Hooikraal tented camp – Heidelberg Wes Kaap 13 Oktober
Ons is besig om die toertuig se camper deel te herstel, maar ai ons lus om te kamp kry toe weer die oorhand. Weens die baie verpligtinge en werk het ons net die een naweek in Oktober om te kamp en ons besluit dat, ongeag die weer, ons wil in die pad val en gaan kamp.

Die weerman is die hele week so bietjie onseker oor watter weer ons te wagte kan wees. Ons is ook nie lus vir ver ry nie, want ons wil sommer na werk die Vrydag in die pad val en die donkerte is nog vroeg op mens se hakke. Ongelukkig vir ons is dit dieselfde naweek Meiringspoort se marathon en ons kan dus nie kampplek bekom in daardie area nie. Die weerman voorspel erge wind langs die kus maar beter weer in die karoo. Maar afstand gesproke is dit dan te ver vir ons Karookant toe.
Na baie wik en weeg besluit ons toe om effe binneland toe te kamp, en die Karoo te vermy. Ons sou ook vir die eerste keer in jare met ‘n tent gaan kamp maar steeds met die bakkie ry, want alles is net so gerieflik ingerig. Besluit geneem en navorsing gedoen op die internet, kom ons toe af op ‘n plek net buite Heidelberg. Die afstand pas in ons planne, dis nie teen die see nie en ons is lus vir iets nuuts…avontuurlustig is ons beslis. Dus bespreek ons gou plek en begin pak.
Dis iets heeltemaal anders om weer te pak vir ‘n tentnaweek. Kampbedjies, slaapsakke en matrassies moet bygepak word. Met die toertuig het ons al in die middel van die winter in Sutherland gekamp, maar nou moet ons regmaak vir ingeval dit reën en dalk koud is.

Die ablusiegeriewe vir die kampeerders is ook van tentmateriaal gemaak. ‘n Gas geyser verskaf warm water wat jy met ‘n emmer in ‘n stortsak gooi en dan heerlik stort. ‘n Bordjie aan ‘n ketting is die beset teken vir ander kampeerders. Die oopte van die stort en toilet is heerlik ,(Jy ervaar die vryheid wat kamp jou bied) maar in die winter kan dit baie koud wees. Veral as die suidooster oor die koppe waai( wat ons die Saterdag ervaar het).
By die kampplek aangekom, word ons gou deur die boer na die kampterrein vergesel. Hy verduidelik waar ons kan staan en stel ‘n beskutte plek voor teen die bome naby die ablusiegeriewe. Ek en Gert is die naweek die enigste kampeerders wat nie in die permanente tente tuisgaan nie, dus het ons die hele Kampterrein vir onsself.

Dit neem ons ‘n wyle om ons tent opgeslaan te kry en ons besef dat die nuwe tent eintlik net ‘n muskietnet met ‘n seil oor is ( ‘n regte somertent). Dit het jy nou van iets oor die pos bestel! Die wete demp egter nie die avontuurlus in ons are nie, en ons geniet elke oomblik van die tydjie voor die vuur
Ons het ook net ingekruip toe die wind, wat vir die kus voorspel is, hier begin waai. Die Suidooster laat hier teen die koppe nie met hom speel nie. Die wind waai ysig koud by die muskietnet tent in.
Alhoewel die kampbedjies wyd genoeg en sag genoeg is, kry ek myself dat die ristsluiter deur die nag oopgaan en my rug elke keer ooptrek en my rug kry so op ‘n strook ysig koud. Hoe ek ookal probeer, die kombers wat ek oor die slaapsak gegooi het, wil nie opbly nie en ek is dus kort kort wakker. Gert slaap ook onrustig, want die wind is regtig onplesierig en die geklap van die tentseile laat ons wakkerskrik.

Die oggendstond het goud in die mond. Saterdagogend besef ons dat die wind nie gou gaan lê nie. Net so ongeveer 5 kilometers vanaf die kampeerterrein is die Hooikraal restaurant en slaghuis. Ons besluit daar en dan om ontbyt daar te gaan eet, die slaghuis te gaan bekyk en sommer ietsie vir oor die kole as daar is.
By die Hooikraal restaurant is dit ‘n miernes van bedrywighede want hulle het ‘n ooievaarstee aan later die oggend. Nietemin word ons ‘n tafel aangebied en nadat ons heerlik gesmul het aan ‘n biltong gevulde omelet, gaan koop ons die heerlikste biltong en droeë wors by die slaghuis (en heerlike lamsosaties vir braai) .
Die res van die dag verwyl ons deur al die agterpaaie te gaan ry en word beloon met die pragtigste natuurtonele. Ons kom eers laatmiddag by die kampplek aan. Die wind het gaan lê en dit word ‘n heerlike aand om die kampvuur.
Vuurtjie Vleisie op die kole
Die nag slaap ons rustig want dit is windstil en warm. En so word ons wakker met die wolke wat donker en dreigend om ons opsteek. Dit word egter later baie warm, want die wolke verdwyn letterlik voor die son. Ons maak weereens ‘n laat ontbyt en besluit toe om hierdie keer met die kusgedeelte se agterpaaie terug te ry huis toe.

Ons word beloon met die mooiste blommeprag want hierdie deel van die kus het baie reën gekry Septembermaand. Ons stop kort kort om nog fotos te neem en net die mooi in te neem. By Stilbaai se nuutgeboude walvis uitkykpunt staan ons ‘n tydjie oor en eet sommer daar ‘n saamgeflansde laatmiddagete.
Dit was toe waarlik ‘n avontuurlike naweek. En al was die wind erg en die tent nie geskik vir die soort weer nie, het ons elke oomblik geniet. Ons sal definitief weer by Hooikraal kamp sodra ons die geleentheid kry. Ons vingers jeuk nou om ons toertuig klaar te kry…..
0 comments on “Hooikraal Tented Camp”