Langer Toere

‘n Kort verposing in Namibia

Deel 2 van ons toer na die Kgalagadi en Namibia

5 Mei 2019

Sterrenag oor Garas

Na ‘n lekker groot ontbyt vertrek ons vandag so half met die idee om in Keetmanshoop oor te bly, of dalk deur te ry na Granau as die tyd dit sal toelaat. 

Die besluit was om finaal te besluit sodra ons in Keetmanshoop aankom, maar die lewe besluit toe vir ons. Net drie kilometers anderkant Koës, byna op dieselfde plek waar ons die vorige keer ‘n band gebars het, hoor ek iets klap, en met die uitklimslag besef ons dat die Ironman bladveer gebreek het. Ons kry ‘n vriendin in Suid Afrika gekontak via sms en vra haar hulp om iemand te kontak wat dalk kan help.  Dis ook nie lank nie toe kontak haar man my met Ironman se telefoonnommer. Ons sukkel maar teen ‘n baie,baie stadige spoed voort tot ons ses ure later Keetmanshoop bereik. So tussen sein en geen sein, heelpad, kry ons darem uiteindelik die naam van ‘n persoon wat ons môre kan help.

Omdat ons proviand nou op sy laagste is, en ons wifi kan kry, besluit ons om sommer by die Spur te gaan eet. Dit is darem al sterk oppad aandete se kant toe en hier is byna niks oop op die Sondag nie. So tussen die kosbestellings begin Gert gou reëlings tref vir die bakkie môre en ons besluit toe maar om by Garas net buite die dorp te gaan kamp. Sommer oppad besluit ons om vanaand weer lae ligfotos te probeer neem.

Dit word ‘n lieflike aand tussen die kokerbome en die rotse met die mooi helder sterrehemel bo ons. Ons spandeer meer as ‘n uur in die woud voordat ons tevrede is met die resultaat. Na ‘n heerlike koppie yoghurt is dit bed toe gaan tyd vir ons. Hopelik kan ons more die bladveer vervang en deurry Ais-Ais toe.

6 Mei

Ons is vroeg deur Keetmanshoop toe. Ironman het laat weet dat hulp te kry is by Rassies towing services op die dorp.

By Rassies moet ons egter verneem dat die bladveer gebring word met die koerier van Windhoek af. Hulle sal dit eers die volgende oggend 8h30 hê en die werk behoort ongeveer 2 ure te neem. Dan kan ons voortry. Hulle maak ‘n tussentydse plan dat die “centre shaft bearing” nie seerkry nie, deur stroppe om die as ens. te trek en maan ons om weereens stadig terug te ry na ons kampplek toe. (Stadig is nou al ‘n eufinisme vir ons…ons ry teen ‘n kruipspoed voort)

Maar eers gaan doen ons ons inkopies en vul die proviand aan. Hier kos 4 tamaties R32 en die 4 mielies R42. Geen wonder die mense eet hoender in die plek van groente  nie! 

Met kos so peperduur is uiteet nou winsgewend en ons glip gou weer die restaurant binne vir ontbyt en om wifi te gebruik. Wyslik besluit ons daar en dan, dat ‘n data-kaartjie dalk die beter en goedkoper opsie sal wees. Dis ‘n goeie besluit, want jy kan ‘n hele 7 dae pakket by MTC koop met data, beltyd, en dies meer vir ‘n skrale R65. Hierdie Namibiers ken van toerisme en om toeriste gelukkig te hou. Geen Rica en drama nie. 

Kampterrein Garas

Op slakkepas is ons toe terug Garas toe. Nadat ons ‘n lekker koelteplekkie uitgesoek het, pak ons al die proviand weg en die res van die middag verwyl ons rustig deur boodskappies te stuur, speletjies te speel en videos te kyk. Hier waai ‘n sterkerige windjie uit die noorde, maar ons is dankbaar daarvoor want dit maak die aanvoelbare temperatuur meer hanteerbaar. Dit is vandag 34 grade hier in die koelte. 

Aandete vanaand is skaaptjoppies en slaai. Heerlik.

7 Mei

Ons is vroeg op want vandag moet die bladveer herstel word en die bakkie moet 8h30 by die werkswinkel op die dorp wees.

Terwyl die bladveer herstel word, verwyl ek en Gert die tyd deur ekstra lank by die Spur te eet en daarna rustig deur die winkelsentrumpie te loop. Terug by die bakkie is die herstelwerk gedoen en nadat ons ‘n wyle moes wag vir ‘n faktuur, betaal ons die diensgelde (Ironman vervang die bladveer) en ry toe deur na Ais Ais.

Hier is gelukkig genoeg staanplekke en ons word gou gehelp. In ‘n japtrap is die kampplek uitgesorteer en is ons gereed vir die warm swembad. Die bobbejaanwag waarsku ons egter om eerder als weg te sluit, selfs die yskaste, want hulle het nou die manier ontdek om die yskaste oop te maak. Hulle het juis ons buurman langs ons se hele yskassak oopgeskeur en als wat te ete was weggedra en opgevreet. Dis ‘n baie ontstelde buurman en sy vrou wat later die middag terugkeer en die skade aanskou.

Ons besluit dus wyslik om die los yskas maar eerder in die toertuig toe te sluit en gaan swem heerlik. Die weer steek egter dreigend op en later val daar selfs ‘n paar druppeltjies. Die wind waai stormsterk en besluit om eerder terug te gaan kamp toe om te sien wat ons te doen staan. Die een buurman sê egter dat die weer nooit hou in Namibia nie en dat ons maar vuurtjie kan aansteek. Synde dit hom nie pla nie, besluit ons om sy raad te volg. En jouwaarlik, dis ook nie lank nie, toe trek die weer en die wind oor en word dit ‘n heerlike aand en gekuiery saam met die bure. 

Ons gaan lê nie te laat nie, want almal kruip vroeg in, en verwyl die aand deur eers ‘n paar speletjies te speel op ons Ipads en tydskrifte te lees.

8Mei

Dis vandag net uitspan en swemdag. Die bure pak almal aan weerskante hulle kampplekke op al van donkeroggend af, dus van slaap is daar nie eintlik sprake nie. En hier tussen die berge is nie sprake van sonsopkoms nie. Een oomblik is dit donker en die volgende oomblik is dit lig. 

Ons het aapstreke in Ais-Ais

Ek maak vroegoggend vir ons groot ontbyt met al die tierlantyntjies terwyl ek konstant een oog hou oor Ta wat heeltyd uit die bosse kom om jou goed te steel. Die Germane vind dit lagwekkend, maar ons Suid Afrikaners dink glad nie dis grappig nie. Op een of ander stadium sal die troppe bobbejane hier nou uitgedun moet word, want dit raak te gevaarlik vir die toeriste, met veral die grumpy mannetjies bobbejane. 

Dis dan ook terwyl ek gou in die toertuig klim om my badkamersak uit te haal dat ek iets hoor buite. Ek loer deur die venster en daar sit ta klaar by die yskas en het hy die knip reeds oopgekry. in die tyd wat ek uit die toertuig gevlieg kom, (my kop ‘n barshou slaan teen die deur in die poging) het ta homself verryk deur my nuwe pak botter, kaas en koue vleis te steel. Kieskeurige bobbejaan nogal, want dit los die slaai en tamaties! Was seker lus vir iets anders as die gewone op sy spyskaart. 

Ons verwyl letterlik die dag om in die swembad. Die weer en die swembadwater is heerlik!

Later die middag ontmoet ons ‘n paartjie uit Nederland genaamd Rinus Hartsuijker en sy vriendin Helga. Hulle het letterlik al deur Afrika en Australië gerys. Hy het ‘n pak vleis gekoop by Africa Burn en weet toe nie wat dit is is nie. Dit is duidelik skaapvleis vir ‘n potjie en en omdat hy nog nooit pot gemaak het nie, leen ons hom ons pot, en help hulle gou om die pot aan die gang te kry

Terwyl ons later besig is om ons vleis te braai, kom hulle aangestap, pot en al, en trek vir hulle stoele nader en kom klets. Dit word ‘n aangename aand van staaltjies en gebruike uitruil en ons kuier en eet saam. Rinus se pot het heerlik gekom. Hy het bier in plaas van wyn gebruik en dit het heeltemaal ‘n ander ligter smaak tot gevolg gehad as wat ons met wyn gewoond is. Heerlik! Hy maak vir ons die heerlikste sjokolademelk met Melk, Nutella en Amarula. En beloof my dat ek goed sal slaap. Wat ek toe ook gehad het.. Mmm ek het paar nuwe idees gekry in een enkele dag😀.

9 Mei

Ek is vroeg wakker. Lê en wonder hoe die tellery van die stemme gaan afloop in ons land oor die volgende paar dae. Met dié dat ons byna geen opvangs het hier in Ais- Ais nie, het ons ook geen idee wat in die wêreld aangaan  nie. Sal maar hoor as ons terug is in die Republiek.

‘n Blik op Suid Afrika vanaf Namibia

Vandag se plan is om Oranjemund te besoek en sommer daar oor die grens te glip Kleinzee toe.

Ons reis is nou besig om einde se kant toe te staan, maar ai ons het soveel belewe die afgelope paar dae. En daar lê nog ‘n lekker paar dae voor.

Dis die eerste keer ons biede se lewens dat ons in Oranjemund sal kom. Ons ry heel rustig en is verbaas om die mens se vernietigingswerk te aanskou. Berge het verander in woestynduine. Ek besef dat die nageslag ‘n letterlike woestyndeel van die land gaan oorhê na die mynbedrywighede gestop is. Die hele een kant van Suidelike Afrika is besig om te verwoestyn. Nie oor die temperatuur nie, maar wel die mens se werke.

Op pad na Oranjemund

In Oranjemund stop ons op aanbeveling van die Rinus en Helga gisteraand by die “Shepherds Lodge”. Die dametjie by ontvangs is ‘n wonderlike bron van inligting oor Oranjemund en ons besluit om al die plekke te gaan besoek wat sy voorgestel het. Een dag is definitief nie lank genoeg om als te sien nie. Die rivier, mere en see is vol voëllewe en dit is pragtig. Dis nou al die tweede keer dat iemand ons afraai om ‘n plek te gaan sien en ons dan verbaas is oor die prag van die plek as ons wel gaan kyk. Hier is dit weereens die geval. 

Shephards Lodge – Oranjemund

Dis ook die eerste keer wat ons ‘n gholfbaan sien regs langs ‘n meer en gedeel deur ‘n pad. Een helfte van die putjies is eenkant van die teerpad en die ander helfte aan die anderkant. Springbokke en Gemsbokke wei rustig op die grasgroen velde van die gholfbaan. So loop hulle dan ook in die middel van die dorp, ongesteurd en vry, voort.

Die hele middag ry ons rond en verkyk ons aan al die mooi. Hier is soveel om te doen dat ons laatmiddag eers weer terug is by die kamp.

Tussen Gholfbaan en die meer – Oranjemund

Omdat ons nie vleis en hout kan oorneem oor die grens nie, het ons besluit om sommer vanaand by die restaurant in die lodge te gaan eet. Ons is die enigste kampeerders en die atmosfeer is heerlik informeel. Die eienaar kom sit en gesels by ons terwyl ons wag vir die kos en het heelwat staaltjies te vertel. 

Kampering tussen die duine – Shepherds Lodge

Toe die kos kom, moet ek en Gert lag. Hier bedoel hulle GROOT as hulle sê ‘n hamburger is groot. Gert het ‘n dubbel hamburger bestel en hulle kom aan met een wat lyk soos ‘n koek en ‘n toestel wat lyk soos ‘n breinnaald wat al die dele bymekaar hou. Ek het gelukkig hoenderschnitzel bestel, want na twee weke van net bees en skaap, is ek nou lus vir hoender. Gelukkig ook maar, want Gert kry letterlik net een laag van die hamburger opgeët en moet toe maar vra vir ‘n tuispakkie. Hulle het ook ‘n hamburger met 4 lae vleis…. Sal graag wil sien of iemand dit kan baasraak. (Jy mag dit bestel maar nie deel nie). 

Na ete beproef ons die lodge se eie gemaakte likeurs en na ‘n bottel of wat gekoop is, sê ons nag en gaan sit heerlik by ons toertuig en koffie drink. By ons in die kamp loop ‘n gemsbok rond en vreet. Sy voetstappe is so sag, dat jy hom nie kan hoor loop nie. Maar sy kou klink soos die van ‘n perd. Toe Gert sy ogies laat rus en wegtrek met ‘n snork staan die gemsbok hom wantrouig en aankyk. Hy verstaan die vreemde situasie nie en weet nie of hy veronderstel is om te vlug nie. Toe Gert egter wakker word, begin hy weer rustig verder te vreet. 

Ons kruip vroeg in. Dit was ‘n dag vol verrassings en ons het baie gesien en beleef. Maar more wil ons vroeg op en gou nog ‘n paar fotos gaan neem voordat ons oor die grens gaan en ry om op Karoovlei te kom. Daar lê nog langpad voor.

10 Mei

‘n Blik op die Oranjerivier mond. Oorkant die rivier is Suid-Afrika

Ons is vroeg op en soos beplan ry ons eers gou bydie rivier aan om nog foto’s te neem en ook om ons voete in die yskoue Atlantiese oseaan te druk. Nou het ons amptelik die laagste punt in westelike Namibia besoek en ons is heel verras met die prag van Oranjemund. Dis ook hier waar ek en Gert die groot Swartborsduiker- migrasie bekyk. Duisende voëls is oppad na die noorde. Dit was nogal iets om te sit en aanskou.

Daarna ry ons gou deur die dorp om paar goedjies te koop en nadat die diesel aangevul is, (teen R3/l goedkoper as Suid-Afrika), vertrek ons oor die grens terug na ons eie land.

Die manne aan die SA kant is maar moeilik en als word baie goed deurgesoek. Elke moontlike deurtjie moet oopgemaak word en Gert moet baie verduidelik oor wat in elke hoekie en gaaitjie is. Ten einde laaste ry ons op hulle aanbeveling via Port Nolloth en Springbok terug Karoovlei toe. Gert sit rustig en eet die res van die vorige aand se hamburger terwyl ek bestuur. Langs die pad stop ons gou by ‘n plaasstal om  beesvleis te koop vir ‘n braai vanaand,maar hier bo is bees bitter skaars. Ons kry uiteindelik in Springbok so drie snitte om van te kies en met die vleis in die koelsak is ons sterk oppad.

Plaas Karoovlei – Lutzville distrik

Ons arriveer net voor 5 uur op die plaas. Pa het gelukkig vir ons almal heerlike skaapskenkels gaargemaak en met gemengde groente en vars brood is dit sommer ‘n bobaas plaasete. Die beesvleis sal maar oorstaan vir die volgende dag se braai.

Die dubbelbed hier op Karoovlei is vanaand ekstra sag en gemaklik. Die stilte en rustigheid na nog ‘n wonderlike reis is fantasties. Ons het baie gesien, ver gereis en soveel mooi herhinneringe maak dat die slaap vinnig kom. Hoop om gou weer so te maak.

0 comments on “‘n Kort verposing in Namibia

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: