
31 Julie 2109
My Buurman het ‘n leuse : “Life is what happens when you make other plans”. Daai motto het deur baie jare ook ons sin geword. So begin ons dan hierdie jaar met die vraag oor wat hierdie jaar vir ons sal bring.
Ek en my manlief praat al vir paar jaar oor wat ons sal doen as ek eers “uitgetree” het . Ek was nou baie naby aan my offisiële aftreedatum. Met baie meer af dae en meer tyd vir beplanning wou ons gaan toer en die lewe ervaar. Wel dit was die plan, en ons het alles begin regmaak sodat ons in dié denkrigting kon beweeg.
Maar toe kom daar uit die bloute ‘n werksaanbod wat my man nie kon weerstaan nie. My ou man wat so geheg was aan sy werk, huis, roetine en Mosselbaai sê sonder om te dink, na 23 jaar, “Ja”! Dis eers toe ons vanuit die Kaap terugry huis toe en ek en hy begin gesels, dat hy regtig die besluit begin uitpluis en die voor en nadele begin oorweeg. En hoe verder die pad, hoe groter sy opgewondenheid.
Terug by die huis begin sy studie in die nuwe rigting in alle erns en ‘n besluit oor die posisie in die Kaap moet gefinaliseer word. Eindelik word dit tyd om te besin oor die huis: Sal ons verkoop of verhuur. ? Ons gaan sien ‘n eiendomsagent en vroeg die volgende oggend laat sy ons weet dat sy reeds ‘n moontlike koper vir ons huis het. Dit is vir ons die antwoord op ons vraag, en die huis is daarna vir skaars 2 weke in die mark, voordat daar ‘n koopaanbod kom en ons dit aanvaar.
Daarna is dit ‘n geskarrel om alles in orde te kry vir die verkoop. Ons moet die huis oorverf, alle sertifikate moet verkry word, die elektrisiteit moet op standaard kom, die tuin moet uitgesorteer word. Daar is so baie om te doen.!
Ons gee verlengde kennis by ons onderskeie werke voordat ons vir ‘n kort vakansie vertrek, want ons reeds die vorige jaar bespreek en betaal het. Dit bring ‘n welkome wegkom van al die geskarrel voordat die trek kom. Dit gee ons ook die geleentheid om met ons terugkeer van die vakansie af, die toekomstige woonhuis wat ons huur te kom bekyk. Dié is sommer met die hulp van my skoonsus in ons afwesigheid bekyk en goedgekeur. Nadat ons die huis en die omgewing goed bekyk het, kom lê die rustigheid in ons gemoed. Ons weet dat ons die nodig aanpassing sal kan maak. Die onstuimigheid in my binneste oor die skuif na die grote stad kry uiteindelik sy lê.
Na die vakansie begin die volwaardige pak. Elke dag probeer ons om ten minste twee dose in te pak. Oneindige klomp onnodige en ekstra goed kry nuwe base. Die grootste bron van kommer is die motorhuise en die werkskamer. Dit word die een langnaweek aangepak nadat ons ‘n ‘skip” gehuur het vir die week. Omdat my man houtwerk gedoen het, is daar,na al die jare se opgaar, baie hout en skroewe en pype en dies meer. Ons laai die hele oggend, maar die straatfeëtjies laat dit wat ons daar inpak, weer net so vinnig verdwyn. Na 3 dae van die bak te probeer volkry begin die bure ook maar help om van hulle ekstra goed ontslae te raak. Wat ook maar weereens verdwyn. Die een se weggooigoed is definitief die ander se wins.
Ek kry hulp om my te help om die motorhuis in die middae skoon te maak, te verf en die oorblywende goedjies te pak. Manlief het een van die besigste maande wat sy werk betref. Dit raak vir my ‘n roetine van werk in die oggend, huis toe gaan, gou iets eet en dan begin om die motorhuis se verwery klaar te kry. Na die week se harde werk en arbeid, is ons heel tevrede met dit wat ons bereik het.
Die weke vlieg verby en die balans tussen werk en pak maak dat ons voel ons het nie meer genoeg ure in die dag nie. Toe kom die groet van ou vriende en kollegas. Dit is onlekker, maar ons maak mooi herhinneringe vir oulaas.
So ‘n paar dae voor die trek, skuif my werwelkussingkie en ek beleef ‘n paar baie onaangename en pynlike dae. Die pakkery moet klaarkom, daar is geen genade nie!
Die laaste oggend staan ek in my mooi kombuis en bekyk die dose wat in die ingangsportaal opmekaar gestapel staan. En die besef is skielik daar dat my en my manlief se hele lewe in daardie paar dose bymekaar gegooi is. Die meubels lyk gestroop en kaal. Die motor en ons toertuig is letterlik tot bo die dak gestapel met al die goed wat ons nie in die lorrie kon of wou laai nie.
Dit neem die manne wat die trek doen, ‘n hele paar ure om die vragmotor gelaai te kry. Daarna is dit die matte skoonsuig, die vloere vir oulaas was en toe begin die lang pad Kaap toe. Ons ou Puggie het die hele dag in die motor gelê en geweier om uit te kom. Sy kon nie verstaan wat aangaan nie. Nou lê sy in haar karstoeltjie en bekyk die wêreld, te bang om te slaap en iets te mis. Ons maak een stop in Worcester, kry vir ons iets te ete, loop ‘n entjie met ons hond sodat sy kan litte losmaak en haar besigheid doen, en toe val ons in die pad. Die laaste 2 ure is moeilik omdat dit donker word, en ons kom baie laat by ons nuwe huis. Gelukkig is ons “landlady” daar en ontvang ons vriendelik en maak seker dat ons reg is vir die nag. Hulle het vir ons slaapplek beskikbaar gestel, maar omdat ons hondjie nie die huis ken nie en reeds so ontwrig is met die dag se gebeure, het ons besluit om die aanbod weg te wys.
Ons pak die ekstra en onnodige goed uit die toertuig in die motorhuis, kry ons Pug se bedjie reg en klim doodmoeg in ons bed in die toertuig. Ons slaap deurnag, ongesteurd, langs ons nuwe blyplek.
Vroegoggend,donkertyd, maak die hoenders en koeie ons wakker. Ons bly op die rand van Durbanville, omring van plotte en plase! Ons Pug is nou lus vir verkenning. Ons gaan sluit die huis oop en laat haar toe om die wêreld te verken.
Sewe uur daag die vragmotor met ons meubels op, gereed vir die groot aflaai. Ons nuwe avontuur begin! Ons wat gedink het aan aftree, het geskuif na die stad. Ander probeer juis daarvan wegkom. Dis voorwaar ‘n geval van ‘n besluit geneem en toe gebeur die lewe.
“Life is what happens, when you made other plans”
0 comments on “As die lewe gebeur”