29 April
Daar iets unieks aan ‘n klomp kampmense bymekaar. ‘n Soort toegeneentheid, ‘n kameradie, gebore uit die feit dat ons almal gestroop is van die mure wat ons met die jare om ons gebou het. Hier tel status en titels nie eintlik nie. Noem ‘n beroep en daar is iemand wat ook kamplewe geniet, hetsy dit nou dokter, professors, advokate of tegnoloë is. Of sommer net huisvrouens, studente of afgetredene. Almal deel een area en elkeen kry uit die kamp die deel waarna liggaam of siel smag. Jy deel dieselfde ablusie, kerm oor koue water in die stort of die deur wat nie wil sluit nie. Of staan verras oor al die kostelikhede wat jy soms raaksien in dieselfde ablusies. Dis die lekkerte van kamp.
Hier waar ons op die oomblik kamp in ‘n oorvol kamp, langs die walle van die Rietrivier is dit vanoggend doodstil. Net hier en daar het iemand al geroer om vinnig ‘n draai te hol na die ablusiegeriewe voordat hulle duidelik terugspring in die knusheid van ‘n warm bed of slaapsak. Dis heerlik koel hier langs die rivier en die mis hol sulke bolletjies bo die water. Alles is sopnat gedou.
Gisteroggend hierdie tyd was dit egter ‘n ander storie. Toe was die water in geysers al yskoud gestort en vrouens het gemeenskaplik in die badkamers gestaan en oorlogsverf op hulle gesigte gesit en hare geblaas. Vroegoggend was almal se humeure ook nie op hulle beste, veral omdat die water koud was, nie. Tog was die kameradie duidelik voelbaar en hoorbaar. Dit is die Wilde Klawer toernooi by Kimberley en die kampplek is vol onderwysers en ouers wat die toernooi bywoon. En gister was die begin van die groot wedstryde.
Tannie, sê een van die vroue gister, gebruik sommer my haardroër, want hy is lekker vinnig en ek wil dat my sus hom ook sommer gebruik. Tannie s’n is te stadig! (Dit is darem ‘n opvoubare kampdroeërtjie: toegegee). So gebruik ek toe maar ‘n wildvreemde vrou se apparaat, ter wille van die spoed en omdat daar net een muurprop is vir sulke toerusting. En so waai daai warm wind my kop in 2 minute kurkdroog en geniet ek elke oomblik van die warm hitte na die amper koue stort.
Gesels die vrouens oor wie se kinders watter span speel en watter posisies en wat hulle met die dag gaan maak. En voer my weg na die dae wat ons sulke dinge saam met ons kleinseun gedoen het. Daardie voorreg was ons nie beskore toe ons kinders op skool was nie. Toe is hulle nog weg met die bus en het in koshuise gebly saam met oormoeg onderwysers/esse.
Deur die dag kom daar kort kort mense aan om geselsies aan te knoop. Kennis oor elke moontlike aspek van toer en kamp word uitgeruil, soos ook tientalle staaltjies. Dis ‘n vrolike gekorswil en gespoggery tussen die manne oor die bakkies, kampplekke en doendinge. So erg is die gekuiery dat my dogter later opmerk: “Dis nou vir ma ‘n ding dat julle so ver van die huis, so baie vriende raakloop!” .Waarop ek toe mooi moet verduidelik dat ons nie een enkele persoon op die kampplek ken nie, dis soos dit maar normaalweg gaan.
Maar vanoggend is dit doodstil in die kamp. Ek kon rustig vyfuur ‘n heerlike warm stort neem, stilletjies my koppie koffe maak en met beskuitjie in die hand by die rivier sit en die geluide hoor, van die natuur wat rondom my ontwaak. Die Hadida wat sy makker wakker maak en hulle wat in ‘n “ag nee”stem in refrein antwoord al met die rivier af. ‘n Hond wat oorkant die rivier sy misnoeë met die geraas uithuil. ‘n Uil wat roep. ‘n Vis wat uit die water spring. Aan die weste het die maan verander na ‘n koëlronde goudakaas, net voor dit oor die horison verdwyn het.
En ek is in my hart dankbaar teenoor die Vader dat ek die wonderlike voorreg het om dit alles te ervaar. En ook om dit saam met my kinders te kan doen. Wag ek op my kinders om hulle koppe uit die tent te steek en die dag saam te begin. Saam te lag, saam verwonderd te wees oor iets, saam te geniet.
Dis die stille kameradie tussen mense wat gemeenskaplik dieselfde ruimte deel en geniet. En waarvan sommige later goeie vriende word.
0 comments on “Om te kamp”