Die Aspoestertjie van die Nasionale parke – Graaff-Reinet

Dis met groot opgewondenheid dat ons in die pad val na ons ‘n maand lank gewerk het om ons toertuig weer op standaard te kry en toergereed te kry. Ons nuwe tent is net betyds klaargemaak deur Fred, ons tentmaker, en ons is hoogs in ons skik om met ons “nuwe” huisie op toer te gaan.
Die plan hierdie keer is om twee Nasionale parke te besoek waar ons nog nie vantevore was nie. Die eerste park is die Kamdebo Nasionale park by Graaff-Reinet en dan na ‘n paar dae gaan ons deurry na die Mountain Zebra National Park in Cradock.

Ons begin die reis deur al met die agterpaaie te ry. Natuurlik kan ons nie die reis begin sonder dat ons eers ‘n heerlike ontbyt geëet het in George nie. Daarna ry ons oor die Montaque pas waar die verwoesting van die groot veldbrande in Oktober nog swart en sigbaar is. Ons is verstom oor hoe sleg die berge gebrand het en hoe min plantegroei nog oor is. Jare se herstel lê nou voor.
Kamdebo is in drie dele opgedeel wat rondom Graaff-Reinet geleë is wat dit nogal verwarrend kan maak vir die reisiger wat nog nie vantevore daar was nie.
Nerens op die paaie of selfs in Graaff-Reinet is enige borde met aanwysings na die kampterein nie. Daar is slegs aanwysingsborde wat jou meedeel dat jy in die Nasionale park is en aanwysings na die een deel van die park namens die Valley of Desolation. Gewoond daaraan dat die nasionale parke genoegsame inligtingsborde het is ons dus nie bekommerd dat ons kan verdwaal nie.
Dit blyk toe nie die geval te wees nie. Ons GPS neem ons ook heel eerste na die verkeerde hek. Dit kos ons omdraai en weer deur die dorp ry en kyk of ons die regte bord kan kry. Die manne by die petrol stasie raai ons aan om na die Valley of Desolation te ry. Daar aangekom verduidelik die hekwag ons dat ons weer terug deur die dorp moet ry omdat die kampterrein op ‘n heel ander pad is. Op die ou einde het ons ‘n uur gemors deur na die verkeerde hekke te ry. Iets waaraan Graaff-Reinet en die Parkeraad definitief aandag kan gee.
Die ontvangskantoor is ook nie die standaard wat ons gewoond is van die Nasionale parke nie. Die gevoel is amper asof jy by die Munispale kampterrein opgedaag het. Was dit nie vir die vlag en die parkeraad se voertuig nie, sou jy jou nie kon indink dat jy by ‘n Nasionale park is nie. Die kaartmasjien werk nie, want die datalyn is te stadig en ons word aangeraai om die nodige formaliteite die volgende dag te kom afhandel.

Die kampplek is egter prakties uitgelê en baie netjies en die amblusie en kombuisgeriewe is skoon. Hier is permanente tente in ‘n aparte deel van die kampterrein wat pragtig onderhou word. Die hele terrein is omring met elektriese heinings en daar is ‘n sekuriteitswag wat diens doen bedags om seker te maak geen snaakse elemente kom die kampterrein binne nie. Die kamp is matig vol en die atmosfeer is rustig.
In die kamp is ‘n dek gebou van omtrent 3 meter hoog waar jy kan gaan sit en oor die riete na die natuurskoon kan kyk. Ongelukkig met die min water in die dam is hier egter nie nou te veel te sien nie, maar ek kan my indink watter pragtige prentjie dit sal maak as die dam voller is, en watter voëlparadys dit moet wees.

Dis heerlik warm en nadat ons kamp opgeslaan het, is dit tyd vir vleisie braai. Na aandete en met die koeler lug, gebruik ons die kans om rustig deur die kampterrein te stap en om bietjie bene te rek. Ons gaan slaap met al die vensters oopgetrek vir effens koeler aandluggie.
Sondagoggend
Toe ons die week bespreek het, het ons nie geweet dat dit een van die warmste weke vir die somer sal wees met temperature bo die 40’s nie. Ons wil dus by die uitkykpunte kom voordat die son te hoog is. Die oomblik toe die hekke oopmaak is ons uit en ry die afstand tot by die Valley of Desolation. Hier is die harde werk van Parkeraad duidelik sigbaar in die teerpaaie en geskraapte grondpaaie. Dit neem nie lank om by die uitkykpunte te kom nie en is bereikbaar met ‘n gewone sedan motor.

Dis ‘n lieflike oggend en ‘n mistigheid lê nog swaar bo die berge toe ons bo kom. Die koelte lê soos ‘n sagte kombersie om ons. Van hier hoog bo die berge kan ons uitkyk op Graaff-Reinet wat doer onder ons lê. Maar hier bo, kilometers ver, is die klank ongelooflik helder. Iewers onder in die dorp is iemand besig om dromme te slaan. ‘n Entjie verder hoor ons iemand ‘n voertuig uit die motorhuis trek. Op ander plek hoor jy ‘n man en vrou ‘n gesprek voer. Wat hulle sê onherkenbaar, maar jy hoor die stemtone en afwisseling tussen hulle stemme. Op ander plek speel iemand musiek en ‘n ander een luister radio. Ongelooflik!

Die mis maak dat die lig vir fotos neem nie so goed is nie, maar op hierdie oomblik is dit nie vir ons belangrik nie. Die koelte is baie belangriker. Ons besluit om die kort staproete te volg sodat ons kan kyk vir ander foto geleenthede.

Daar kom sit so ‘n gevoel van dankbaarheid oor Gods grootheid as mens so afkyk op al die pragtige rotsformasies en die vlaktes daaragter. Dan besef mens hoe klein ons en ons probleme in die groter Geheel is. Dis werklik ‘n pragtige plek om te sien en te beleef. Die klank van die voëlgeroepe is hier soos ‘n orkes. Die harmonie is ongelooflik en met tye sit ek en Gert net stil en drink die prag van die oomblik in. En so op die staproete loop ons by ‘n skugter groep koedoes verby. Hulle kyk ons wantrouig aan, en dan stap hulle later weer die berge in.
Dis na 10 toe ons die staproete klaar gestap het en dit is nou al baie warm. Ons trek die toertuig onder een van die bome by die piekniek plekkies in en maak ‘n heerlik ontbyt. Daarna vertrek ons op die 4X4 roete. Dis ‘n pragtige roete tussen die berge in en ons sien heelwat wild. Ons ry maar rustig want ons het die koelte nodig van die lugverkoeler in die bakkie. Vandag wil niemand net stilsit nie, die hitte raak ondraaglik. Vir ons wat die nat kuslug gewoond is, is hierdie droeë warm lug nog erger.

Na ons die roete voltooi het, verlaat ons die een deel van die park en ry terug na die kampgedeelte van die park wat die dam insluit en besluit om van die wildskykroetes daar te gaan ry. Weens die droogte is dam baie leeg en die wild is meestal gekonsentreer om die rand van die dam. Dus sien ons op hierdie warm dag weinig wild. Hulle wei maar om die rand van die dam waar die groen grassies nog vir hulle beskikbaar is. En omdat die uitkykpunte ver van die dam is, is dit net met verkykers sigbaar. Maar op hierdie manier van rustig ry en kyk, kom ons darem verby die ergste van die hittegolf. Op ‘n stadium wys die buite temperatuur 42 grade.
Laatmiddag kom ons weer by die kampplek aan. Dis nou tyd om vuurtjie aan te steek en vleisie te braai en ietsie yskoud uit die yskas te haal. Ons sit toe laataand buite en verkyk ons weereens aan al die sigbare sterre in die hemelruim. Kyk hoe verskillende sateliete bo ons verbygaan en wonder wat elkeen van die menigte se funksies is.
Maandagoggend
Die weerman het nog erger hitte vir ons voorspel vir vandag en ons het besluit om eerder die 4X4 roete te ry. Op hierdie manier kan ons darem die ergste hitte deurstaan want ons het gehoor dat ons hoog die berge gaan inry as ons dit ry. Maar eers gaan ry ons vroegoggend ‘n draai deur die park rondom die dam. Ons sien heelwat wild en gaan sit vir ‘n lekker tydjie in een van die voëlskuilings.
Om die 4X4 roete te ry, moet ons die sleutel en ‘n kode gaan kry by die ontvangskantoor. Hulle verduidelik vir ons hoe ons moet ry om by die hoofhek van die roete te kom en gee ons die kode om in te gaan. Die hek is sommer teen die dorp en ons vind dit gelukkig sonder veel probleme.

Dit is vir ons sommer uit die staanspoor duidelik dat die een roete wat ons gaan volg nogal tegnies gaan wees. Hierdie roete is regtig teen die berge op. Nou ja, ons is lus vir bietjie opwinding en ook lus vir die uitdaging.

Ons is die enigste voertuig in hierdie deel van die park vandag. Die natuurskoon is pragtig en ons ry rustig. Die temperatuur is buite die voertuig al baie naby die 38 grade teen 10 uur die oggend en ons is bly vir die koelte in die bakkie.
Gert bestuur die meeste van die tyd, maar ons het besluit dat ek, as ek later voel dat die pad nie té uitdagend is nie, ook bietjie sal bestuur. Wat ek ook later doen. En toe raak die stuk wat ek wel bestuur op die ou einde baie uitdagend en ry ek tot by die uitkykpunt bo op die berg. Van omdraai op die nou pad was daar nie sprake nie. Maar ek besef dat ek nie met my hoogtevrees die afdraende pad sou baasraak nie, en is bly dat manlief dit eerder kan doen. Daai berge is net te hoog. Gelukkig is die pad redelik goed onderhou en Parkeraad het walle gestoot teen die erge steiltes sodat die bakkie in laestrek gemaklik kan ry en genoeg vasskopplek het en die wiele nie tol nie.

Die uitsig bo op die berg is ons beloning vir deurdruk. Die luggie bo op die berg is effe koeler as onder in die vallei, maar dit is nou al reeds lank na middagete en ons soek versterking na al die konsentrasie. Bo op die berg is geen skadu sodat ons kan uitspan nie.

Nadat Gert genoeg fotos van die pragtige natuurskoon geneem het, ry ons na onder waar ons ‘n plekkie met koeltebome gesien het en besluit om middagete te maak. Ten spyte van die bome is dit bitter warm en ons is bly dat die blaredak vir ons effe skuiling bied.

Na ‘n lekker lang middagete begin ons die stadige terugtog en besluit om weer na die Valley of deception te gaan om te kyk of die lig beter is en tweedens omdat ons weet dit is effe koeler daar. Bo op die kruin waai die wind by die uitkykpunt baie erg, maar dit maak die ongemaklikheidsvlak aansienlik beter.

Op pad terug sien ons klomp besoekers (sou later hoor hulle kom van Ethiopie) wat besig is om in ‘n kol langs die ablusiegeriewe vuur te maak. hulle breek sommer die takke af van droeë bome. In hierdie wind kan dit rampspoedige gevolge hê veral as die vuur nie doodgegooi word nie, en hier bo op die berg is geen water nie. Ons meld dit dus aan by die hekwag wat dadelik hulp inroep. Een onverantwoordelike besluit soos daai kan in ‘n groot ramp ontaard. En die tuinroete is juis nog aan die brand.
Dit is steeds baie warm toe ons met hektoemaaktyd by die kamp kom. Ons is vanaand die enigste kampeerders in die kamp. Die dagtemperature het gestyg tot bo die 42 grade vandag en die hitte is steeds ondraaglik. Ons sit en kyk hoe die voëls kom water drink by die kraan en later sit manlief maar ‘n bakkie met water sodat die voëltjies kan lafenis kry.
Aandete is vanaand lig want ons het nie lus vir swaar kos in die hitte nie. Soos elke ander aand gaan stap ons eers ‘n draai deur die stil kampplek en sit later en kyk na die miljoene sterre in die hemelruim.
Kamdebo het ons verras. Ons is baie bly dat ons hierdie park kom besoek het. Ons het die park baie geniet. Daar is soveel om te doen. Dit is regtig die moeite werd om hier oor te staan vir ‘n dag of 3 as mens die kans kry en nie net verby Graaff-Reinet hoef te jaag nie. Parkeraad moet net die moontlikhede in hierdie park raaksien en dit sal definitief een van ons spogparke kan raak.
Kyk gerus na volgende week na my stuk oor ons verblyf in die Mountain Zebra Nasionale Park buite Cradock.
Dankie Helma. Ek geniet jou stories.
LikeLiked by 1 person