Langer Toere

4X4 Rieldans in die Noord Kaap (Deel 3)

15 – 20 Mei 2018.

Fotos gemerk met * geplaas met vergunning van my skoonsus Hester

Kleinzee (Kleinsee)

Ons besluit buite die Richtersveld dat daar genoeg tyd oor is om deur te druk na Kleinzee (via Alexanderbaai en dan Port Nolloth verby). Ons kom net na half 5 Kleinzee binne gery, en stop by die een restaurant om oor kampplekke uit te vra. Die dametjie daar help ons met die nodige inligting en roetes en ons besluit om sommer by die Crazy Crayfish te gaan kamp in die dorp.

crazy crayfish

Kleinzee het die laaste paar jaar ‘n verandering ondergaan. Die myn het die dorpie aan privaat eienaars verkoop op veilings en huidiglik is die inwoners besig om hulle eie munisipaliteit te skep. Daar is twee skole en en een huisonderrig onderwyser. Oral is mense besig om ou geboue in bedrywe te omskep. Hulle is selfs besig om die een geboutjie in ‘n Mall te omskep. Tans is daar nog net ‘n nutswinkeltjie en broodbakker oop, die res is nog in aanbou. Die eens dooie myndorp het weer lewe gekry met 400 permanente inwoners.

Die kampplek is netjies uitgelê. Daar is groot spasies tussen boomskerms vir die wind.  Drie staanplekke het hulle eie geboude onderdak braai-area met eie ablusiegeriewe. Dit kos effe duurder as die gewone staanplekke, maar weens die wind besluit ons om eerder die opsie te kies. Met ons aankoms by die Crazy Crayfish het ons hulle spyskaart met viskos raakgesien, maar omdat hulle maandae gesluit is, kan ons nie by hulle eet nie. Ons lustande vir ‘n stukkie vis hang darem nou behoorlik uit en ons spring by die Blikbord restaurant in om te hoor of hulle vir ons ‘n stukkie vis het.

 

Bliktrommel.jpg
Die Bliktrommel

Kobus ontvang ons vriendelik. Hy en sy pa bedryf die piepklein eetplekkie. Hy is ook ‘n wonderlike bron van inligting oor Kleinzee en duidelik trots op sy dorp. Ons kry ‘n heerlike groot beker koffie, en word later bedien met die heerlikste vis en skyfies. Dit was regtig die moeite werd om uit te eet. Die rustige pas in die restaurant forseer jou om ook rustig te raak na die dag se aksie en bestuur.

Kleinzee lekkerte

Gelukkig het die wind gaan lê teen die tyd wat ons die restaurant verlaat, en die koue is nie vir ons meer so erg nie. In die geboude beskutting gaan sit ons rustig en maak ‘n heerlike koppie moerkoffie. Ons kuier vanaand effe later as gewoontlik.

Namaqua Nasionale Park

Ons kom nou definitief in die vakansie gevoel, want elke oggend staan ons later op  en kom later weg. Vandag is ook  nie ‘n uitsondering nie. Dis ‘n lieflike dag en teen die tyd wat ons moet vertrek uit Kleinzee, is dit al tyd vir ‘n middagete. Terwyl die manne diesel ingooi en die banddruk nagaan, stap ons gou oor na die restaurant en bestel ‘n roosterbroodjie… en oortree met melkskommel. Heerlik.

Ons ry na die Natuurreservaat via Hondeklipbaai. Die pad vanaf Kleinzee tot by Hondeklipbaai is geteer en dit is maklik en vinnig om tot by ons bestemming aan te kom.

Namaqua kantoor.jpg
Namaqua Nasionale Park ingang vanaf Hondeklipbaai

Aangekom by die natuurreservaat, stop ons gou by die kantoortjie en via die interkom/roepradio verkry ons toestemming om die reservaat in te kom en te oornag. Na al die formaliteite afgehandel is, vertrek ons. Die natuurbewaarder het ons gemaan om seker te maak dat ons banddruk verlaag is tot op die aanbevole druk en ons kan gou sien hoekom. Dit is dik sand waardeur ons moet ry. Natuurlik is dit pitkos vir die manne en hulle geniet die ry in die park terdeë. So nou en dan kos dit nogal vashou en deurdruk om nie met ons swaargelaaide voertuie vas te val nie. Weereens nie ‘n plek om te jaag nie. Ons is teen hierdie tyd al die sinkplaatpaaie aan die weskus  gewoond en ons lywe raak die geskud ook al meer gewoond.

Spoegrivier grotte2.JPG
Spoegrivier grotte

Ons ry eers gou met die Spoegrivier roete om die grotte te gaan bekyk en daarna ry ons om die voëlskuiling te besoek. Teen ‘n rustige pas, en kort kort uitklim om blomme en besienswaardighede te bekyk, bereik ons later ons staanplekkie teen die see. 

namaqua kamp.jpg
Kampplek langs die see

Dit is ‘n lieflike geboude kraaltipe afskorting. Hier is ‘n puttipe toilet en geen water nie. Al jou eie water vir gebruik moet ingery word. Maar ook hierin lê die park se bekoring. Met die see wat slegs enkele meters van jou af sy golwe breek, kan dit mos nie anders voel as jou eie stukkie hemel op aarde nie. 

