Dit is steeds grendeltyd en die klank van die vissermanne bring weer hoop vir almal wat reeds soveel verloor het in hierdie tyd. Dis asof daar so ‘n opgewonde en hoopvolle atmosfeer in die lug hang. Dis asof jy die manne kan hoor dink “Dalk loop die visse vandag mooi en dalk het ons dan genoeg geld of genoeg hoop vir die volgende maand of twee.”
Die meeste inwoners in die dorp slaap nog as die bote een vir een die water instoot. Maar vir dié wat bevoorreg is om die hawe dop te hou of visserman bure het, is dit iets om te aanskou. Die meeste manne is gepanser in heldergeel of oranje reënbaadjies en oorpakke om hulle te beskerm teen die water en weer. Die temperatuur is baie laag en dis ysig koud. Maar duidelik is dit nie waaraan die manne dink nie. Die viskoors loop doodeenvoudig net te hoog. En met sosiale media het die manne nou net een ding waarvoor hulle lus het, en dit is om daai blink lywe uit te trek

Gelukkig is die see die manne vandag genadig en die golwe is nie te hoog of te ‘choppy” nie. En die belofte van sonskyn en min wind is net die dinge wat die manne aangevuur hou. Gister was die see minder genadig en het die bote wat wel uitgegaan het, sommer vroeg al teruggekeer. Dis nie die moeite werd om lewens te waag as die see en weer nie saamspeel nie
Dis knap na 1 uur en die bote begin terugkeer uit die see. Net buite die dorp is daar die vismark en dus die aflaaiplek vir die bote. Oral aan die rand van die vismark staan wit bakkies en afleweringsvoertuie wat wag vir die bote om in te kom. Hier staan ook ‘n swaargelaaide karavaan met nodige vissermans goed: Lyne, sout, sakkies, messe en hoeke, koeldrank en skyfies. Sommer alles wat die manne wat pas terugkeer van die see dalk nodig gaan kry.
Die opgewondenheid neem toe. Want nou begin die bote inkom en dan moet alles vinnig gaan. Agter elke boot volg nog ‘n voertuig of twee, gelaai met die vissers wat saam uit was see toe. Vis moet nou vinnig afgelaai word en die manne wat die vis koop moet dan nog die vis verwerk voordat dit weer na die buitemark kan gaan.

Ek gaan gesels met van die manne en vroue wat staan en wag. “Mevrou sê hulle, hierdie is nog niks! Jy moet net sien hoe lyk dit van twee uur af, dan is dit ‘n malhuis. Geen mens weet dan vorentoe of agtertoe nie. Dis net bakkies en bote waar jy kyk en die manne moet dan haastig werk, want anders word die vis pap. En baie moet nog ver ry.” Ek vra of hulle almal smouse is, en ‘n paar van hulle lag. “Nee ons hoop maar een van die bote het ‘n ekstra vissie vir ons om te koop”. Hulle het al die pad uit st Helena Baai gery vir daardie snoek. “Want die snoek loop nog nie by ons nie en ons lus mos nou ookal vir ‘n stukkie vars snoek.” Ek wonder in my stilligheid of dit gaan oor die vis, of gaan dit oor die lekker atmosfeer en samehorigheid.

Manlief het intussen ook nie op hom laat wag nie en hy vind ‘n boot waar daar twee ekstra snoeke is. Hy koop dadelik een. Die meeste van die bakkies wat reeds wag, het klaar onderhandel vir hulle kwotas vis. Dus is ons gelukkig. Hierdie boot het vir ons ‘n ekstra snoek. Ons een buurman kom ook aan en verduidelik dat ons die vis vir ‘n bitter klein bedrag kan laat opsny en skoonmaak by die slagbakke. Wat ons dadelik doen.
Die manne werk flink en dit gaan gou. Ons vra bietjie uit en die vissermanne gee raad. Ons hoor van snoeke wat ingesout moet raak met growwe sout en dan na ‘n paar ure afgespoel moet word en aan ‘n lyn buite gehang word in die wind om droog te raak. “Anders word die snoek pap”. Ons word gemaan om nie die snoek te vou toe ons dit in die winkelsak wil sit om te vervoer nie, want “die snoek gaan pap druk”. Duidelik is die vis se hantering vir die vissermanne baie belangrik. Ons leer van snoekkuite en die viskoppe en so tussen alles deur hoor ons wat is lekker en wat eet die manne en wat nie.

Die een man vertel dat die snoek vandag so mooi geloop het dat hy sommer met hoeke sonder aas gevang het. Regtig sê hy, soos hy die hoeke ingegooi het, het die snoeke gebyt. Hy het maar net ingegooi en uitgetrek. “Die snoeke was lus vir byt vandag!” Ai dis lekker, lag hy. Die glimlagte lê sommer dik oor die manne gesigte soos hulle saam gesels en saam werk. Ons kan egter nie lank bly nie, want die bote kom nou in.
Dinge gaan maar dol en soos vir ons voorspel raak dit nou ‘n drukte soos nog nie gesien nie. Bakkies staan langs bote. Groot seile word agter oor die bakkie gegooi en die vissermanne gooi die visse in die seile. Agter in die aflewerings waens word houers met vis gelaai. En alles gaan vinnig want almal wil klaar kry met die dag se werk. Vir party is dit die einde van die dag se werk en vir die kopers is dit maar pas die begin van als wat hulle moet doen voordat die eerste vis weer deur hulle verkoop gaan word.

Ons hou die proses op ‘n veilige afstand dop vir ‘n ruk en maak ons dan uit die voete. Ons wil sien wat gebeur nou by die hawe. Daar gekom, lê daar verskeie bote in die hawe wat wag om hulle beurt te kry om met die sloep uit die water gehelp te word. So vinnig as wat hulle uit die see kan kom, so vinnig is hulle oppad na die vismark. Dit lyk kompleet soos ‘n stoet soos die manne weer met hulle bote en gevolg uit die hawe en dorp ry.

Die visvangs was goed, die manne het gevang en goed gevang. Die snoek het geloop soos hulle almal gehoop het. Iewers ry swaargelaaide bakkies nou na hulle onderskeie dorpe en sal daar more vis verkoop word. Iewers wag mans of vroue vir die bakkies om reeds bestelde snoeke te bring wat hulle gaan gaarmaak oor ‘n vuurtjie. Of dalkies beland daai snoekie op ‘n bord in ‘n duur restaurant of word dit ‘n snoekpastei in ‘n klein buitelandse dorpie, wie weet? Maar een ding is seker, die snoekkoors sal more steeds voortgaan iewers aan die weskus.
En hier by die huis hang daar huidiglik ‘n snoek aan die lyn.
0 comments on “Dis snoektyd aan die Weskus”