Kort Wegbreke

Gourits Eco farm

Gourits Eco Farm-April 2018

Die wandellied

As ek moeg word vir die lewe in die stad,

lok my die wandelpad, (herhaal)

Langs die pad pluk ek ‘n wandellat,

van die naaste doringboompie af.

En sing my wandellied, en sing my wandellied. ens….

Gourits gasteplaas.jpg
Uitsig oor die selfsorg en glamping eenheid van die plaas.

As hierdie deuntjie in jou kop begin maal en maal, dan weet jy sommer, dis tyd vir oppak en kamp opslaan iewers. Mosselbaai is welliswaar nie ‘n stad nie, maar het genoeg geraas om dit na een te laat klink. ‘n Wegbreek sou ons sommer ook die kans gee om ons toertuig(bakkie met camper op) te gaan toets en seker te maak hy het nou sy nukke laat staan. Vir 6 weke was die bakkie in vir herstel en met die eerste rit, breek daar weer een van die nuwe onderdele. Bakkie word toe weer ingesleep en nog 10 dae later het die werktuigkundiges die probleem uitgesorteer.

Maar ons was nou nie meer so verseker dat die voertuig hom gaan gedra op die langpad nie. Ons besluit toe dat die Gourits Eco farm ‘n baie goeie plan is om hom te gaan toets. Met ons pughondjie Abby ingelaai, (toestemming van die eienaars) was dit dus ‘n uitgemaakte saak dat hierdie die beste manier is om te kyk hoe die bakkie hom gaan gedra.

_K5_6951
Abby aan die slaap op haar eie kampstoeltjie

Vir die hele naweek was ek en manlief die enigste kampeerders. Hier kon ons Abby leer dat die hele plaas nie aan haar behoort nie, en dat sy steeds grense het, al is die wêreld om haar oop en ruim. Ook dat elke persoon met ‘n kopliggie nie ‘n vreemde wese van annerwêreld is nie. Sy moes respek hê vir die plaasdiere en dat onnodige geblaffery nie geduld sal word nie. (Dit vat baie energie en geduld om jou troeteldier kampmaniere te leer.) Maar ai het sy dit nie geniet nie! Soggens as ons met sonsopkoms gaan stap het sy die waterpoele in die rivierloop stormgeloop en pensdiep in die poele gespring. Net om later sulke uitgelate draaie te hardloop voordat sy weereens deur die water hol. Natuurlik met die gevolg dat sy nie die skoonste hondjie was na die naweek nie!

uitsig op roete.jpg
Uitsig oor die vallei vanaf die 4×4 roete

Omdat ons alleen was, wou ons nie die rivierroete aanpak nie, uit vrees dat ons gaan vasval met die volgepakte voertuig. Koos beveel toe ‘n ander 4X4 pad teen die berge op, wat na sy ander lande toe gaan. Dit was ‘n baie goeie voorstel. En die voertuig het hom hierdie keer goed gedra. Die uitsig van bo af oor die area was pragtig en het mens net weereens bewus gemaak van hoeveel ons mis as ons net op die gebaande weë hou. Na hierdie rit is ons uiteindelik tevrede met die werkverrigting van die bakkie en kan ons ontspan.

Die res van die tyd het ons net heerlik gesit en ontspan langs die water. Later selfs ‘n visstokkie uitgehaal en in die dieper poele probeer vis vang. Nie eers ‘n byt gehad nie. Maar net om ons te terg, het ‘n lekker groot vis laat saterdag, heellyf uit die water gespring, op sy stert gebalanseer en vir ons gewaai. So asof hy wou sê: “wê julle het my nie gevang nie”.

Laat Saterdagmiddag gaan stap ons ‘n hele ent met die plaaspad na die eiland in die middel van die rivierloop. Ons is mos alewig besig om te soek na fotogeleenthede. Op plekke waar droogte, voertuig en dier die duinesand verpoeier het (dit lyk na bruin babapoeier), sak ons enkeldiepte in die poeiersand weg. Dit geniet Abby gate uit. Sy speel dat die stof so staan.

_K5_6906.JPG
Ons speel dat die stof so staan!

Elke oggend, net voor sonsopkoms was die geroep van die Kaapse ooruile in die bome duidelik hoorbaar. In die agtergrond hoor jy die Naguiltjies roep, voordat die geluide later verdring word deur verskeie voëlsoorte se gekwetter en sang. Volgens ‘n voëlkenner wat hier was, het hy 75 verskillende spesies afgemerk het op sy lysie en vir Ryna beloof het om dit aan te stuur. Dus is hier genoeg voëls om te sien en af te neem.

Laat Sondagoggend kom kuier Ryna en Koos en word ons bederf met heerlike warm tuisgebakte brood uit Ryna se kombuis. Abby geniet haar nuutgevonde hondematers en sy en die Jack Russels speel te lekker.

Later slaan ons vuurtjie aan en braai vir oulaas nog ietsie op die kole. Ons het nog nie lus vir teruggaan huis toe nie. Maar moeg en tevrede pak ons later op. Dit was voorwaar ‘n heerlike kuier op die plaas waar besoekers vriende raak.

 

 

 

About Helma

My husband and I love to travel in Southern-Africa. We are both amateur photographers and also love building, woodworking and projects around the house. / Ek en my man reis baie graag deur Suider-Afrika. Ons is albei amateur fotograwe. Dan is ons konstant besig met nuwe projekte, hetsy dit houtwerk, bouwerk of huisprojekte is.

0 comments on “Gourits Eco farm

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: