Langer Toere

Noord Kaap

Mei 2018

Ons het die Noordkaap roete beplan in ‘n poging om ‘n tydjie saam met al ons kinders te spandeer. Die plan was om hulle iewers sentraal te ontmoet, saam te kuier en dan verder aan te gaan op ons eie toer. Ongelukkig werk dinge ook nie altyd uit soos mens hoop nie, en kon my seun en skoondogter dit nie hierdie keer maak nie

Dus sou dit net ons en my dogter (Helma) en skoonseun(Charles) wees, wat hierdie week saam sou kuier en toer. Die een belangrike punt wat ons in ag moes neem, was dat ons kinders net ‘n baie klein motortjie het, en dat grondpaaie dus nie geskik sou wees vir die toer nie. Dit op sigself was alreeds ‘n uitdaging. Plekke soos Witsand en Riemvasmaak sou ons dus nie kan besoek nie.

IMG_4960
Roetebeplanning

 

Kimberley

Sonsopkoms Riverside.JPG
Sonsopkoms Riverside

Die eerste naweek was ‘n langnaweek en ons moes vroeg beplan. Plek is dus toe bepreek vir die eerste 3 dae by Riverside net buite Kimberley. Ook maar goed, want die kampplek was tjok en blok vol toe ons daar aankom. Die Wildeklawer toernooi was aan die gang. Iets wat ons eers agtergekom het na ons gearriveer het.

Op sigself bring die toernooi sy eie uitdagings, want die arme ouers moes heelnaweek vroeg roer om betyds by die verrigtinge aan te sluit. Die ablusiegeriewe is skoon en pragtig, maar vir die groot hoeveelheid mense, net nie genoeg nie. Daar was dus die gepaardgaande tekort aan warm water om te stort van vroegoggend af, want van 5 uur af was die mammas al aan die tittewyt. Saans was dit weer dieselfde probleem. Gedurende die dag was daar egter min mense in die kamp. Dus was dit steeds ontspannend.  Saans was dit ‘n heerlike geroesmoes van mense en kinders bymekaar.

Die eerste dag by Riverside is vol opgewondenheid. Dit is lank laas dat ons die kinders gesien het en daar is soveel te doen en te sȇ, en kuier moet ons kuier. Die tent word opgeslaan, werkstasie as kombuis word beplan en toe raak ons rustig daar langs die rivier. Manlief haal die visstokkies uit. Hy wil kyk of die vissies byt.

Kimberley gat.JPG
Kimberley se gat

Kimberley se gat was hoog op die agenda, want my skoonseun het dit nog nooit gesien nie. Dus is ons Saterdagoggend vroeg al weg om dit te gaan besoek.

ou Trem Kimberley
Die ou Trem

 

 

Die hoogtepunt vir ons was die kort rit op die Trem rondom die gat. Teen R10 per persoon was dit die moeite werd. Mens kan jou nogal die prentjie indink as jy in die stokou houttrem ry, hoe dit sou lyk met die vroue in hul lang rokke en man in hulle pakke oppad iewers heen.

 

 

 

Ouwereld sjarme kimberley
Ouwereldse sjarme – Kimberley Museum

Ons is eers weer laatmiddag terug by die kamp. Dit word ‘n heerlike kuieraand rondom die vuur. Die visstokkies is weer ter water gelaat, maar my ou man kry nie eers een byt nie. Ek verloor my kospot in die rivier -dis ‘n storie op sy eie!

Riverside kampplek.JPG
Riverside kampplek

Sondagoggend is almal rustig. Die kinders kla dat die opblaasmatras baie pap word deur die nag. Hulle het dus nie ‘n goeie nagrus gehad nie. Dit word ‘n heerlike dag van kuier en saamwees, speletjies speel en braai. Kry tot tyd vir ‘n kort middagslapie. Dis na die middagslapie, dat die kinders weer kla dat die matras nou regtig nie meer lug hou nie. Die weer rondom ons het intussen ook opgesteek en ons hoor die donderrweer oor ‘n afstand aankom. Na ‘n groot gesoek na die gaatjie kry ons dit uiteindelik op ‘n naatjie wat besig is om los te trek. Al ons pogings om dit te stop is vrugteloos. Nie eers die “ducktape” kry dit toe nie. Al raad is dat ons toe die dun bo-matrassie uit ons toertuig haal en vir hulle leen vir die nag.

Die rëen sak toe behoorlik uit. Dit raak ‘n geskarrel om als uit die reën en wind te hou. Maar dit bied toe ook vir ons die geleentheid om rustig ons bordspeletjies uit te haal en vir die volgende paar ure speel ons heerlik speletjies. Vir aandete braai my seun vir ons sappige hamburgers. Heerlik.

Kalahari Monate Lodge – (noord van Upington)

Ons moet eers oppad stop by die winkels sodat die kinders vir hulle ‘n ander matras kan koop. En daarna val ons rustig in die pad.

