Ons eerste kamp van 2019
Ai die lekkerte van kamp! Daar is nou maar eenmaal niks so lekker as die vooruitsig om jou tent op te slaan of jou toertuig of karavaan of wa te vat en iewers, doer in die boendoes, ver van als, te gaan nes skrop vir ‘n naweek of week nie.

Daar is iets terapeuties aan die beplanning van ‘n kamp. Dalk is dit die regmaak en die pak van toerusting. Dalk is dit die drome wat mens droom of die vooruitsigte van die kuiers om ‘n vuurtjie, met ietsie kouds (of warm) in die hand. Wat ookal die rede is, dit is nou die tyd vir almal, wat Desember maand maar eerder tuis gebly het, om uit hulle “gate” te kruip en reg te maak vir ‘n lekker kamp.
Die weerman se voorspelling is egter nie so gunstig vir die naweek nie. Ten spyte daarvan besluit ons om tog maar te gaan. Riverside is nie so ver van die huis af nie, en as ons regtig besluit die weer raak te onplesierig, kan ons weer terugry.
Die kampterrein is teen die rivier geleë en bied al vir jare ‘n veilige uitspanplek aan sy lede. Hier is huisies te huur, kampplekke en ook plek vir dagbesoekers. Beheer word goed toegepas.
Hier is ook ‘n restaurant, ‘n buite area met verskeie braaiplekke, wat gebruik kan word vir funksies, troues, ens. Die winkeltjie verskaf hoofsaaklik roomys, koeldranke en lekkergoed. Dis eintlik maar net ‘n plekkie waar die kinders bietjie aan iets anders kan gaan peusel. ( As die koekieblikkies vol van ma se lekker koekies te eentonig raak.)
Die ablusie en opwas geriewe is al oud, maar dit word mooi skoon gehou. Tog is dit duidelik dat opknappingswerk een van die dae aan als gedoen sal moet word om dit op standaard te hou.
Ons kamp saam met ons bure Jannie en Stompie. Buurman se toertuig het so ‘n bietjie van ‘n hik nadat hy sy petroltenk laat skoonmaak en herpas het. Hulle het Vrydagmiddag solank vooruit gery en ‘n staanplek gaan kry, want die weerman voorspel erge wind en reën. Die weerman se voorspelling is toe sowaar in die kol, en ons haal net die nodigste goed uit na ons aankoms.

Omdat ons bang was dat die weer nie lekker sou wees nie, het ons al tuis besluit dat ons hamburgers sou maak vir aandete. Dit kom ons nou handig te pas. Ons het ‘n heerlike aand van kuier en gesels binne die Camper, weg uit die wind.
Saterdag is die wind baie beter, maar kort kort, deur die loop van die vroeë oggendure, stuif daar so ‘n paar druppels neer, uit oorvol wolke. Ons slaan die Camper se afdakkie op en die res van die dag kuier ons heerlik buite.

Ons speel bordspeletjies en manlief braai later vir ons heerlike skaapvleis. Later kom kuier vriende en dit word ‘n gesellige laatmiddag.

Kuiertjie saam met vriende
Sondag breek aan en dit is ‘n lieflike dag. Baie dagbesoekers kom besoek vandag die kamp. Dit is heerlik om die kinders te sien speel in die swembad, of vis vang in die rivier. Dis ook die dag wat baie van die kampeerders se einde van ‘n lang vakansie aangebreek het, of wat vroeg kamp opslaan, om betyds terug by hulle huise te wees. Dit bly maar interessant om almal so te sit en dophou.
Buurman braai later vir ons heerlike beesvleis. Ons vrouens slaan sommer kitsslaaie aanmekaar. Dis reeds laatmiddag toe ons ook maar effe teësinnig kamp opslaan en terugry huis toe.
Langs die pad gee buurman se Camper baie probleme en met “rukke en stote” kom hy darem tot in Mosselbaai. Ons dek heelpad die agterhoede met ons waarskuwingsligte aan. In Mosselbaai aangekom, besef ons, dat ons maar sy Camper sal moet insleep tot by sy huis, want die steil bult lê voor. Dit maak nogal ‘n mooi prentjie, die twee toertuie so bymekaar…ek wens ek het ‘n foto geneem. So kom nog ‘n wonderlike kampnaweek op ‘n einde.
Julle steek ‘n mens sommer aan. Dis duidelik julle het ‘n opregte kapasiteit vir genieting van enige van julle vakansies! ‘n Gawe van bo.
LikeLike