Langer Toere

4X4 Rieldans in die Noord Kaap (Deel 1)

6 – 10 Mei 2018

(Fotos gemerk met * is geplaas met vergunning van my skoonsus Hester)

Hierdie was die eerste toer wat ons met ons “nuwe” 4X4 Bakkie (Toertuig) sou onderneem. My broer Elbert en skoonsuster Hester het besluit om by ons aan te sluit. Elbert is die meer ervare 4X4 man en kon ons help met die besluite rondom bande, ratte en al die dinge wat ons nog niks van weet nie.

Die plan was dat ons die Augrabies besoek, en vandaar al met die 4X4 paaie langs die Oranjerivier sou ry om al die plekkies te besoek wat ons nog nooit gesien het nie. Dan sou ons deur die grenspos by Vioolsdrif deur die suidelike Namibia reis, en oor die pont deur die Richtersveld. Maar ons sou ons laat lei deur hoe ons reis en elke dag besluit wat ons volgende bestemming sou wees.

Dit was tydens een van hierdie ritte waar ons so al agter my broer hulle se bakkie aangekruie het deur die dik sand, waar ons begin lag het oor die skud en rondspring van die bakkie in die sagte sand. Die sand in die droee rivierlope was op plekke baie dik en dit het regtig vernuf gekos om in die baan te bly. Dis waar ons dit die Rieldans begin noem het, na die mense (Namas en Koi) wat in hierdie area bly en die Rieldans doen.

Kakemas

Die mas
Sonsopkoms oor die Oranjerivier in vloed by Die Mas.

Ons het vir ‘n paar dae vasgehaak hier op Kakemas. Dis Meimaand en die weer is ongelooflik lekker. Die dae is bitter warm, maar saans raak dit effe koeler. Net so dat jy darem die kombersie ietwat optrek na die kinnebak se kant toe hier van so 2 uur soggens af.

Ons staan teen die Oranjerivier by die Mas. Vir die laaste week het ons saam met ons kinders getoer in die Noord Kaap. Al die pad vanaf Kimberley. En toe het ons ons staanplekkie kom kry hier by die Mas. Die Oranje is in vloed. Vir die afgelope 4 dae het die water gestyg met so ongeveer 50 cm. Bondels en bondels riete, pale, plastiek en ander gemors het nou al by ons verbygedryf oppad na iewers of na die see. Maar dit moet eers verby die Augrabies watervalle. Dis waarheen ons op pad is. My broer Elbert en skoonsus Hester het opgedaag vanaf Mosselbaai en ons toer nou verder saam met hulle. Die kinders se vakansietjie laat nie toe dat hulle verder kan toer nie. 

Elbert se enkel het seergekry in die week en hy loop nog nie lekker nie, so ons besluit is toe om die voet nog ‘n daggie kans te gee om te herstel en eers ‘n draai by Riemvasmaak te gaan maak. Die warm water daar is mos net wat die enkel nodig het.

Riemvasmaak

Riemvasmaak
Riemvasmaak tussen die kranse

Die kinders moes vroeg in die pad val terug huis toe en ons is dus vroeg op. Elbert en Hester voel bietjie flou na die lang pad vanaf Mosselbaai. Na ‘n baie rustige onbyt is ons oppad. Die afstand na Riemvasmaak is nie ver van hier nie.  ‘n Paar weke gelede het dit in die area gereen en die velde langs die pad is vol goudgeel duwweltjie blommetjies. Plate en plate geel blomme tussen wuifende geel gras. Dis prentjiemooi. Die pad is die ene sinkplaatpad, maar die omgewing maak op vir die slegte stukke pad. 

Die dorpie Riemvasmaak is klein, maar hier hou die mensies hulle erwe en omgewing mooi skoon en nêrens is gemors sigbaar soos by al die groter dorpies nie. Dis Sondag en oral verskyn daar egter kindertjies met skinkborde vol klippies wat hulle aan jou probeer smous vir ‘n paar rand. Of hulle bedel openlik vir kos. Dis nogal ‘n sober herhinnering aan die situasie van ons land op die oomblik, maar ons laat nie toe dat dit ons dag bederf nie.

Ons sak met die pad af tussen die berge. Dis nou regte 4X4 wêreld of bereikbaar met motors met ‘n hoë grondvryhoogte. Die manne is in hulle element. Teen ‘n baie stadige pas is ons die nou paadjie af tot onder in die kloof by die bronne. Net om te onthou ons het vergeet om hout te koop. Nou ja, houtskool sal die ding moet doen, maar ai ‘n lekker ou vuurtjie sou vanaand lekker wees.

Ons word vriendelik ontvang by die kantoor en is die enigste mense tans in die kloof. Die res van die besoekers het vroeër vertrek, vertel die man by die kantoor. Maak julle maar enige plek tuis, sê hy.  Julle kan ook in die rivierloop kamp. Net wat ons wil hoor!

Riemvasmaak kantoor.jpg
Riemvasmaak*

Die ablusiegeriewe is baie basies. Daar is een toilet vir die manne en een vir die vroue. ‘n Rietskuiling effe af, nader aan die rivierloop, het ‘n kouewater stort. Op ‘n afgesonderde plek in die veld staan ‘n  effe vervalle geboutjie, dis die “longdrop”. Dis egter genoeg vir die mense wat wel afkom om hier te kom kamp en darem net die basiese geriewe nodig het. Oral teen die hellings van die berge is egter luukse huisvesting vir die manne en vroue wat dit verkies. Ons is egter in ons element. Ons het alles wat ons nodig het by ons.

Dis 12 uur die middag, baie warm en ons gaan soek dadelik die warm poel op. Dit is pragtig uitgebou en die skoon water is omtrent veltemperatuur. Ons vrees dat ons velle gaan afbrand is verniet, want skaars ‘n halfuurtjie na ons in die poel geklim het, skuif die son agter die hoë kranse in en gooi lieflike skaduwees oor als. So elke halfuur kom dagbesoekers, wat net wou kom kyk waaroor als gaan, aangestap, knoop ‘n geselsie aan en loop verder. Ons sit 3 ure in die bad voordat ons uiteindelik terugstap kamp toe.

Riemvasmaakkranse.JPG
Kranse toring bo die kampplekke uit in Riemvasmaak

Twee mans, wat saam die Visrivier gaan stap, kom later aangery en knoop ‘n geselsie aan. Hulle vertel ons toe dat hulle met die pont oor Sendelingsdrif wou gaan, maar weens die vloed is die pont gesluit. Dit verander dus ons planne om die Richtersveld via Namibia in te gaan. Na bietjie beraadslaging ondermekaar, besluit ons om nie meer Namibia suid te doen nie, maar wel die Richtersveld te doen en vandaar langs die weskus te toer via die Groenrivierroete. Dis die voordeel van toer buite spitstyd. Mens kan planne verander as die nood druk.

Dis ‘n heerlike warm aand en buiten dat die muskiete pla (gelukkig het ons smeer en spuitgoed daarvoor) kuier ons tot laat. Al die vensters van die toertuig en tent is oop met net die muskietnette toe, so warm is dit. Teen middernag kom daar egter ‘n koue windjie op en dit raak aansienlik kouer. Ons rits die vensters halflyf toe en geniet die koel aandluggie, met die kombersie later styf om ons getrek.

Augrabies watervalle /Nasionale Park

Ons vertrek vroegoggend om die Augrabies te besoek. Die bakkies klim die steil pas uit Riemvasmaak gemaklik uit. Ons is egter spyt om hierdie pragtige stukkie wêreld te verlaat.

Augrabies dubbelval
Augrabies Waterval

In Kakemas vul ons gou ons dieselvoorraad aan. Ons kom op die middaguur aan by Augrabies. Dis warm en net daar in die ontvangskantoor besluit ons om in die park oor te slaap, sodat ons die waterval later die middag kan besoek. Parkeraad se mense is soos altyd flink en hulpvaardig en hier is vele kampplekke om van te kies. Ons word egter gemaan om versigtig te wees vir die stout bobbejane en blou ape en om als weg te pak voordat ons iewers heen loop. Baie goeie raad want ons sien later hoe ‘n groot blou aap probeer om die vullis skerm se houtpale te probeer oopbreek om by die kos uit te kom. Parkeraad-1, aap-0.

Augrabies Kamp.JPG
Kampstaanplek in die Augrabies Nasionale Park

Augrabies se kampplek is pragtig skoon en netjies. Die ablusiegeriewe is in mooi toestand. Na die basiese geriewe gister voel dit sommer 4 ster vir ons.  Die park is rustig en ‘n paar voertuie en motorfietse kom later die middag kampplekkies soek.

Dis ‘n rustige middag van gesels en kuier en die stilte om ons geniet. Later toe dit koeler word, stap ons rustig tot by die vele uitkykpunte. Boeta stap nog maar moeilik met die seer enkel, maar dit gaan al beter, dus geniet ons almal die pragtige gesig met die tuimelende waters. Die stadiger pas verplig ons om rustig te wees en die skoonheid te geniet. Die waters is vandag selfs meer indrukwekkend as die vorige week toe ons hier was saam met ons kinders.  Waarlik ‘n gesig om te sien.

Augrabies grote.jpg
Water storm oor die waterval*

Die aand is weereens warm. Dit word ‘n heerlike aand om die vuurtjie en dis al asof die tjoppies vanaand dubbel so lekker smaak as ander aande. Ons kruip in toe manlief op sy stoel aan die slaap begin raak. 

Vroegoggend is ek op om foto’s te probeer neem van die valle met sonsopkoms, maar die mis wat bly opstyg vanuit die rivier beïnvloed die kamera se lig en ek kom net nie uit by dit wat ek beoog het nie. Ek geniet egter die  voorreg om alleen op die platform te staan en die prentjie te geniet. 

Augrabies sonsopkoms.jpg
Sonsopkoms oor die Augrabies

Teen die tyd wat ek terugkom by die kamp, het die ander almal verrys uit hulle beddens. Ons gesels met een van die natuurbewaarders vir ‘n tydjie en vertrek op die 4X4 roete in die park. Ons sien byna geen wild nie, maar geniet die natuurskoon.

Augrabies Banddruk.jpg
Bande afblaas by die beginpunt van die Augrabies 4X4 Roete

 

Na 2 ure van tegniese ry en besluite neem, besluit ons om die ontsnaproete te gebruik by Middelpos. Ons maak eers gou ‘n middagetetjie net daar. Snaaks hoeveel lekkerder ‘n tuna toebroodjie proe as jy hom sommer so in jou hand staan en eet terwyl jy oor die vlaktes en berge kan uitkyk. Proe mos heel anders as wat jy dit in die stilte van jou huis op jou glasbordjie sit en eet.

Die sirkelroete lewer ook nie eintlik veel op behalwe vir twee springbokkies, ‘n paar kameelperde en so 5 enkellopende gemsbokke nie. Maar ons is hoogs tevrede met die pragtige natuurskoon en verlaat die park relatief laat die middag.

Die aand slaap ons oor buite die park by die Augrabies Falls lodge and Camping. Dis ‘n heerlike skoon kampplek, waar elkeen sy eie ablusiegerief het. Al die staanplekke het gras onder heerlike koeltebome. ‘n Kroeg en restaurant is ook op die terrein en die kos lyk waarlik aantreklik, maar ons hou by ons beplanning om pastagereg te eet vir aandete. Ons spaar ons uit vir viskos langs die weskus. Dink ons begin nou bietjie see ontrekking kry😁. 

Augrabies Lodge Kamp.jpg
Augrabies Falls Lodge se Kampplek

Moet nou nie ‘n heerlike boere ontbyt by die Lodge se restaurant mis voordat jy vertrek nie. Dit is regtig goeie waarde vir jou geld en dis heerlik om na die afslaan van die kamp eers rustig vir ‘n uur of wat net te ontspan in die eetsaal of op die stoep en dan heerlike koffie saam met die ontbyt af te sluk.

Pella en klein Pella

Die vorige week het ons ‘n paar 4×4 reisigers ontmoet wat ons afgeraai het om die roete na Klein Pella te ry. Enersyds omdat hulle die pad so sleg gevind het en andersyds omdat alles, volgens hulle, verwaarloos is en agteruit gegaan het. Maar my boeta het ‘n TV program van ‘n jaar of wat terug in sy geheue, en wil bitter graag gaan kyk hoe dit daar lyk. Dus neem ons ‘n gesamentlike besluit dat ons gaan ry en kyk hoe dit waarlik lyk, en as ons voel dat die pad te rof raak, draai ons doodeenvoudig om. 

Ons is die vorige dag gewaarsku deur mede kampeerders, oor Pofadder, waar ons moet deur en waar  die vorige dag opstande was. Maar met navraag by die mense van die Lodge verseker hulle ons dat hulle geen nuus gekry het dat die opstande deurnag aangegaan of weer vlam gevat het vanoggend nie.

PELLA.JPG
Pella *

Die pad Pella toe, via Pofadder is toe glad nie so sleg nie. Van die vorige dag se toi toi en bande brand, is net die skade aan die pad en die gebrande rubber en draad sigbaar. Die res van die dorp is doodstil. Die woede van pofadder se mense is klaarblyklik vir eers uitgewoed. Dit is so stil dat ons gou by die koöperasie stop en ‘n ander kompressor koop om ons, nou stukkende een, te vervang. Die dame by die kassier oortuig ons dat die pad Pella tpe nie so sleg is as wat almal sê nie, en ons vertrek met ‘n rustige gemoed.

PK7_1862
Katolieke kerk Pella *

Ons arriveer oor etenstyd by die Katolieke kerk in Pella. Dis soos klokslag of ‘n jong tienerseun daag op om te begin bedel en om stene aan ons te smous. Een van die dames kom sluit egter vir ons die kerkie oop en vra mooi dat ons geen bedelaars moet betaal of kos gee nie, sodat hulle die euwel van bedelary in die gemeenskap kan uitroei. Dit raak klaarblyklik ‘n groot probleem. Ons skenk op haar versoek eerder die geld aan die kerkie (wat weer gemeenskapsdiens met dit verrig).

Pella Kerk interior.JPG
Die pragtige binnekant van die kerk in Pella

Die kerkie is pragtig en het ‘n ryke geskiedenis en na ‘n paar foto’s, en bietjie gesels, vertrek ons na klein Pella via een van die 4×4 roetes. Ons draai egter na so 6 km oppad na die Oranjerivier om, omdat die pad net te sleg sinkplaat is, en neem ‘n alternatiewe roete. Hierdie keer ry ons heerlik op een van die agterpaaie. As jy nie van beter weet nie, sou jy dink dat jy in die suidelike deel van Namibia rond toer. Dit is immers net die bergreekse en die Oranjerivier wat ons van Namibia skei. Die veld is, na ‘n onlangse reëntjie getooi in ‘n tapyt van pers en geel blomme met die soetste reuk. Pragtig. Die roete is op party plekke nogal baie tegnies en ons moet ‘n paar keer uitklim om die lyn te bepaal, maar ons almal geniet die rit en kom twee ure later in Klein Pella by die Karstens boedery aan. Dit is een van die grootste dadelplantasies in die Suidelike Halfrond.

Klein Pella plantasie.JPG
Dadelplantasie Klein Pella

Die dametjie by ontvangs ontvang ons vriendelik en nadat ons vir ons kampplek betaal het, bied sy vir ons een van hulle dadels aan om te proe. Selfs manlief, wat nie van dadels hou nie, is gek oor die vars yskoue dadels en ons koop sommer net daar ‘n paar  pakke dadels. (Ons poging om die toertuig ligter te kry is weer daarmee heen).

Klein Pella Bome.JPG
Dadelpalms

Dis al laatmiddag, maar ons word aangemoedig om deur die plantasies te ry en na die boskamp, wat ongelukkig verspoel het in die vloed, te gaan kyk. En sommer om die eerste draai raak ons verlief op die plek. Soveel van dadelbome het ons in ons lewens nog nooit gesien nie. Rye en rye dadelbome wat netjies versorg word, sagte besproeiing met die berge in die agtergrond, wat meer wil jy hê? Ons klim kort kort uit om foto’s te neem. By die boskamp verstom ons onsigself oor die prag van en ook die mag van die natuur en die waters. Ons kan die skade sien, maar ook waardeer wat duidelik ‘n lieflike kampplek kan wees.  Van verwaarlosing is hier geen sprake nie. Ons is in ons noppies dat ons nie ons ore uitgeleen het, aan mense wat twak praat, en ‘n wonderlike voorreg misgeloop het nie.

Klein Pella rivier.JPG
Uitsig vanaf die verspoelde boskamp

Wat net gou ‘n kort toertjie deur die plaas moes wees, neem ons langer as twee ure en ons kom laterig by die kampplek  aan. Hier wag nog ‘n lekker verrassing op ons. Elke kampplek het sy eie luukse ablusiegerief met volop warm water. Daar is ‘n lekker bak om gou ons klere te spoel wat ons toe oornag laat om droog te word.

Klein Pella kamp.JPG
Sonsondergang oor die Klein Pella kampeerterrein

Dit word ‘n heerlike kuier om die kampvuur en ons klim laat in die bed. Was ons tyd nie so beperk nie, kon ons gerus nog ‘n nag of twee ekstra hier deurbring.

McDougalls baai – Port Nolloth

Ons vertrek redelik vroegoggend, want vandag het ons ‘n lang stuk pad om af te lê. Ons besluit om hierdie keer nie die 4×4 roetes, weens tydsbeperking, aan te durf nie. Ons hou egter op die grondpaaie en vermy die teerpad. Die natuurskoon langs die grondpaaie is ongelooflik mooi.

Blommeprag.jpg

Ons plan was om via Steinkopf na Port Nolloth te reis, maar weens ‘n gebrek aan padborde hier op hierdie roete, ry ons die afdraaipad iewerste mis.  Teen hierdie tyd is die Garmin se tannie (ons noem haar Garmientjie) al so deurmekaar, dat dit nie saak maak hoe lank ons ry nie, sy bly op 48 km voor eindbestemming. Sy bly ons verwys na elke moontlike plaaspad na wie weet waar. Oral langs die pad is motorbande met 4×4 op geverf, ook op die hoofroetes, jy is later so deurmekaar. En die plase en veestasies is wyd uitmekaar. Ons stop maar later by ‘n veewagter met sy spul bokke, wat ons aanraai om met die pad deur te ry tot op Okiep. Die natuurskoon maak op vir al die verdwaal en die ompad wat ons moes ry. Ons is regtig dankbaar vir die belewenis.

Pers blomme.jpg
Pers tapyt *

 

Ons kom later aan by Steinkopf as wat ons beplan het en ons lus vir iets te ete is nou erg. Ons hoop om gou middagete te koop iewers in Steinkopf,  word toe verydel deur ‘n gebrek aan elektrisisteit. Steinkopf het egter ‘n pragtige OK Foods en ons koop sommer daar ‘n paar broodbolletjies en koue vleis. Net ‘n paar kilometers buite die dorp stop ons by ‘n aftrekplek om middagete te maak.

Port Nolloth is egter vir ons ‘n yslike teleurstelling. Ons was ‘n paar jaar terug hier en toe was dit ‘n netjiese dorpie, maar die agteruitgang die afgelope paar jaar is duidelik sigbaar. Ons gooi petrol in en ry net ‘n klein entjie langs die see om vir my broer die mooi te wys en verrtrek na die kampeerterrein in McDougalls Baai.

McDougles kamp.JPG
Kamp McDougalls Baai

Hier is die teleurstelling nog groter! Duidelik is hier ‘n gebrek aan kwaliteitsbeheer van die munisipaliteit. Die ablusiegeriewe is stukkend en die plek is morsig vuil. Die heinings is gebreek, hekke hang aan enkel skaniere. Die see het ook duidelik ’n aandeel gehad aan verspoelings, maar niks word gedoen om dit te herstel nie. Dis glad nie meer die pragplek van tevore nie. So erg is dit dat ons terstond besluit om, soos die ander groep kampeerders, die damesgeriewe van die een blok, wat die skoonste is, te deel en om eerder die volgende dag parkeraad se koue storte in die Richtersveld te gaan aandurf as om hier te stort. Daar is niks verkeerd met oud nie, maar vuil? Nie eers die komperprogram werk daar nie. Kontant wil die kantoor nie neem nie, maar elektroniese inbetalings is ook nie moontlik nie. Ons was nogal geammuseer oor die R100 breekskade deposito betaalbaar. Soos my broer later sê, enigiets wat ‘n kampeerder hier kan doen is eerder opbou as iets breek, want so baie is gebreek, dat dit belaglik is om te dink iets is breekbaar. 

McDougals sonsondergang.JPG
Sonsondergang op McDougalls Baai

Ons maak gou aandete en klim vroeg in die kooi. More lê ‘n langpad voor Richtersveld toe.

0 comments on “4X4 Rieldans in die Noord Kaap (Deel 1)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: