Die Kom – Matjiesvlei (Calitzdorp)
23-24 Junie 2018
Dis nou amptelik die draaipunt van herfs na vol winter. Maar hier by die see het ons nog nie eintlik die winter gevoel nie. So af en toe ‘n koue ou daggie of wat, maar origsens nie einlik winter om van te praat nie.
Dus raak manlief nou weer jeukerig om bietjie te gaan 4×4. Op kort kennisgewing bel ons vir Ben en Selma by Die Kom in Matjiesvlei (net buite Calitzdorp) om te hoor of hulle vir ons ‘n staanplekkie het vir die naweek. Gelukkig is daar vir ons kampplek en Saterdagoggend vroeg spring ons weg met die die nodigste vir die enkele naggie se oorslaap. Dit is ‘n lieflike dag by die see, maar die oomblik wat ons oor die Robinson pas ry, begin die wind waai. Nou ja, dit is mos alles deel van die pret.
By ons bestemming aangekom vertel Ben ons dat die kampplek na 2 jaar se droogte nou nie so is dat hy eintlik wou hê ons moes daar kamp nie. Die wind en droogte het sy grasperke verander in ‘n woenstynwêreld. Hulle bied aan dat ons by een van hulle gastehuisies gaan staan, maar droeë kampplekke pla ons regtig nie. Ons is die enigste kampeerders vir die naweek. Met Ben en ‘n werker op die bakkie vooruit, gaan wys hy vir ons waar om te kamp. Van die doringbome se takke in die, nou droeë, rivierloop het weens die erge wind die laaste week gebreek. Ben is bekommerd dat ons toertuig, weens sy hoogte, nie ongeskonde anderkant gaan uitkom nie. So een of twee keer stop ons gou en word ‘n lastige geknakte tak afgesaag en weggesleep.

Die Kom se kampplek is teen die Gamkarivier geleë. Die kampplekke het almal ‘n braai-area met boomstompe, wat dien as sitplekke, knus om die vuurmaakarea gepak. Een van die braaiareas het selfs ‘n tang en braairooster vir die man wat syne tuis vergeet het. Aan een boom hang ‘n swart braaiketel nou al waaiende in die wind. Hier is nie elektrisiteit nie, dus moet jy voorsiening maak vir gas en hout vir vuur.
Daar is ‘n geboude ablusieblok wat gedeel word deur mans en vrouens met 2 toilette en 2 storte. Jy moet die donkie stook vir warm water en daar is genoeg hout gepak om dit aan die gang te kry. Die vorige kampeerders het die donkie per abuis laat bars toe hulle dit gestook het en daarvan vergeet het. Dus het Ben dit weer herstel net betyds vir ons koms.
Die wind is regtig onplesierig. Dit waai die riviersand dat dit sulke woesstynriffies oral maak. Soos jy in die oopte staan waai daar kort kort sandstorms in die vallei af. Ben wys egter vir ons ‘n plekkie wat regtig goed weggesteek is tussen die bome, waar die wind nie so erg sal pla nie. Omraam met die doringbome aan beide kante en ‘n dik laag riete teen die rivier, is dit die perfekte plek om kamp op te slaan.

Dis ook nie lank nie, toe is die kampplek uitgesorteer en maak ons vir ons ‘n heerlike middagete. Ons stap rivier toe om te gaan loer hoe dit lyk. Die Gamka het hier lank laas geloop, maar hier is nog groot poele water. Klaarblyklik is hier lekker visvangplekke en kan jy heerlik swem as dit warm is, maar nie een van dié twee geval ons vandag nie. Dus stap ons maar rond vir kort rukke, (want die wind bly onguur) en verwyl die middag met lekker leesstof en koppies heerlike koffie. Die wind waai die riete dat dit klink soos musiekinstrumente en saam met die getjier tjier van die droeë doringtakke se geskuur, raak ons later lui en besluit ‘n middagslapie kan nie sleg wees nie.
Laatmiddag gaan lê die wind darem so effe. Ons stook ‘n vuurtjie in die donkie vir stort en braai toe heerlike vleisie. Gaan lê laataand met ‘n lekker boek en lees tot laat. Dis ‘n heerlike aand en in die toertuig en glad nie koud, ten spyte van die wind en die winterweer nie. Ons word aan die slaap gesus met die klanke van die riete en bome in die sagter wind.

Bojaankop
Vroeg Sondagoggend is ons op. Dit is nog donker buite. Ons wil nie te laat begin met die 4X4 roete nie. Teen dié tyd weet ons uit ervaring dat dit baie tyd van die dag in beslag kan neem.
Ons ry gou by die kantoor aan en vul die nodige vrywaringsvorms in. Ons kry ‘n kaart van Ben en hy verduidelik wat ons kan verwag op die roete en waar ons nie moet ry nie. Na ons ‘n rukkie gesels het, vertrek ons op die “sagter” (graad 3) roete. Ben is benoud of ons Bojaanskop sal kan afry met die toertuig omdat die voertuig swaar gelaai is. Ons is aangeraai om eerder die afdraende deel van Bojaanskop te ry as die opdraende, want ons bande is dun en Bojaanskop is rof. Nodeloos om te sê, maar hierdie vrou is nou al baie benoud. Ek glimlag egter dapper en hoop maar vir die beste.
Ons het skaars die roete begin of ek moet al uitklim om my man oor die klipperige areas rigting aan te dui. Beide wonder oor wat vir ons voorlê as dit eers so begin. Die res van die pad tot by die eerste uitkykpunt verloop egter vlot en ons word beloon met ‘n pragtige uitsig oor die plaas en die vallei doer ver.

Ons ry rustig. Hier op die roete moet jy heeltyd kophou, want die pad het baie skerp draaie en nog skerper klippe wat jou bande lelik kan seermaak as jy nie oppas nie. Dis ook ‘n taai klim teen die berge op. Dus nie ‘n roete wat jy sommer wil (of kan) deurjaag nie.
Oral op die roete is klippe gepak om die rigting aan te dui, maar op sommige plekke het die bobbejane duidelik gehou van die prentjies en die klippe omgerol. Was dit nie vir ons roete aanwyser nie, sou ons sekerlik verkeerde rigtings ingeslaan het.

Ons ry elke uitkykpunt aan en waarlik dit is die moeite werd! Die uitsig oor die berge en die valeie is ongelooflik mooi. Ons is verras oor die groot aantal plase tussen die berge. Mens sou dink die berge is onbegaanbaar, maar dis duidelik dat waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg (letterlik) vir hierdie boere.
Ek raak met tye maar redelik benoud. Met my hoogtevrees is die opdraende nie vir my ‘n probleem nie, maar die oomblik wat ek nie meer die pad kan peil as ons op of afdraende ry nie, kom sak daar so ‘n pynlike lamgeit om my gebeente. Dan moet ek maar oë toeknyp en dapper bly. Nie vir manlief wys hoe benoud ek raak, en hoe vol jellie my gebeente geraak het nie.
Ek vrees egter dat ons by Bojaanskop gaan kom en dat ons hierdie opdraendes wat ons so pas gery het, weer sal moet af. Dus wonder ek so in my stilligheidjie wat ons gaan doen as ons besluit Bojaanskop se afdraende is te steil. Die toertuig gedra homself egter baie goed en Gert is in sy noppies. Takties ry is mos sy kos.

Na ongeveer twee ure se ry stoot manlief die bakkie se neus oor die heuwel van die Bojaansberg. Ek klim terstond daar uit. Die helling bergaf is so 35 grade vir ‘n volle 500 meter. Vir hierdie stuk pad sien ek nie kans nie. Die pad is vol los klippe en weens water erosie het die pad twee duidelike slote gespoel waar die bande moes loop. Ek en Gert loop soos (soos aan Ben en Selma belowe) eers ‘n groot deel van die pad af om te kyk of ons kans sien vir die pad af. Ook om te kyk watter obstruksies en probleemareas daar is. Gert sien kans die vir sports en ek besluit wyslik om eerder maar vir hom aan te dui hoe om te ry en waar gevaarlike plekke is. Hy is steun steun en byna hande viervoet die bult op terug bakkie toe.
Elke 20 meter loop ek, of moet ek eerder sê gly ek (en hollende) die pad af. Partykeer verloor ek byna my balans en dan moet ek mooi kyk waar om te gryp, sodat ek nie ‘n doringtak vasgryp nie. Ek wys vir Gert waar hy sy wiele moet plaas en hoe hy moet ry. Hy moet dan stop en wag tot ek weer ‘n veilige plek het om te staan en dan weer wys hoe hy moet ry. (Later sou ek op die video sien dat ek van agteraf gelyk het soos ‘n bobbejaan op sy agterpote…nie baie vleiend nie)
Ons grootste vrees is dat ons ‘n band op een van die skerp klippe kan seermaak of dat die bakkie sal gly. Dit is dus ‘n baie tydsame en senutergende tyd, maar baie verlig kom ons uiteindelik die berg ongeskonde af. Vir die eerste keer dink ons aan iets te ete en te drinke.

Ek het die vorige dag al maalvleis gemaak vir jafels, sou ons op die roete honger raak, maar die hele pad het ons nie een keer gedink aan kos nie. Nou stop ons gou weer by die kamppeer terrein en maak vir ons kos. Ek het definitief iets sterkers nodig as net ‘n koppie koffie.
Ons ry gou na ete by Selma aan, om haar gerus te stel dat ons veilig is. (Sy het ons egter deur die venster dopgehou op Bojaankop). Ons verwyl ‘n lang ruk by haar, terwyl sy ons vermaak met storietjies en staaltjies oor hulle ervaringe met mense wat al die roete en die berugte Bojaankop gery het. Dit word ‘n heerlike kuier en ons is traag om te groet en huis toe te ry. Die boeregasvryheid hier was regtig wonderlik.
Later sou ons eers op die internet sien hoe ander voertuie die roete gery het, en hoe steil dit regtig is. Soms is dit maar net beter om nie vooraf te weet wat vir jou wag nie…net soms.
0 comments on “As Bojaan die berg klim”