Hierdie stukkie het ek ‘n hele paar jare gelede geskrywe. Ek het dit ontdek toe ek tussen ou sentimentele foto’tjies gekrap het gister. Dit was nog in die dae toe ons in ‘n tentjie gekamp het. Ons het by die Aventura Oord in Plettenbergbaai gekamp.

Die Spreekwoord lui: “Die môrestond het goud in die mond”. Goud vra jy? Dis iets wat hulle tot kilometers onder die grond uithaal. Uit ‘n donker, swart, klam aarde na baie geswoeg en gesweet. Hoe kan die oggendstond goud in die mond hê?
Dis net na 5 uur in die oggend in die middelsomer. Alles is aan die wakker word. Natuur en ook die mens. Maar in hierdie stil tyd van die dag slaap die meeste mensekinders nog. Toegevou in die saligheid van hulle beddegoedjies of die saligheid van die vakansie.
Ons tentjie staan knus onder ‘n wilde Olyf wat weer sy maat het in ‘n melkhoutboom en wildepruim. Voor ons staan rye en rye karavane en tente styf inmekaar geryg op die bank van die Keurboomsrivier. Vanoggend is die koel na ‘n swaar wolkbreuk die vorige aand. Op die rivier self lê ‘n dun lagie mis, luierend, talmend asof dit lus is vir niks.
Die visse is egter in ‘n goeie luim. Hulle slaan hulle sterte op die water en spring bogies om goggatjies uit die lug te vang. ‘n Bloukopvisvanger val met ‘n plonslag in die water om klein vissies te vang en sit dan rustig en vreet op ‘n omvaltak van ‘n geelhoutboom. Min gepla met my wat haar van naderby staan en bekyk.
Alles het die opgewondenheid van ‘n nuwe dag wat begin. Bo in die perdepramboom sit twee Knysnaloeries en roep. Hulle maak ‘n blaasgeluid as jy nader na hulle toe stap en bly koes koes wegkruip totdat hulle met groot bravade vlerkklappend na ‘n ander boom vlieg. Die punte van hulle vlerke bloedrooi teen die swart vere van die vlerk.
‘n Tortelduifie koer in die een van die bome en meeu vlieg oral rond op hulle lui en rustige manier. Oral kwetter en gesels die voëls.
Hier en daar word die bejaardes wakker en met die verbystap word saggies gegroet soos ek by hulle karavane en tente verbyloop. Almal praat sag met mekaar om nie die medekampeerders wakker te maak nie. Iewers uit een van die karavane speel sagte oggendmusiek oor ‘n radiotjie. Dis Sondag en nog veels te vroeg vir die oggenddiens.
Ek kan my loop en verkyk aan al die soorte karavane en tente. Die slim planne wat die mense darem bedink om hulle verblyf, weg van hulle huise, vir hulself gerieflik te maak! Op een van die staanplekke staan twee tentjies ‘n hele ent van mekaar, ek wonder nogal daaroor. Maar met die verbyloop kom ek die rede agter. Die een inwoner snork die snork van ‘n gelukkige en volgeëete man.
Terug by ons eie tent is alles stil. Manlief slaap nog rustig. Ek maak vir my ‘n heerlike koppie koffie terwyl ek rustig buite die tent sit. Met koffiekoppie in die een hand en beskuit in die ander kom sit dieselfde haromonie en vrede, van dit wat ek so pas in die natuur ervaar het, ook in my siel. Raak ek stil en raak ek rustig. Kyk ek hoe die son sy eerste strale oor die koppe se rand stoot. Goudgeel strale wat alles in die woud met goud omsoom.
En skielik weet ek waarom die môrestond goud in die mond het – dis nie grondgoud, of klatergoud nie. Dis Godsgoud – Genadegoud.
Pragtig geskrywe
LikeLike
Dankie
LikeLike
Pragtige stukkie Helma. Asof ek jou kan hoor gesels. Verlang sommer nou baie na jou
LikeLike
Dankie Erna. Mis julle ook
LikeLike