
Is Eko huisbou op ‘n beperkte begroting moontlik?
Hierdie is ’n blog oor die soeke van ons na die antwoord op die vraag: of dit nog vir die middel inkomste persoon (in SA) moontlik is om ’n Eko huis te bou op ‘n baie beperkte begroting.
Banke in Suid Afrika staan net ’n lening toe teen ‘n sekere bedrag vir sekere inkomstes. Hierdie bedrag weerspieël egter nie die realiteit van dit wat in die huismark beskikbaar is nie. Veral nie vir die middel inkomste gesin wat op die laagste kerf van die middel inkomste val nie. En dit sluit sekere dele van die populasie daarom uit van die voorreg om ’n huis te kan besit.
In Suid Afrika het ons die volgende huisvesting beskikbaar:
🔸 Staatsbehuising (HOP huise) – Dit sluit sekere dele van die populasie uit.
🔸 Middelinkomste behuising
🔸 Hoër inkomste behuising
Met die beperkte begroting het ons besluit dat ons sou moes begin kyk na:
🔸 Die prys van standaard 3 slaapkamer huise, hetsy alleenstaande of in sekuriteitsareas
🔸 Areas waar mens kan koop
🔸 Grond beskikbaar vir enkel woonhuis ontwikkeling en waar
🔸 Die kostes as mens buite groot stede bou.
Ek is jare lank al besig om te delf in enige huisvesting wat liggies op die aarde trap. Ook glo ek dat ons ons koolstof voetspoor so klein as moontlik moet en kan maak. Het ons regtig al die luukses nodig om gelukkig en funksioneel te wees? Kan ons probeer om met eenvoudige stappe meer selfonderhoudend te wees? Dit was maar ‘n paar vrae wat ons onsself al lank afvra. En wat beteken dit vir jou om minder afhanklik van bv ons Eskom te wees? En na die erge droogte in Kaapstad – om minder water te verbruik? Ook tydens die virus en die gepaardgaande huisarres – hoe verbou jy jou eie groente en vrugte ekonomies op klein skaal? Dit alles het gely tot by hierdie punt waar ons besef het, om te weet, is om dit self te doen en te beleef.
Vir die wat ons reeds ken omdat hulle my vorige skrywes gelees het, sal weet dat ons baie reis en dat baie van ons toere in Namibia ens. lang toere is. En dit is tydens die reis na die bestemmings, dat ons begin peins het oor die feit dat ons eintlik met baie min oor die weg kan kom. En dat ons eintlik baie meer na buite leef terwyl ons reis. Terug in ons huis verval ons egter gou weer in ons gemak sones en dan word goete belangriker as die ervarings. En dit is tot ons eie nadeel.
Daarom het ek begin kyk na als wat aangebied word vir die middel inkomste persoon.
Hoe sou die persoon se lewensstyl beinvloed word deur die huis waarin hy woon?
Gereken teen die ou rentekoers van so 20 jaar gelede, het die terugbetaling teen jou huislening beteken dat jy dit terugbetaal teen 2.5 tot 3 keer die aanvanklike bedrag van jou huis. Dit kan astronomies baie geld wees vir iemand wat daardie tipe skuld maak. Dit is dan een van die redes dat die meeste Suid Afrikaners net kan huur. Maar huur het stadig maar seker die kopersmark begin verbysteek. Dit het net te duur begin raak vir sekere huishoudings om te huur. Wat hulle dan in ’n delimma plaas, gaan bly by die familie of trek na areas waar jy moontlik nie wil bly nie (slegs omdat dit bekostigbaar is) en ook nie veilig is nie.
In Suid Afrika het die “Tiny House Movement” nog nie vatplek gekry soos oorsee nie. Daar is ook nie bekostigbare erwe beskikbaar vir die selfbouer, “Tiny House” of ander klein behuisings konsepte nie. Ook nie in ons land se Munisipaliteite nie. Vir die laer deel van die middelinkomste persoon is daar dus net een opsie, jy moet skuld maak en baie daarvan. Want wetgewing en reëls en regulasies bepaal hoe en wat en hoe groot jy kan bou. Ironies genoeg nie hoe klein jy kan bou nie.
En hoe meer selfonderhoudend jy wil lewe, hoe duurder word die hele projek. Sonkrag is nie noodwendig goedkoop nie, maar ons land se elektrisiteitsvoorsiening is nie huidiglik betroubaar nie. Suid Afrika is ook ’n waterskaars land. En omdat damme nie gebou word nie, en die populasie eenvoudig vermeerder bo die damkapisiteite, sal mens aan alternatiewe besparingsmiddele moet dink. En as jy eers begin dink aan alternatiewe in ons land, dan dink jy duur…
Dit is met hierdie vrae wat ons ernstig begin navors en dink het oor wat ons te doen staan as ons die eindomsmark weer wil betree. En dis waar ons toe begin het om te dink aan ons projek. Ons wou kyk of dit moontlik is om te bou op die beperkte begroting. En wat ons sou kry vir daardie bedrag. Ook om te sien watter boumetodes binne die regulasies gebruik kan word, en wat dit sal behels.
Ons besluit was om te kyk na ’n Eko huis. Klein genoeg om ons steeds gerief te bied. Ook om dit so te bou dat dit die tuin insluit as deel van die huis en ons meer na buite kan leef. Maar ook so te bou dat dit op die lang termyn vir ons kan voorsien in elektrisiteit, ekstra waterbesparing en ook die opsie om hydroponika te beoefen en groentetuine te maak. Volg ons dus gerus in die volgende blogs om te sien hoe en wat ons deurmaak om by die antwoord uit te kom.
Die avontuur het begin
Baie handige informasie, Helma. Dankie!
LikeLiked by 1 person
En so begin die reis 🙂
LikeLike