
Die paar dae by die Kamdebo nasionale park het hopeloos te gou verbygegaan, maar ons sien uit na die nuwe avontuur.
Ons het besluit om eers by die Uilhuis in Nieu-Bethesda om te gaan. Dit is een van die plekke wat almal sê jy eenkeer in jou lewe moet besoek. En as mens nie tyd maak vir die afdraai nie, kom jy net nooit daar uit nie. Dit is ook nie te ver van Graaff-Reinet geleë nie. Omdat mens eers later kan inbespreek in die Nasionale park, is hier ook geen sprake van haastigheid nie.

Dit is al bloedig warm toe ons vroegoggend by Nieu-Bethesda aankom. Die dorpie self is pragtig. Vandag is dit middel van die week en hier gaan weinig aan. Die hitte maak dat almal eerder binneshuis bly.

Na ‘n kort filmvertoning gaan stap ons deur die Uilhuis en neem foto’s. Die hele storie van Helen Martins se lewe gryp my aan, en soos ek deur die huis stap kan ek die donkerheid in haar siel verstaan, maar ook die lig. Dit is baie insiggewend en ons neem baie foto’s, maar ek weet ook dat hierdie besoek nie sommer gou weer herhaal sal word nie.
Op ons kaart word die pad vanaf Nieu Bethesda aangetoon as ‘n grondpad, en ons is verras om te sien dat dit eintlik ‘n goeie teerpad is. En die rigtingwysers na die Nasionale Park is sommer al 60 km voor die tyd sigbaar! Met my agter die stuur en die geluid van die wiele op die teer is dit nie lank nie, of manlief sak weg in ‘n diep slaap.
Dag 1
Dit is net na eenuur toe ons by die park aankom en nou weet ons, ons is weer in ‘n goed georganiseerde parkeraad park. Als is soos ons dit ken van die parke, van die ontvangs, die winkel, restaurant tot by die huisies en die kampeer terrein. Ons is verras met die uitleg van die kampeer terrein.
Nadat al die formaliteite afgehandel is en ons die kombuistent opgeslaan het as plekhouer, ry ons rustig deur die park op een van hulle vele roetes. Ten spyte van die redelike vol kampterrein en volbespreekte huisies, is die park so groot dat daar nooit baie voertuie is op een spesifieke pad of by een spesifieke watergat of dam nie. Dit maak die ervaring net soveel aangenamer. Dit voel byna asof dit net julle in die grote park is.

Nadat ons vir ‘n paar ure rondgery en heerlik wild gekyk het, is ons terug kamp toe. Hierdie keer het ons kamp bure en na ‘n vriendelike gegroet en kort geselsies is dit vuurtjie aansteek vir die braai. Ons het net die vuurtjie aangesteek toe ons die jakkalse hoor skree. (Iets wat ons elke aand gehoor het met sonsondergang) Wat ‘n wonderlike voorreg om hulle in ‘n park te kan hoor. Iewers roep ‘n Piet-my-vrou sonder ophou …opsoek na sy maat.
Na aandete gaan stap ons rustig deur die kamp. Hier kan mens baie ver stap omdat die kamp en verblyfdeel van die park so lekker groot is. Die aandlug is heerlik en die hitte van die dag slaan nog op van die teerpad. Dis ‘n groot voorreg om so deur die groter park te stap met die sterrehemel bo jou en die natuur om jou. Met die baie lig vanaf die huisies, tente en paadjies wat verlig is, is dit egter nie so maklik om die sterre te sien en sateliete te volg soos by Kamdebo nie, maar ons sit tog tot laat die aand en sterre kyk. Ons gaan slaap die aand met al die vensters van ons tent heeltemaal oopgetrek.
Hier teen 2 uur kom ‘n verbasende koel luggie afgesak teen die berge en ons kruip onder die donskombersie in. Die Piet-my vrou is teen hierdie tyd al hees geroep en die aanhoudende geroep maak dat ek droom van ‘n alarmklok wat bly afgaan. Ek word ‘n paar keer daarvan wakker. In die nagstilte is die geroep ver hoorbaar. Ek trek die donskombers egter oor my kop en raak later weer rustig aan die slaap.
Die nuwe tent het een voordeel, dit is gemaak van ‘n baie ligte materiaal wat beteken dat jy kan sien dat die son opgekom het al is al die vensters toe. Dit beteken ook dat manlief nie, soos gebruiklik, laat slaap as ons kamp nie. Hy sit ook nou, soos ek, en kyk hoe die ander kampeerders rondom ons ontwaak, met sy koffie en beskuit in die hand. En so is ons elke dag sommer vroeg vroeg reg om die dag aan te pak.
Dag 2

Mountain Zebra park het ook ‘n paar 4×4 roetes wat mens kan ry en ons het besluit om elkeen van hulle aan te pak. Daar is egter een pad wat parkeraad ons afraai om te ry (die Umngeni roete), omdat ons alleen is en ook omdat ons toertuig te swaar gelaai is. Dus volg ons hulle raad en ry elke dag ‘n ander roete wat hulle vir ons gemerk het in volgorde van moeilikheidsgraad. (Algemeen was hulle almal wat ons wel gery het, tussen graad 2 en 3). Dit is heerlik om hierdie agterpaaie te ry en ons sien baie Zebra’s en Blouwildebeeste, Springbokke, Koedoes en verskeie voëlsoorte.

Ons eerste 4×4 roete wat ons ry is die Sonnerust roete. In ons poging om een van die leeus te sien waarvan ‘n mede kampeerder ons langs die pad vertel, ry ons die ingangsroete vanaf die Ubejane sirkelroete mis. Tien kilometers later moet ons omdraai toe ons besef ons het verkeerd gery. Nou ja, as mens die grotes wil sien en die koors is hoog, dan doen mens dom dinge.
Die Sonnerust roete is glad nie erg nie, want huidiglik is die vallei se pad droog, maar aan die diep vore wat vorige bande hier gegrawe het, is dit duidelik dat dit ‘n perd van ‘n ander kleur sal wees as dit hier gereën het. Ons stop by die uitkykpunt en Gert neem vinnig ‘n foto. Hier lê baie droeë leeumis onder die bome en hy voel maar ongemaklik. Die wild hierdie kant van die park is egter min, maar mens kan nooit te gerus raak nie.

Soos altyd neem dit ons ‘n paar uur om die roete te ry. Dit is baie warm en ons besluit om eerder te kyk hoe lyk die piekniek plekke onder in die vallei. Ons ry by die piekniek plekke aan en besluit sommer daar dat die een plek ons nuwe uitspan plek sal word met die groen bome en dammetjie met ‘n paar waterskilpaaie. Na ‘n heerlike middagete wat ons sommer hier onder die bome aanmekaar slaan, besluit ons dit is tyd vir ‘n middagslapie. Die voordeel van ‘n toertuig is jou huisie is mos sommer op die bakkie. Ek slaap heerlik.

Nadat ek vir ons ‘n heerlike koppie koffie gemaak het, gaan sit ons vir die res van die middag by die Doornhoek dam, nie ver van die kampeerterrein nie. Dit is heerlik verfrissend om hier onder die bome en naby die water te parkeer en dit bied lieflike foto geleenthede.
Terug by die kamp, is ek lus vir roomys en ons ry gou by die winkel aan. Daar is darem niks so lekker soos die soet koelte wat teen mens se keel afgly na so ‘n warm dag nie.
Die jakkalse roep digby die kampheining met sonsondergang. Nou ‘n bekende geluid.
Dag 3

Ons is vroeg uit die bed, want vandag wil ons die staproete gaan stap. Die weerman het voorspel dat dit weereens ‘n baie warm dag gaan wees en ons is net na 5 uur al ernstig oppad na die roete. Dit is ‘n heerlike oggend en ons is die enigste stappers vanoggend. Gelukkig is dit nog koel, want hierdie is nogal ‘n stywe klimroete om te stap. Ons sien heelwat wild, en ook bobbejane (wat gelukkig nie nader na die kampplek gekom het nie).

Bo op die berg kom ons agter hoekom die Piet-my-vrou so onophoudelik roep, want hier van bo die koepelrots kan ons hom sien en hoor en die eggo’s weergalm tussen die koppies deur. Arme ding roep en hy hoor homself dan antwoord. Gelukkig is hy toe versteur omdat ons bo op die koepelrots is en ons hoor hom van toe af nie meer nie.

Ons gaan sit na die roete met ons voete in die koue swembadwater en geniet die oggendstilte. Daarna draf ons deur die ablusieblok voordat ons in die pad val na die piekniek plek toe. Daar gekom maak ons heerlike hamburgers en vertrek toe na die volgende 4X4 roete.
Die Juriesdam roete is bietjie meer tegnies en ons sien heelwat wild. Vandag is ons egter 3 voertuie op hierdie roete. Die grootste teleurstelling is egter dat mens op geen manier by die dam kan uitkom nie. Dit is wel van bo in die berge sigbaar. Ai was ons spyt oor die moontlike foto geleenthede.
Ons besluit wyslik om die res van die middag op een van die wildkykroetes te ry sodat die hitte nie vir ons te erg raak nie.

Dag 4
Vandag is ons rustiger. Ons het nou die 4X4 roetes gery wat ons wou ry en ons het nog net een deel van die park nie gery nie.
Die Kranskop roete is baie steil en met tye raak ek erg benoud met die afgronde so steil en naby die bakkie. Gelukkig is Gert nie bang vir hoogtes nie. Die natuurskoon is ongelooflik!

Ons ry na ons gewilde piekniekplek toe en daar vat Gert ‘n middagslapie onder die bome.

Ek neem foto’s en ‘n paartjie van Switserland kom knoop later ‘n geselsie aan. Ons gesels oor al die wild wat ons gesien het hierdie week. Hulle toer al oor die 20 jaar alleen jaarliks in ons land. Alleen. En die man is hierdie jaar 81 jaar oud! Wil gedoen wees. Hulle moes net hulle toere bietjie aanpas, sê hy, want die tannie het ‘n heupvervanging gehad die vorige jaar en sy kan nie meer in die daktent slaap of leertjies klim nie! So hulle slaap nou in huisies. Ek haal my hoed vir hulle af. Twee reisigers so na my hart.
Laatmiddag gaan sit ek en Gert weer by die dam. En jou waarlik, meer as veertien buffels kom drink water. Ons sit en kyk hulle vir ‘n kwartier en toe verdwyn hulle weer die bosse in.

Dis ons laaste aand in die kamp. Ons besluit om die vakansie af te sluit met ‘n ete in die restaurant. Die luggie op die stoep is koel en die kos is heerlik. Oudergewoonte gaan stap ons weer deur die kampterrein en hierdie keer tot by die swembad. Ten spyte van die hitte het ons nie een keer kom swem nie, daar was net te veel om te doen en te sien. Ons het dit waarlik baie geniet in hierdie kamp.
Laatnag stap ‘n groterige kat geruisloos deur die kamp en vlak by ons toertuig verby. Iewers roep die jakkals. Buite waai ‘n koelerige windjie. Dis ‘n heerlike aand.
Ons word wakker van die gebrul van ‘n leeu! Ons is vroeg opgepak en toe die hekke oopmaak is ons oppad. Maar van ta is daar niks spore nie, alhoewel die mense sê hulle het ‘n paar leeus gesien. Ons gaan maak eers weer gou ‘n draai by die Ubejane sirkelroete om te kyk wat te siene is. Nie ek of manlief is lus om hierdie park te verlaat nie. Maar die huis wag…
So gou as wat ons weer die kans kry sal ons hier vir ons ‘n plekkie bespreek. Die rustigheid van die park, die diere, die verskillende biome, letterlik alles hier het ons harte gesteel. Ons kom definitief weer terug!
0 comments on “Mountain Zebra National Park. /Bergkwagga nasionale park.”