Langer Toere

4X4 Rieldans in die Noord-Kaap (Deel 2)

11 – 14 Mei 2018

(Fotos gemerk met * is geplaas met vergunning van my skoonsus Hester)

Ons vertrek vroeg vanaf McDougalls baai en ry via Alexanderbaai tot by die Richtersveld. Die pad is maar ‘n monotone pad met sandhoop op sandhoop sonder enige iets anders tussen in. Die aarde hier is so steriel gemyn deur die myne dat geen voëls sigbaar is nie, nie eers ‘n enkele Jakkalsvoël nie. Die karoobosse wat geplant is om die skade te verbloem, versteek die nare waarheid dat ons mens se versugting na geld en minerale, onherroeplike skade aan die natuur sal aanrig, wat jare gaan vat om te herstel.

In Alexanderbaai is die meisie by die inligtingskantoor baie behulpsaam. Ons hoor dat die mond van die Oranjerivier verspoel het, en dat ons nie tot daar kan ry nie. Nogal ‘n jammerte. Ons spandeer dus nie baie tyd daar voordat ons verder reis Richtersveld toe nie.

Die pad tussen Alexanderbaai en die Richtersveld is deurgetrap en erg sinkplaatpad. Dit neem ‘n redelike lang tyd om tot daar te kom.

Richtersveld

PK7_1891edt.jpg

Die bekoring van die Richtersveld lȇ in die afgesonderheid. Dis ‘n droeë landskap en jy word voor die tyd gewaarsku dat van die kampplekke nie water het nie. Dit klink vreemd as jy reken dat die park reg langs die Oranjerivier lȇ, maar afstande in die park is groot. Jy is dus verplig om jou eie water vir gebruik saam te ry. Ook word jy gemaan om verkieslik twee voertuie te wees wat saam ry, ingeval jy vassit in die sagte sand, of omdat die voertuig onklaar raak. Hier is die afstande tussen kampplekke groot. Tien kilometeres klink nie ver nie, maar hier in die park, het ons tot die slotsom gekom, beteken elke 10 km, gemiddeld een uur om te voltooi, weens die soort paaie. Daar is geen selfoon opvangs by die meeste plekke nie en ons klein handradio’tjies het handig te pas gekom om met mekaar te kommunikeer.

Hier is ook geen vullisdromme by die kampplekke nie. Parkeraad kom maak nie daagliks hier ‘n draai soos in die ander groot parke in die land nie. Wat jy dus  inneem in die park in, moet jy weer saam met jou uitneem. So, dink verseker aan ‘n praktiese manier  om van jou kombuisrommel ontslae te raak. Na ‘n paar dae in die Richtersveld kan kombuisafval nogal ‘n onwelriekende reuk agterlaat. (Ongelukkig het ons by van die kampplekke selfsugtige mense se afval teëgekom. Sommer vullissakke wat so gelaat is en dan verstrooi oor die area lȇ omdat die ape en bobbeljane dit beetgehad het.)

De Hoop

Dit is my broer en skoonsus se eerste besoek aan die Richtersveld. Onsself was al vantevore daar, maar dit was net vir een aand, so ons is almal baie opgewonde oor die vooruitsig om meer te ontdek.

Dis doodstil in die ontvangs by Sendelingsdrift se kantoor. Die Oranjerivier het sy walle hier behoorlik oorstroom en die rivier vloei steeds baie sterk. Met dié dat die pont nie loop nie, is die meeste mense weg. Hier is ook nie die normale vloei van mense heen en weer van Namibia nie, so die restaurant is toe. Die stoep is sonder enige mense. Dit lyk byna spookagtig stil. Ons besprekings vir die 3dae word in ‘n ommesientjie afgehandel en toe vertrek ons verder na De Hoop.

Hand of God El en Hes.JPG

Ons ry die kort roetetjie tot by Potjiespram en gaan kyk wat daar te siene is.  Stop by die gebruiklike “Sheppards tree” , en neem die foto van die “hand van God”. Hierdie keer egter voel dit asof die hand baie gekrimp het en baie kleiner is as die eerste keer.

 

Akkedispas.jpg

Die rit De Hoop toe via die Akkedispas is lekker gemaklik met die 4X4 en alhoewel daar ‘n paar tegniese dele is, voltooi ons die afstand in ‘n redelike kort tyd. Ons is net 3 groepies wat hier oornag. Soos die vorige keer stel de Hoop nie teleur nie. Die kamp lȇ reg langs die Oranjerivier en jy kan jou tent opslaan tot teen die water as jy wou.

Hier is ‘n basiese amblusieblok met koue water beskikbaar om te stort. Parkeraad het  hier ook ‘n ry storte en toilette uitgebou met draad en klip. Maar dit is gesluit en word seker net gebruik wanneer hulle groot geleenthede soos uithouritte / roeie, marathonne ens. aanbied.

PK7_1899.JPG
Ablusieblok by De Hoop *

Dis ook nie lank nie, toe kook ons keteltjie met warm water sodat ons ‘n heerlike warm stort kan prakseer. Ons het ‘n sakstelsel en ‘n bakstelsel(stortkop wat op batterye werk). Maar hier werk die sakstelsel beter en nadat ons die warm water opgehang het in die geboude stort van Parkeraad, het ons sommer ‘n lekker stort. Ons herhaal die patroon vir my broer en skoonsus en nadat ons almal verfris uit die stort kom, pak ons ‘n vuurtjie vir die aand. Ons kuier laat onder die sterre met die klank van die lopende rivier reg langs ons. Wat meer wil mens hȇ?

PK7_1900_edited-2.jpg
Uiteindelik is ons in die Richtersveld! (De Hoop)*

Richtersberg

Ons staan lui op. Maak ‘n lekker ontbyt en vertrek toe met die rivierroete na Richtersberg. Daar is ‘n langer alternatiewe bergpad roete ook, maar die manne is lus vir sandry.

Die pad het baie dik en sagte riviersand en dit is nogal lekker uitdagend vir die manne. Dis duidelik aan die baie spore op die roete dat van die 4X4 manne lekker speel op die roetes.

Richtersberg kamp lekker.jpg
Richtersberg Kampplek*

By die Richtersberg het die kampplekke teen die rivier ook baie verspoel en ons het min om van te kies. Min is egter ‘n relatiewe begrip, want ons blyk die enigste kampeerders te wees. Hier is ook een amblusieblok met ‘n kouewaterstort beskikbaar.

Omdat ons so ‘n kort afstand afgelê het, besluit ons om die 3.8 km te ry tot by die Tattasberg boskamp en te gaan kyk hoe dit daar lyk. Dit is op die oewer van die rivier geleë en dit is ‘n pragtige plek met klein Kothuisies teen die berg. Al die huisies het al die nodige geriewe beskikbaar, selfs sonkrag.  By Tattasberg is geen kampplekke nie. Dis verafgeleë en stil vir diegene wat net wil kom rus.

Tatasberg.jpg
Tattasberg

Ons draai om en ry terug kamp toe. Op een van die sandpaaie misgis my man hom effe met die diepte van ‘n poeiersandgat. Hier is kol kol poeiersandkolle wat soos bruin babapoeier lyk. Gelukkig vir ons stamp net die onderkant van die bosbreker die rand van die gat. Dis poeiersand net waar jy kyk! Die hele kajuitruim van die bakkie is die ene stofbad! Die gevolg is, (sou ons later besef) dat die voorraad agter in die toertuig hulleself herrangskik het. Een van die koeldrankbottels se proppies het in die vrieskas oopgespring en al die koeldrank het oor die vleis uitgeloop. Ook het die water in die waterkan, agter in die toertuig, begin lek van die rondgedansery van die bakkies op die roete.  Met die oopmaak van die deur is dit water ooral. Dit is dus eers ‘n droogmakery en skoonmakery voor ons enigsins iets anders kan doen. Water met die fyn bruin poeierstof gemeng is nou ’n modderpappery. Nou ja, so leer ons meer oor 4X4 ry.

Na als gou nagegaan is en opgeruim is, bring ons die res van die middag in die koelte van die bome deur, knie broodbeslaggie vir ‘n potbroodjie, kuier en gesels. Laatmiddag na ‘n lekker warm stort,  begin ons potjie maak. Dit kos nogal fyn beplanning, want die ape is oral om ons en is blitsig. Hester haal ‘n ui uit die trommel, draai om om ‘n skerp mes uit haar rak te haal. Toe sy terugdraai is haar ui klaar deur een van die rakkers gesteel. Ta dink klaarblyklik uie is heerlik, want hy sit en verober die hele ui net daar.

 

Die muggies en vlieë hier is ook baie erg en iemand moet heeltyd die kritters wegwaai terwyl die ander kos of koffie maak, anders het jy kritters vir garnering. Dit is regtig lastig en ons moet kort kort goed spuit om die lasposte weg te hou en sitronella kerse brand.

Donkerte bring uiteindelik vir ons verligting van beide die ape en die vlieënde monstertjies. Dit word ‘n heerlike aand buite en ons sit kortmou en kortbroek tot na agt. Gaan klim vroeg in die bed. Niksdoen is ook soms uitputtend vind ons uit.

Kokerboomkloof

Ons het rustige ontwaking. Vandag het ons weereens net ‘n kort afstand om te voltooi en die hele dag lȇ nog voor. Na die gewone oggendroetine van skottelgoed was en oppak, vertrek ons rustig na Kokerboomkloof. Op party plekke ry ons weereens deur dik sand, ander plekke is net bietjie tegnies weens die pad en rotse. Maar dit is nie ‘n moeilike roete om te ry nie.

Kokerboomkloof uitsig.jpg
Uitkykpunt naby Kokerboomkloof

Ons ry by al die uitkykpunte aan. Dit is ‘n pragtige wêreld hierdie. Massas rotsberge troon bo oor kaal verlate vlaktes uit. Kokerboomkloof self stel nie teleur nie. As ek kan kies sou ek eerder die meeste van my tyd hier wou spandeer. Genestel tussen groot ronde klippe, is klein eenvoudige amblusieblokkies gebou. Daar is ‘n kraan by ‘n wasbak, maar alhoewel hier ‘n stort gebou is, geen water vir stort nie. Die water loop baie tydsaam,  maar by ons amblusieblokkie is darem water en die geriewe is skoon. Hier is ook geen ape of vlieë of muggies soos naby die rivier nie. Heerlik. 

Kokerboomkloof kamp.JPG
Weggesteek tussen groot rotse

Die weer is fantasties vandag. Die lig op die groot rotse, berge en op die kokerbome is ongelooflik mooi, en ons spandeer baie tyd deur rond te drentel, rotse te beklouter, rond te loop en fotos te neem. Ons is net drie groepe wat vanaand hier kamp, maar die een groep kan nie eers die ander groep sien of hoor nie, want elke kampplek is so uitgelê dat jy heeltemaal weggesteek is tussen hierdie massiewe rotse of bergwande. ‘n Ware kuierplek. 

Richtersveld kokerboom.jpg
Kokerboomkloof

Met die baie tyd op hande is die lus vir Biefstuk en skyfies, gemaak op die vuurtjie, hoog op die agenda. Omdat die weer so lekker is, word dit ‘n heerlike laat kuiertjie om die kampvuur. Die sterre aan die hemelruim is vanaand ekstra helder.

Op pad uit

Helskloof.jpg
Op pad in die Richtersveld

Ons is traag om die volgende oggend die kamp te verlaat. Die rustigheid van die Richtersveld, die vele skakerings en kleure, die plante en die rotse het ‘n massiewe indruk op ons gemaak. Maar ons tyd is beperk en ons het ‘n lang stuk pad wat voorlȇ. Dit is so 60 km tot by die hek en ons moet nog oor die Helskloofpas ook. Ons werk uit dat dit ons so 5 ure sal neem om tot daar te reis (en ons was baie na daaraan).

Richtersveld uitsig.JPG
Uitsig vanaf die Helskloofpas

Tussen sand en klip wissel die pad. Ons is nou al gemaklik met die verandering van ratte en die wisseling tussen vierwielaangedrewe en laestrek. Dit kwetter oor die radio en koddige sȇgoed word gereeld kwytgeraak. Daar word ook kort kort gestop om fotos te neem. Die uitsig vanaf die pas oor die vlaktes is ongelooflik mooi.

Ons stop later in die Helskloofpas om middagete te eet. Sommer net daar in die pad. Ons het nog net die een voertuig opgemerk voor ons, dus weet ons dat dit lank sal wees voor ons weer ‘n voertuig sien – indien wel.

IMG_4398_edited-1
Perskeblatjang

 

Wat kan dan lekkerder wees as ‘n broodjie met koue vleis en oom Awie Grove se tuisgemaakte perskeblatjang daarop?

Sommer net daar langs die pad word daar eers rustig broodjies gebou en lekker geëet. Dit is al asof ons rede soek om nog net so klein ou rukkie langer hier in die Richtersveld te vertoef. Net nog so ou klein rukkie langer te talm. Maar ons weet ook dat nog avonture  vir ons voorlȇ.

 

Dit is net na 2 uur toe ons die Richtersveld verlaat. So gou ons weer kan, sal ons graag weer hier ‘n draai wil kom maak.

0 comments on “4X4 Rieldans in die Noord-Kaap (Deel 2)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: