
26 en 27 April 2019
Op pad
Dis Vrydagmiddag wat ons vroeg wegspring na ons lang beplande vakansie. Ons volg die “langs ou gebaande weë” en het besluit om oor te slaap in Kambro net buite Britstown.
Die pad is nie te besig nie en ons tap gou diesel in by Beaufort-Wes teen ‘n baie goedkoper tarief as in Mosselbaai. Mmm, laat mens dink nê! Rondom Beaufort-Wes is daar plase waar die reënwater in groot plasse lê, maar ander boere se plase lyk nog net so droog soos op die foto’s op die internet. Ons is dankbaar vir elke boer wat hierdie broodnodige reëns gekry het. Hoe nader ons aan Britstown kom hoe meer lê die poele. Ook hier is daar dankbare boere.
Dis reeds donker toe ons by Kambro aankom. Ons was darem nou al ‘n paar keer hier en dus neem dit ons nie lank om ons kampplek op te slaan en hamburgers gaar te maak nie. Gelukkig is die voorbereiding reeds tuis gedoen. Presies ‘n halfuur na ons gearriveer het, sit ons aan vir ons ete!
Ons staan gewone tyd op die volgende oggend. Gert is effe kroeserig en ons wil in Upington gaan kyk of ons iets vir sy verkoue kan kry. Maar eers eet ons ‘n heerlike ontbyt by Kambro se restaurant. Die gasvrou druk vir ons kwotasies uit, wat ons per e-pos die vorige middag oppad ontvang het. Regte Karoo hulpvaardigheid.
In Upington is die plekke egter meestal toe omdat dit ‘n vakansiedag is, en ons is genoop om maar by een van die groot kettingwinkels medisyne te koop. Daarna val ons weereens in die pad. Die laaste 251 km voel lewenslank. Ons lywe is immers nie meer die lang ritte gewoond nie.

Ons kom net voor sonsondergang by die Kgalagadi ruskamp uit en het net tyd om ‘n vuurtjie aan te slaan en ‘n ietsie sterkers te gooi, voordat ons die duin agter die kampplek opstap om die sonsondergang te bewonder. Ek het my mede kollegas ‘n pinkiefoto belowe op die duin. Moet my belofte nakom.
Daar is darem maar net min dinge wat by ‘n regte Kalahari sonsondergang kom! Ons sit vir ‘n lang ruk op die warm rooi sand en raak net rustig in ons binneste. Na ‘n heerlike vleisbraai (sosaties) klim ons doodmoeg in die bed. Slaap kom vinnig.
28 April
Ons is vroeg die volgende oggend op en net na die hekke oopgemaak het, is ons in die park. Dit neem nie lank om die formaliteite af te handel en deur die doane te gaan nie. Omdat ons so vroeg reeds in die kamp is, en die meeste kampeerders reeds vertrek het, is daar baie staanplekke om van te kies. Ons slaan gou vir ons die kombuistent op as plekhouer, drink ‘n koppie tee, en vertrek om diere te gaan kyk.
By Auchterlonie word daar gestop en heerlike ontbyt gemaak. Die diere is hierdie keer uiters min, en buiten dat dit die meeste gemsbokke is wat ons ooit gesien het in die park, is daar byna niks springbokke en blouwildebeeste te sien nie. Ons ry letterlik kilometers sonder dat daar enige wild te sien is. Maar tog geniet ons dit om weer in die park rond te ry.
Namiddag slaan Gert vir ons vuurtjie aan en maak die lekkerste stuk beesvleis gaar. Ons sit die aand rustig op ons kampstoele en bekyk die sterre en sateliete. Dis ‘n lieflike aand. Windstil en warm.
29 April
Vanoggend 5 uur word ons wakker gebrul deur ‘n regte Kalahari leeu! Ta wil ons net meedeel hy is in die omgewing. Ons is egter nou helder wakker en begin regmaak vir die dag. Toe die hekke oopmaak is ons reg om te ry.
Leeu se kind is nêrens in sig nie en die diere is nog minder as die vorige dag. Ons is egter gelukkig om die mooiste fotos van verskeie roofvoëls af te neem en deur die loop van die dag sien ons twee cheetas. Een net na ‘n vangs en nog besig om asem te skep en die ander een op die duinepad.

Ons stop weereens in Achterlonie vir ontbyt en vertrek toe terug kamp toe. Vandag neem ons ‘n middagslapie. Dis mos hoe mens vakansie hou! Die res van die middag word rustig buite gesit en gesels met mede kampeerders. Die weer is ongelooflik lekker en ons geniet weereens ‘n lekker aand buite onder die sterrehemel.
30 April
Vandag was ‘n beplande rustige dag. Ons wou slaap tot ons self wakker word en dan rustig kamp verskuif. Ons kon met ons bespreking nie 3 aaneenlopende dae ‘n kampplek met krag kry nie. (Tog was daar elke aand meer as 5 staanplekke waar niemand gestaan het nie) Wasgoed was is ook in die prentjie en dan wou ons die res van die dag lui-lui deurbring.
Maar soos mens mos maar is, is ek toe vroeg wakker en aan die gang. Gert slaap darem tot 7 uur. Teen agtuur het ons klaar die kamp geskuif, die wasgoed is in die wasmasjien en ons het al die skottelgoed gewas. Ek sorteer toe gou ons proviand vir die res van die week uit en maak daarna vir ons ‘n omelet met al die lekker goedjies, wat ek bang is gaan sleg word, daarin. Dis ‘n stewige ontbyt.
Gert besluit toe daar en dan dat ons maar eerder ‘n entjie gaan ry. Hierdie keer sonder enige verwagting dat ons iets sal sien, want gister was die wildkyk ongelooflik power. En toe kry ons die grootste verrassing!! Troppe en troppe springbok het oornag hulle kom tuismaak in die rivierloop, die Gemsbokke loop weer in oorvloed rond en by Kij Kij watergat kom 34 blouwildebeeste oor die duin na die watergat aangeloop. Daar is ‘n magstryd aan die gang tussen drie van die bulle en hulle jaag mekaar omtrent 15 minute rond. Dit gee ons fantastiese fotogeleenthede en is die beste wat ons ooit hierdie dieresoort kon afneem. Ek vind blouwildebeeste glad nie fotogenies nie! Vandag egter het ons ‘n skouspel aanskou wat ons nog nooit gesien het nie.

Vyf ure later kom ons terug by die kamp aan. Dis mos soos dit in ‘n wildreservaat gaan. Jy ry 5 ure aan 80 kilometers!
Vir aandete braai Gert vir ons weer heerlike beesvleis en met paar vars slaaie kan mens mos nie anders as om dit te geniet nie. Die weer is absoluut fantasties.
Ons het egter ten lot geval om’n buurman te hê wat van sy eie bulderende stem hou en net nooit ophou praat nie. En hoe meer die voggies hoe slimmer die man en natuurlik hoe harder die stem. Van ‘n rustige stil aand is daar vanaand nie sprake nie. Al die kampeerders om hom is stil, want hulle luister maar noodgedwonge na sy staaltjies!
1 Mei
Vroegoggend word ons wakker gemaak van kasdeurtjies wat oop en toegaan. Dis sowaar al kwart oor 6. Ons spring op en begin regmaak, want vandag moet ons deurry Nossob toe en daar gaan kamp opslaan.
Dis net na 07h30 toe ons vertrek. Nou is daar stringe motors voor ons en met die windstil oggend is dit net stof waar jy kyk. Net anderkant Leeudril is daar ‘n klomp motors wat die hele pad volstaan. Ons kan nêrens verby nie. Dit neem ‘n volle 10 minute voor die motors ons kans gee om deur te beweeg. Die oppenhoud is toe ‘n luiperd wat so pas sy prooi gevang het en besig is om dit in die boom in te sleep. ‘n Pragtige dier, maar ons kry ongelukkig geen kans om ‘n foto te neem nie. Soos iemand later in Nossob sê, “die beste foto bly maar in jou kop”
Die berugte pad na Nossob doen weereens sy naam gestand en my tandarts verdien komplimente, want geen vulsels stamp uit nie. Ons kom net na twaalfuur uiteindelik in Nossob aan.

Die dametjie by ontvangs verwittig ons van al die veranderinge in die kamp. Daar het regtig baie dinge verander in die laaste twee jaar vandat ons hier was. Die ingang is verander en die uitgange na die noorde is ook verlê. Daar is nou luukse kampplekke met elk hul eie amblusiegeriewe en huisies op die rivierwal wat uitkyk op die watergat (wat ook intussen verskuif het.)
En sê die dametjie, so terloops, “daar lê huidiglik twee leeus by die nuwe skuiling”. Net nadat ons kamp opgeslaan het, gaan bekyk ons die nuwe skuiling. Sowaar die een leeu is nog daar en lê sowat ‘n honderd meter van die skuiling. Na net sowat vyf minute raak ta verveeld en kom lê so 5 meter van ons af by die skuiling onder ‘n boom. ‘n Beter fotogeleentheid kan jy nie voor vra nie. Dit gons van die neem van fotos deur al die kampeerders en dit klink soos “royalty” so word daar gekiek. Is leeu se kind dan nie die “koning” van die diereryk nie?

Na ‘n broodjie en koffie, neem ek eers ‘n middagslapie, want buite is dit nou 33.4 grade. Gert laat soos gebruiklik sy oë rus terwyl hy agteroor in sy leunstoel lê. Daarna pak ons koue koeldrank in en gaan ry na twee watergate noord van Nossob. Weereens is daar byna geen diere te sien nie, maar by die een watergat sit ‘n Bateleur en water drink en Gert kry pragfotos geneem.

Laatmiddag is ons terug by die kamp en terwyl ek gou pap en sous maak, braai Gert vir ons kerrie- sosaties. Die nou bekende blafgeitjies is doenig soos die son sak en in die verte is ‘n koor jakkalse hoorbaar. Die volgende oomblik draf jakkalse in die kamp rond. Ons hoor later hier is vier jakkalse wat parade doen en als vreet wat hulle in die hande kry. Ons word gemaan om als weg te sit, want hulle eet tot jou vrugte en skoene as hulle dit in die hande kry.
Na ete gaan sit ons met ons bekers koffie in die skuiling. Soos meeste van die tyd is dit slegs jakkalse en ‘n paar springbokkies wat rondom die verligte watergat te sien is. Ons geniet ons koffie in stilte en sit tot ons voel ons ogies trek ook water.
Wat ons gedink het ‘n rustige nagrus sou wees ontaard toe in ‘n op en wakker nag. Twee pare leeus kom al brullende in volle bors agterom die kamp gestap. Die hele kamp is wakker (en later sou ons uitvind die helfte van die kampeerders was by die skuiling na hulle wakker gebrul is.) Vir twee ure daarna roep die pare leeus nog na mekaar. Wat ‘n wonderlike ondervinding.
2 Mei.
Die idee is om vanoggend noordelike rigting te ry en hopelik gisternag se leeus te sien. Ons is redelik vroeg op, maar vandag is ons traag om aan die gang te kom. Rondom die hek is die vars leeuspore nog te sien en dis met groot versigtigheid dat ek die hek oopskuif vir my man om deur te ry. Ons kry egter geen leeus te siene nie.
Weereens is die wild baie min en yl verprei oor die hele 74 Km wat ons ry. Ons eet ‘n ontbyt by Polentswa se piekniekplek en verwyl ‘n tydjie daar voor ons terugry kamp toe. By die kamp sit ons rustig rond en Gert peuter met die bakkie. Hy pobeer agter die kap van ‘n irriterende getjirp uit die bakwerk kom. Kry later die los stukkie bakwerk wat hom pla, maar het nie die regte boudjie om dit weer vas te draai nie. Ten minste weet hy nou waar die oorsprong van die irritasie is. Iets wat ons tuis weer sal regstel.
Laatmiddag braai Gert vir ons stertstuk oor die kole en met ‘n braaibroodjie is dit vir ons ‘n heerlike feesmaal. Daarna gaan sit ons met ons kameras en koppies koffie in die skuiling. En sowaar, ons sien meer wild wat kom water drink hier by die watergat, as wat ons heeldag op die pad gewaar het. Tot bruin hiënas wat ons nog selde raakgesien het. In die skuiling is Willem Pretorius besig met fotos neem en hy help Gert uit om die regte kameraverstellings vir sy lens te kry in hierdie lae lig situasies. Nou is daar van vroeg slaap geen teken nie.

Tot bakoorjakkalsies kom drink water. Later kom ‘n bruin hiëna aangesleep. Iewers het hy sy rug beseer in ‘n skermutseling en albei sy agterbene is duidelik verlam. Hy kom suip ‘n tydjie en die erns van sy situasie maak my nogal hartseer. Die besef dat hy dit nie meer lank het om te oorleef nie, en dat ons dalk sy laaste ou watersuiping kom sien het, raak my nogal aan. Maar dis die natuur en ek kyk hom aan tot hy sy lyf terugsleep doer ver die bosse in. Hy roep na maters doer ver en maak snaakse roepgeluide. Dan raak die nag stil. Die skuiling is later propvol mense, en laatnag staan ons op om te gaan slaap, moeg maar tevrede.
3 Mei
Vandag is dit ‘n rustige dag. Ons het nou al die park goed deurgery en omdat ons weet dat ons môre Mata Mata toe moet ry, is die plan dat ons net rustig sal wees. Dalk later ‘n watergat of twee sal bekyk en dan brooddeeg knie vir roosterkoeke.
Dis heerlik om sommer net so’n lui dag te hê en net te rus. Na ‘n rustige nag, en ‘n lekker groot ontbyt, het ek uiteindelik tyd vir tittewyt en om als weer reg te pak en uit te sorteer vir die week wat voorlê. Toe ry ek en Gert uit na die watergate en gaan kyk of daar iets vreemds is om te sien. Ons kry weer ‘n paar mooi foto’s geneem, maar die diere is nog steeds uiters min.
Gert knie gou vir my die degie vir roosterkoeke en die res van die middag verwyl ons rustig deur almal rondom ons te bekyk. Hy steek vroeg vuur aan en na hy die wors gebraai het, kry ek tyd om die roosterkoeke te braai. Dis heerlik.
Na ete gaan sit ons weer in die skuiling, maar vanaand gaan daar nie veel aan nie. ons sit vir ‘n uur en ‘n half. Die bruin hiëna roep sonder ophou na sy maat, maar vanaand is daar geen antwoord nie. Ek wonder of die maat met die gebreekte rug die dag oorleef het.

Ons besluit om maar vroeg te gaan inkruip. Op pad na die kamp hoor ons skielik nog hiënas roep. Pragtig. Maar ons draai nie weer om vir fotos neem nie. Die bed roep.
4 Mei

Dis vroeg aan die gang kom en oppak om deur te ry Mata Mata toe. Toe gaan groet ek gou my nuwe kampvriendin Bokka met wie ek saans gesit en klets het. Sy skilder pragtig en ek gaan loer sommer gou hoe sy gevorder het. Dis ongelooflik hoe lewensgetrou die leeus is wat sy skilder.
Oppad na Mata Mata stop ons soos gewoontlik by ‘n piekniekplek en maak iets lekkers om te eet.
Ons sien weereens byna geen diere nie. Dit geluk ons wel om ‘n paar kameelperde te sien. En ‘n leeu onder die boom, maar hopeloos te ver vir ‘n fotogeleentheid.

Soos altyd neem dit ons nie te lank om deur die grenspos te gaan nie. Ons wou graag oorbly in Mata Mata maar kon nie plek kry nie. Gelukkig het ons plek gekry by Sitzas net buite die hek van Mata Mata. Daar gekom, koop ons sommer drie pakke vleis en braaihout, want oor die grens mag nie een van die twee geneem word hierdie jaar nie. Ons pak gou als reg en toe slaan Gert vir ons ‘n vuuertjie aan. Skaaptjoppies het lanklaas so lekker gesmaak!
Later die aand besluit ons twee om met lae lig fotografie te speel en so glip die ure sommer gou verby. Moeg maar gelukkig kruip ons in die bed. Ons was weereens in een van ons geliefde Nasionale Parke en is nie teleurgesteld nie. Nou wag ‘n paar rondrits dae in Namibia.

Deel 2 van die reis in Namibia volg…..
0 comments on “Die Kgalagadi”