Kango Bergoord Oudtshoorn (31 Aug – 2 Sept)
Dis die eerste naweek van die lente in ons mooi land en dit is tyd dat ons weer ons toertuig afstof en regmaak vir kamp.
Na ‘n paar maande van kamp droogte is ons behoorlik in die bui om sommer net gou iewers te gaan kamp. Die weerman se voorspellings vir die naweek is nie heeltemaal duidelik nie. Die een dag word die weer as uitstekend voorspel net om die volgende dag weer na koud en reënerig te verander en dan weer terug. Dus besluit ons om maar die kans te neem en te kyk hoe dit gaan uitspeel.
Ons bure wat hulle toertuig (Camper) oorgedoen het, het besluit om saam met ons te kamp vanaf Saterdagmiddag, so ons besluit toe op die Kango bergoord wat gerieflik naby en per teerpad bereikbaar is. Grondpaaie is definitief nie op die lysie van paaie wat hulle met hulle wa wil aanpak na maande se harde werk nie.
Ons is aanvanklik die enigste kampeerders in die oord die naweek. Die huisies in die oord is almal volgeboek met ‘n Christelike jeuggroep en ons kan duidelik die vrolikheid van dié samekoms hoor. Kort kort stap klein groepies jong kinders by ons verby oppad na die samekoms-saaltjie by die swembad.
Die Kango bergoord is ‘n basiese groot, maar pragtige munisipale oord. Die park is opgedeel in ‘n dagbesoekers en kampeer area. Albei het hulle eie swembad en ablusie area. Dit is duidelik dat hier ‘n hand nodig is om die fyner herstelwerkies te doen. Deurknippe is af, ‘n dakteël is af, die Geyser staan oop en bloot met die drade oop in die waskamer. Tog is die oord in geheel skoon en netjies en die ablusiegeriewe heel skaflik. Die swembaddens se water is skoon en helder (maar die water is ysig koud en niemand is dié naweek lus vir swem nie). Selfoonopvangs is net moontlik by die ontvangskantoor of as mens met die pad opstap tot bo by die dam. Hier is ‘n heerlike wandelroete wat die flukses kan aandurf en selfs ‘n put put baan (in ‘n effe verwaarloosde staat).
Donkeroggend word ons wakker met die klank van die naguiltjies se geroep iewers in die berge. In die stilte dra die klank ver. Wat ‘n voorreg om so wakker te word. Ons was aanvanklik bang dat dit dalk kon ryp deur die nag, maar die wolke het dik saamgepak en deurnag was dit heerlik warm.
Ek stap later, toe dit al goed lig is, tot bo by die dam. Wil darem net gou die kinders laat weet waar ons is, en sommer kyk of ek ‘n foto kan neem van die park. Op pad boontoe hoor ek ‘n vrou na haar honde roep. Duidelik was die lente in die lug vir hulle ook, want sy roep hulle:” waar is die hoertjinners van my dan?” Ek loop en giggel. Dis net hier, in dié deel van ons land, waar mense sulke dinge hoor.
My sus uit Oudshoorn kom sluit by ons aan om die lentedag saam met ons te vier. Die bure arriveer net na middagete en binne ‘n japtrap word als uitgesorteer. Ons verwyl die res van die dag met vrolike gesels en kuier. Die gebraaide vark en beesribbetjie smaak ekstra spesiaal voor ‘n vrolik kletterende vuurtjie. Die weer is besig om te draai en daar kom so ‘n ysige kouete die aand deur die park aangesweef.
Wanneer laas het julle die klank van die wind gehoor as dit deur die droeë takke speel?Dis die klank waarmee ons 5 uur Sondagoggend wakker word. Dit klink soos die rammeling van ‘n trein wat op ‘n spoorlyn aankom, deur die stasie hardloop en die klank weer sagter word soos die trein verdwyn. Jy hoor van ver af al die takke van die popelier- en akker bome wat teen mekaar vibreer soos die wind deur hulle waai, en dan storm die wind in ‘n rukwind by ons verby. Oupa uil is vanoggend nie geneë daarmee nie en sy hoe hoe hoeeee is ver hoorbaar. Die naguiltjies laat ook van hulle hoor. Duidelik is ook hulle nie te gelukkig met die stand van sake nie.
Gert moet op ‘n stadium uitspring om seker te maak die anker toue van die skerms is nog behoorlik vas en om al die goed wat omgewaai het, weg te bêre. Hy is net terug in die bed toe dit begin reën. En dit raak ysig koud. Ek spring tussen reënbuie uit om gou die ketel aan te sit en maak vir ons koffie sommer in die toertuig. Dis een van daai rustige laatlê oggende met die kombers tot bo onder die kinnebak getrek.
Toe die reën laatoggend bietjie opklaar maak ons en die bure ontbyt. Dis nie ‘n dag vir buite kuier nie en ons gaan sit binne die bure se toertuig en bordspeletjies speel. Deur hulle groot toertuigvensters kan ons sien hoe die sneeu op die Swartberge begin val. Die weer laat ons darem toe dat ons ‘n vleisie kan braai en eet. Ons bekyk die swaar wolke wat aangesweef kom, pak met haas op en het net die laaste dingetjie weggepak toe die reën met mening uitsak. (Later sou ons hoor dat dit in Oudtshoorn gehael het).
Ons het al vier seisoene beleef in een naweek. Wat ‘n heerlike eerste lente (of was dit dalk nie) wegbreek was dit nie!
0 comments on “Dis heerlike lente..maar die winter is nie verby!”