Groenrivier sonsondergang.JPG
Sonsondergang

 

Aandete is die keer oorskietpot. Ons kan dus rustig een van die mooiste sonsondergange indrink. Vanaand skink ons ook vir die eerste keer die vakansie ‘n “glasie” Oranjerivier wyntjie. Natuurlik in ‘n blikbekertjie, maar waar kan wyn nou lekkerder proe as so langs die see? Ons bou ‘n lekker vuurtjie in die boma en sit en verwyl die tyd terwyl ons gesels oor alles en nog wat. Dit is baie koud hier langs die see. Definitief is ons nou langs die weskuswaters. Almal het mussies op en dik jassies. Ons pak ‘n lekker vuur en almal sit naby aan die vuur. 

Die dag het egter sy tol geeïs op ons en ons gaan kruip baie vroeg in. More is nog ‘n dag!

Groenrivier

Dit was ongelooflik lekker om wakker te word in die nag met die golwe wat op die strand breek, sommer net hier by die toertuig. In die aandstilte klink dit mos asof jy teen die see staan. En is dit hoogwater dan klap daai golwe as dit op die strand breek, dat dit klink soos ‘n kanonskoot. 

Ons moet wag vir die natuurbewaarder om die permit te bring, maar ons is ook erg lui. Vanoggend het ons ‘n behoefte aan ‘n stewige ontbyt en met die afsluiting van ons toer nou digby, begin ons die ekstra kos wegwerk. Ons is ook net besig met die ontbyt, toe die natuurbewaarder opdaag. Al die formaliteite word afgehandel en ons wil net vertrek toe ons besef dat die toertuig geen krag het nie. Dis problematies, want die pad uit die park uit is net dik sandpaaie.  Elbert moet ingryp en hy en manlief besluit dit kan net besoedeling van die dieselfilter wees. Manlief het die vorige dag die diesel vanuit sy jerrykan oorgegooi in die tenk. Na boeta die dieselfilter gebloei het, van die ekstra diesel in die filter ontslae geraak het, en nuwes ingetap het, is die probleem opgelos. Wat ‘n verligting!

Namaqua.jpg
Uitsig vanaf die sirkelroete in die Park

Ons ry eers die 22 km sirkelroete deur die park en sien slegs 4 steenbokkies deur die verloop van die oggend. Toe vertrek ons op pad  uit die park. Die sand is regtig baie dik en die vordering is stadig kuslangs, maar ons verkies dit bo die geskud van die sinkpadpaaie. Daar is egter paar baie mooi plekkies wat ons sien in die park. 

Groenrivier ligtoring.jpg
Vuurtoring Groenriviermond

Drie ure later verlaat ons die park en volg ‘n baie slegte pad al met die Groenrivierroete af in die rigting van Brand-se-Baai. Ons besluit later om eerder die tydsame sandroetes teen die kus te vat. Die hoofpad kuslangs, laat ons voel asof ons vulsels uit ons tande uitskud. Die vordering is ewe stadig hoofpad of sandpad om, maar die dik sand sorg vir ‘n meer gemakliker rit en daar is ook meer van die mooi plekkies langs die kus te sien.

enjin groenrivier.JPG
Oorblyfsels van ‘n skeepswrak

Teen drie uur besluit ons ons is lus vir ‘n Bovrilbroodjie en stop gou om te eet en bene te rek. Ons het ons pa ‘n kuiertjie op die plaas (10 km van Brand-se-Baai) belowe en die tyd stap aan. Ons het nog ‘n lang pad voor en weens ‘n gebrek aan selfoonseine is ons effe onder druk.  Pa het ons vroeër verwag. Ek maak saam met manlief die “mental note” dat in 4×4 wȇreld jy regtig die som van 10km = 1 uur moet toepas. Vorder jy vinniger het jy as’t ware veld gewen. 

Ons kom eers na 5 op die plaas aan en terwyl die mans gou vir pa help om voer vir die skaap af te laai (Namakwaland is midde in ‘n knypende droogte en die vee word gevoer), maak ek en Hester kos. Die mans kom braai vir ons ‘n vleisie en daarna sit ons heerlik en gesels tot laataand. Pa is die ene staaltjies en vanaand kuier ons met dankbaarheid en vreugde saam.

The  Baths – Citrusdal

Ons vertrek laat van die plaas, want vandag is die roete kort en dit is al die pad teerpad. Dit is ontstellend om te sien hoe droog hierdie wêreld geword het, en plek plek begin dit lyk soos die duinevelde van Namibia.

Ons stop gou by Vredendal se winkelsentrum om vars groente en brood te koop. Ons sien baie uit na die warm bron se water om ons moeë lywe te laat ontspan. 

Ons kom laatmiddag aan by The Baths, kry ‘n lekker staanplekkie nader aan die swembaddens en alhoewel dit ‘n knap staanplek is, is ons bly om in loopafstand van die swembad te wees. Die amblusiegeriewe is in ‘n fantastiese toestand en hier is selfs ‘n permanente haardroeër gekoppel wat jy kan gebruik om jou hare droog te blaas! Wat ‘n luukse veral na die twee weke sonder al die geriewe.

Die kampplek is besonders vol vir hierdie tyd van die jaar, dalk weens die warm weer. Na ons kamp opgeslaan het, gaan klim ons in die warm bad en verwyl die res van die laatmiddag in die water. Die water in die swembad is behoorlik warm. Net wat ons lywe nodig het om te ontspan.

The Baths.jpg

The Baths – Citrusdal

Ons het net genoeg tyd om gou ‘n draai te loop om die wooneenhede te bekyk en die poele agter die eenhede te besoek voor die donker toeslaan. Toe is dit terug kamp toe om vleisie te braai. Vanaand kuier ons laat om die vuur. Dis heerlik langs die kabbelende warmwater stroompies onder die bome. Ons sit met kortmouhemde en kortbroeke buite. Dit is ‘n welkome verandering van die koue aande van die laaste twee aande.

Montague karavaan park

Ons vrouens het besluit dat ons bietjie lui gaan wees vandag en dat ons in die Piekenierskloofpas by een van die restaurante gaan stop vir ‘n lekker etetjie. Dus slaan ons net kamp op en vertrek.  In die pas stop ons toe by die Hebron restaurant en eet daar die heerlikste ontbyt. Dit is weereens een van daardie rustige oggende waar jy heerlik sit en ontspan en niks jou aanjaag nie.

Na ontbyt vertrek ons na die kampplek in Montague. Die kampplek is redelik vol bespreek hierdie naweek, want hulle het een of ander funksie aan. Dit vat ‘n tyd om in te boek, want die hek word net vir een bakkie op ‘n keer oopgemaak. Die ander voertuie moet in die pad buite die kampgronde wag, totdat die persone klaar ingeboek het. Dit voel vreemd om so ‘n reëling gade te slaan, maar die kantoordames sȇ dat dit geskied omdat hulle nie genoeg parkering het naby die kantoor nie, en seker moet maak dat almal wel inboek en betaal.

Na ons almal ingeboek het, word net gou kamp opgeslaan en toe loop ons na die warm swembad toe. Die water is net louwarm en ons geniet die water. Maar later raak ons lywe koud en ons besluit dat dit tyd is vir vuurtjie aansteek. Dit is ons laaste aand en ons wil vir oulaas lekker om die vuur kuier.

Daar word behoorlik nabetragting gehou oor die afgelope twee weke se reise, die plekke wat ons besoek het. Baie gelag oor al die 4X4 ervarings. Maar ons neem ook hier die besluit dat as ons in die toekoms weer so ‘n reis aanpak, ons ten minste elke derde dag vir  twee aande op ‘n plek sal oorstaan, om ons lywe en gemoedere ‘n bietjie ruskans te gee. Die aanhoudende tegniese ryery en spelery neem maar sy tol. Maar ons is dit eens, so saamtoer en 4X4 ry doen ons gewis weer.

Vanaand is dit nie ‘n stil in die kamp nie. Dit is die gelag en gesels en gespeel van die kdie kinders en kampeerders wat te hore is. Teen laataand begin dit rustiger raak soos almal gaan inkruip. Ons slaap rustig.

Kamp by Mont.JPG

Sonsopkoms Montague Park

Vroegoggend is ons op en aan die gang. Ons het kampgoed en kampvoorraad om uit te sorteer. Ek gooi maar net so halwe oog in die rigting van die baie wasgoed wat ek by die huis moet gaan was. Die toertuig gaan ‘n ordentlike skoonmaaksessie moet kry as ons by die huis is!

Ons wil eers gou gaan droeë vrugte koop by Cape Dry net buite die dorp en omdat daar ‘n restaurant is, besluit ons om sommer ‘n etetjie daar te geniet voor ons in die pad val.

Ons bestel Cuppichino met room, maar die kelnerin verstaan die “ekstra” room so ietwat verkeerd en bring toe regtig ekstra room in ‘n bakkie vir elkeen. Dit verskaf baie gelag en genot aan ons groepie. Maar was daai (ekstra duur) koffie nou ryk en lekker! Die kos is heerlik. ‘n Wonderlike manier om hierdie toer mee af te sluit.

Op die skerm in die restaurant is Prins Harry en Meghan se gaste  besig om te arriveer, in al hulle prag en praal, vir hulle troue. Maar na al die ondervindinge en pret van die laaste paar dae voel niemand so ryk, op hierdie oomblik, soos ons vier mense om hierdie tafel nie.

 

0 comments on “4X4 Rieldans in die Noord Kaap (Deel 3)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: