Die lewe het gebeur!
Dis ‘n uitdrukking wat ek gehoor het van iemand wat gepraat het oor die belofte om sekere dinge nie as vanselfsprekend te kan ervaar nie, maar dan so besig te raak met hulle werk en lewe en handel en wandel dat hulle nie by hulle beloftes kan hou aan hulleself nie.
So het die lewe gebeur vir ons familie wat altyd Oktobermaande tyd gemaak het om saam te kamp.
Maar hierdie jaar het ons besluit “kom wat wil, ons maak ‘n plan” en ons gaan kamp weer saam. Die beste plek in die middel van ons almal se reise het toe geval op ‘n plek in Calitzdorp en daarom het ons besluit op ‘n ou bekende (Uhuru) Karoowater.
Karoowater lê net oorkant die Calitzdorp Spa. Dis ‘n groot kampeergrond met skoon en netjiese ablusiegeriewe, en afhangende van waar jy kamp, het jy ‘n uitsig oor die karooplase met die Swarberge in die agtergrond. Hulle was juis nog wit van die sneeu!. (Neem kennis dat toiletpapier nie verskaf word nie, en indien jy jou kampyskas saambring, ‘n addisionele R50 gehef word vir elektrisiteit.)
Karoowater het ‘n warmwater swembad onderdak met ‘n kouewater swembad en glybaan buite. Daar is ook ‘n groot glybaan wat huidiglik nie in gebruik is nie. Die restaurant se kos is heerlik en hulle het ‘n groot televisie skerm vir die mense wat graag TV (en Rugby soos in ons geval) wil kyk. Synde die Restaurant en die onderdak swembad in dieselfde gebou gehuisves word, is die versoek geregverdig dat jy eers afdroog en klere aantrek voor jy kom aansit vir bediening. Hulle boer ook hier met eksotiese apies en papagaaie en daar is groot hokke wat baie vermaak verskaf aan die gaste wat hulle wil besigtig.
Dit was dus met groot opgewondenheid dat ons almal weer begin regmaak en inpak vir die saamkamp. Omdat ek en manlief albei tot 5 uur werk, het die sussies (Ineke, Anita en Alice)besluit hulle ry vroeg Vrydag en kry alles reg, doen al die betalings en slaan solank hulle deel van die kamp op. Ons sal dan direk na werk ry en net parkeer waar hulle vir ons ‘n plekkie ooplos. Met die toertuig is dit mos sommer in ‘n japtrap klaar.
Ons het ook net klaar ons toertuig opgeslaan, ons stoele uitgepak en toe is dit koek en Sjampanje want manlief verjaar. Dis ‘n vrolike geskerts en gekorswil tot laat in die aand. Gelukkig het die bure langsaan ‘n groot vuur gepak en hulle rustige musiek dra by tot die partytjiegevoel van ons spul en ons kuier tot laat. Oorkant die pad is die geblêr van ‘n karradio hoorbaar en aan die gelag en geskellerey is dit duidelik dat daar groot partytjie gehou word by die Calitzsdorp spa. (Dit was hoorbaar tot na 1 die oggend).
Saterdag speel die Springbokke teen Australië en terwyl die een klomp in die restaurant gaan kyk, is die ander lot in die swembad, of loop rond en bekyk die diere. My sus se seun, Wessel, kom later by ons aansluit vanuit Swellendam. Wessel het sy beddegoed tuis vergeet. Boer maak ‘n plan en met elkeen wat een of ander bedekking uit hulle tent of motor grawe, kry ons darem iets waarmee hy homself sal kan toegooi vir die nag.
Dit word ‘n heerlike tyd van kuier, gekskeer, swem en gesels om die braaivleisvuur. Noudat die manne ‘n span kan vorm, het die pittige sêgoed geen einde nie. Ons arme vrouens loop woes deur, maar als in goeie gees. Dit raak Saterdagaand skielik goed koud. Wessel en Alice gaan swem in die warm water, maar ons ander kuier eerder op die wal. Ons lus nie vir die koue na die lekker warm water nie.
Sondagoggend is ons vrouens vroeg op. Ons maak koffie en met beskuit in die hand gaan sit ons op die groot stoep voor die restaurant en kyk vir die sonsopkoms. Ons sluit later aan by die ander wat stuk stuk ontwaak.
Arme Wessel het toe so koud gekry deur die nag, dat hy vir paar ure in die klein warmwaterswembad gelê en slaap het om warm te kry. Hy sal sekerlik nie weer sy slaapsak vergeet nie.
Ons maak ‘n heerlike groot ontbyt, want almal wil op verskillende tye vertrek. Toe is dit weer gaan “inlê” in die warm swembad. Die res van die tyd word verwyl deur rustig kamp op te slaan, rond te stap en en sommer net rond te sit en kuier. Natuurlik moet ons genoeg foto’s neem om so herhinneringe vas te lê. Ons is almal traag om te vertrek.
Ons maak gou weer so. Moet net seker maak die lewe rek nie ons saamkuier as familie vir lank uit nie.
Pingback: Abby… the “hostess with the mostest!” – wingsofadoveblog