Nou kyk, dis die langste reguitste stuk pad wat ek in ‘n lang tyd gery het. Geen wonder dit is amper ‘n reguit lyn op die padkaart nie, want waarlikwaar die pad gaan op en af, maar is byna liniaalreguit voel dit my. Ons ry stadig want die toertuig is maar dors as die voet swaar raak op die petrolpedaal.

Vir middagete stop ons toe by Griekwastad. Die dorpie het nou regtig nie veel om te sien nie, maar daar is, net voor jy uit die dorp ry, die oulikste restaurant met die naam Proviand. Ons bestel heerlike kos en ‘n ordenlike koppie Cuppachino. Manlief eet volgens hom die lekkerste Pizza ooit,met genoeg kaas op om enige een ‘n cholestrol styging te gee. Die diens is goed en die mense is tipies wat jy van so ‘n plattelandse dorpie verwag, vriendelik en warm.

UNADJUSTEDNONRAW_thumb_312.jpg
Ete by Proviand in Griekwastad

Ons vul op Upington ons diesel en petrol aan en kom laatmiddag by Kalahari Monata aan. Betyds om tent op te slaan voor die son sy kop laat sak oor die rand. En wat ‘n pragtige sonsondergang is dit nie!

SSonsondergang Monate.JPG
Sonsondergang in die Kalahari

Aandete is heerlik voor die vuurtjie buite. Die weer is fantasties. 

Volgende oggend besluit die kinders dat hulle nog ‘n dag wil oorstaan en dat ons bietjie kan gaan kyk hoe Upington lyk. Eers wil ons egter die wasgoedjies op datum bring en omdat die ablusiegeriewe en opwasgeriewe so puik is hier, is dit die ideale plek om dit te doen. Dit raak ‘n lekker rustige oggend met gesels, kampgoedjies uitsorteer, varkie krap in heerlike warm water, en wasgoed was. En ook nie lank nie, toe is die wasgoed droog en uitgesorteer. Ons ry toe bietjie rond in Upington, bekyk wat te bekyke is, koop proviand en ry weer rustig uit Monate toe.

Die wind begin laatmiddag waai en daar is stof in als. Ook in plekke waar jy nie gedink het dit is moontlik nie. Omdat hier Wi-fi is, kry almal gou hulle korrespondensie op datum en die res van die aand verwyl ons binne die tent. Ons gaan slaap vroeg.

 

Kamp Monata
Kampplek Monate Lodge

Die wind waai deurnag baie sterk en die volgende oggend staan ons vroeg op met tentflappe wapperend in die wind. Ons help die kinders tent afslaan, maar moet behoorlik vashou aan die seile sodat die tent nie saam met jou wegwaai nie. 

Ontbyt word gemaak nadat als opgeslaan is. Ons trek behoorlik laer met die voertuie om die braaiplek en met die windskerm om die stofie kry ons dit steeds reg om ‘n heerlike ontbyt te maak. 

En toe haak ons vas by Die Mas op Kakamas

Die Mas lê teen die Oranjerivier, wat nou in vloed is, en dit opsigself  is ‘n lieflike gesig. Die amblusiegeriewe is uiters skoon en netjies en ons het vir die tyd wat ons hier bly, die  gebruik van een amblusieblok net vir onsself. Hier is genoeg in die area om te sien en te doen. Ons sou net twee dae sou oorbly by die Mas, maar Charles begin kla dat hy nie lekker voel nie. Ons besluit toe dat ons hier gaan vashaak vir die res van die week. Ons sal die Mas gebruik as basis om al die besienswaardighede te gaan besoek.

Kampplek die Mas.JPG
Kampplek by Die Mas

Die Mas het sy eie brandewyn en Gin disteleerdery en bied proesessies aan.

Later die middag doen ons die brandewyn proe, wat ontaard in ‘n heerlike kuiertydjie. Jack van  Jack soek plek  sorg vir baie pret.   (Hy is ‘n fiktiewe ‘biker” hasie wat interessante plekke en eetplekke besoek en dit op Facebook plaas.).

Ek is gek na die Gin “ketel”. Dis die mooiste afferingte met al sy blink pype en kleppe. Natuurlik moet ons  die Gin ook proe en word ‘n bottel gekoop. (Die Mas het nog net een soort Gin wat hulle stook en wat hulle kort terug eers begin verkoop het.) 

brandewyn proe die mas.jpg
Brandewyn proe by Die Mas

Augrabies watervalle. 

Ons is die volgende oggend vroeg op en na koffie en beskuit, val ons in die pad. Dis vroegoggend toe ons by Augrabies aankom, maar die sonnetjie klits ons reeds. Dit gaan ‘n warm dag word.

Die Augrabies is meer as wat ons verwag het, veral vir die kinders wat dit nog nooit gesien het nie. Maar met ons vorige besoek was die water nie so hoog nie, dus is selfs ek en manlief heel verras oor die gesig.

Kinders Augrabies
Augrabies 2018

Ons verwyl ‘n lang tyd by die watervalle. So ‘n prentjie moet jy tydsaam indrink en in die kleinste hoekies van jou brein gaan vasbêre, sodat jy dit van tyd tot tyd kan kan uithaal en afstof en onthou. Mens moet nie die valle besoek, gou kyk en omdraai om te sê jy was daar nie. Soos als in die Noord Kaap moet jy rustig wees.

Augrabies landskap
Uitkykpunt oor die Oranjerivier in die Augrabiese Nasionale Park

Ons maak ‘n etetjie in die dagbesoekers kamp, en ry toe die kort roete deur die park om al die uitkykpunte te gaan besoek. En vind ook uit dat die begrip “kort” iets heel anders beteken in ‘n pragplek soos dié. Ons klim die Maanrots uit, bekyk die pragtige landskap van bo af, ry elke uitkykpunt aan en neem oral foto’s.

Maanlandskap.jpg
Landskap soos vanaf die Maanrots in die park

 

Kinders maanrots.jpg
Bepeinsing – Maanrots

Ses ure later besluit ons dat dit terug kamp toe tyd is. Ons het nou baie geloop en baie gesien. Na ‘n heerlike aandete met beesvleis in knoffel, klim ons pootuit in die bed.

Na ‘n goeie nagrus, met die geluid van die vloeiende Oranje in ons ore, is ons die volgende oggend lui om aan die gang te kom.

Terwyl die manne slaap, klim ek en my dogter, donkeroggend, voor in die bakkie met ons bekers koffie en beskuit en word daar heerlik geklets. (Niemand in die kamp word gesteur as ons  so vroegoggend voor in die bakkie sit en gesels nie) Een van ons spesiale kuiertydjies. 

Die mas

Met sonsopkoms gaan bekyk ons die watervlak van die rivier en gemeet teen die paal waaraan die bote geanker word, is dit duidelik dat die watervlak steeds styg.

Vanoggend word ons bederf deur die kinders wat vir ons kondensmelk mieliepap met wors maak. Goed vir die gees, nie goed vir die liggaam nie, maar so eenkeer se bederfie is darem nie te versmaai nie.

Wynproe by die Oranjerivier Kelders 

Later die oggend gaan doen ons ‘n wynproe sessie by die Oranjerievier kelders. Natuurlik moet daar weer botteltjie of wat gekoop word (en die toertuig weer swaarder gelaai word).

UNADJUSTEDNONRAW_thumb_30f.jpg
 Jack soek plek het die lekkerste wyn ontdek.

Daarna gaan ry ons om lekker stukkie beesvleis en droeë wors te koop by die slagter. Ons ry ook by die Pienk Padstal aan uit pure nuuskierigheid.

By die kamp word daar deeg geknie vir ‘n macon en kaasbroodjie en die res van die dag word verwyl met geskerts en gesels – nie te wyte aan die wynproe nie… of dalk?

potbrood
Macon (bees) en kaas-potbrood

Natuurlik word daar weer vleisie gebraai, maar soos te wagte word die brood grootliks verober en word die bykosse toe soort van oorbodig. Ai die lekkerte van kamplewe!

Aan alle goeie dinge kom ook ‘n end

Die laaste dag van die saamkamp is op hande en ons besluit om bietjie rond te gaan ry, ‘n paar stukkies lekker kos te gaan koop en dan sommer net lekker saam te kuier. Die kinders het die volgende dag ‘n lang pad wat voorlȇ. My broer en skoonsus is ook op pad van Mosselbaai en sal later by ons aansluit.

Dit word ‘n dag van net gesels, saamkuier en die saamwees geniet. Foto’s en videos word uitgeruil en op laptops gelaai. Kampgoed word uitgesorteer. Hierdie week was net te kort. Tog het ons elke oomblik van saamwees intens geniet. So veel as moontlik ingeprop en baie gesien en geniet.

Boeta daag skemeraand op en ons braai vleisie. Vir oulaas word gekuier en gelag en gesels om die vuurtjie. Ons het soveel kosbare herhinneringe van hierdie saamwees en klim met ‘n dankbare hart in ons beddens.

 

6 comments on “Noord Kaap

  1. Ai hoe lekker toer ek weer van voor af saam julle! Dit was n fees gewees!!! Die lekkerste herringeringe is hier gemaak met die trip…. gelukkig met volgende toer saam julle het ons nou n groter voertuig

    Like

  2. Baie lekker gesels-skryf. Ek voel ek was saam met julle daar

    Like

  3. Julle maak my so jaloers, my hart pyn!

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: