Langer Toere

Suidelike Namibia September 2017 (deel 3)

Ons het effe van ‘n petrolprobleem nadat ons so rondgery het op die D707. En ons kontantvoorraad is nou al laag.

D707.jpg

Gelukkig is Helmeringshausen nie te ver nie. Ons beplan om daar op te vul en dan deur te ry tot by Ais-Ais.

Dis ‘n pragtige oggend, maar ons ry son in, en kan dus nie eintlik die fotogeleenthede so mooi raaksien nie. Ons stop by Helmeringshausen, maar vind uit hier is nie kaartfasiliteite nie. Met ons laaste paar rande gooi ons petrol in, en op een van die omstanders se voorstel, vertrek ons Bethanie toe. Dit is ‘n plek wat ons ook nog nie gesien het nie, en hierdie pad is vandag in baie beter toestand as die D707.

Bethanie is ‘n bitterklein dorpie, maar hulle petrolstasie aanvaar petrolkaarte en in die winkel is daar ‘n outoteller. Dus kan ons weer kontant trek en sommer ons voorraad bietjie aanvul. Net buite die winkeltjie is ‘n koffiewinkeltjie en daar drink ons ‘n heerlike koppie koffie en eet een van die lekkerste stukke wortelkoek nog. (Dit begin vir my al hoe meer lyk of ons nou meer lus kry vir wortelkoek bo die appeltert)!

IMG_3853

Ook maar goed ons het iets geëet want die pad tussen Seeheim en Canon Roadhouse is ‘n gemors. Ons stop om ons bande af te blaas en kruie teen so 40km per uur voort. Soos Gert later sê “as ons nie met ons monde oopgery het nie, sou ons tande deurgeslyt het”. Dit was regtig onplesierig. So sleg dat ek sou voorstel net 4X4 voertuie hierdie pad moet ry. (Ons sou later verneem dat die stuk pad nie meer deur die owerheid onderhou word nie, maar nêrens was daar borde op om jou daaroor in te lig nie.) Dit is dus beter om met die  pad verby Naute Dam na Canon Roadhouse en Ais-Ais toe te ry.

Ais-AisIMG_4285.JPG

Dit neem ons meer as agt ure om tot by Ais Ais te ry. Hier vertel hulle ons dat die park vanaand vol gaan wees, maar vroegaand sien ons nie eers die helfte van die park is beset nie, en net 4 van die woonstelle het besoekers in.

Vir aandete maak ons kerriemaalvleis jafels. Die sekuriteitswag kom gesels en hy kwyl toe so, ons moet vir hom ook maar een afstaan. Na ‘n lang dag sien ons uit om te gaan swem, maar die warmwaterswembad is ysig koud! Wat ‘n teleurstelling! Die medekampeerders vertel ons dat dit die laaste twee dae al so is, en dat niemand buite wou swem nie. Ons swem dus net kort en gaan stap daarna deur die kampeerplek. Dis die meeste toertuie wat ons nog op ‘n keer saam in die park gesien het. Net hier en daar is ‘n voertuig te sien met ‘n daktent op, of is ‘n tentjie opgeslaan.

IMG_4283.JPG

Ais-Ais (dag 2)

Dis ‘n heerlike Sondag en almal roer vroeg. Die meeste blyk om die kamp te verlaat en op die ou einde is ons net 4 paartjies oor.

Ons het vroegoggend gaan kla oor die koue water in die swembad en die manne het die pompe gaan aansit. Net na nege uur eet ons al ons eerste roomys. Dit is baie warm vandag. Die water is teen die tyd net veltemperatuur, maar ons geniet die swemmery en ons paar kampeerders kuier net daar in die swembad.

Terug by die kamp sien ons dat die bobbejane die een medekampeerder se tent geplunder het. Die personeel het nog probeer keer, maar bobbejaan se kind was nie vreeslik beïndruk met hulle pogings nie. Hulle het behoorlik als geplunder. Tot die pillehouers oopgemaak en mercurochroom oor al die beddegoed gespuit. Ook die yskassie oopgemaak en al die vleis en biltong opgeëet. Uitgelese spul bobbejane hierdie, en sekerlik het hulle nie een ‘n hoofpyn na al die pille nie.

Na ‘n heerlike middagslapie, knie Gert vir ons deeg vir brood. Daarna gaan swem ons weer. Ek het heerlike sonbrand opgedoen ten spyte van die sonroom, maar ai die water was so heerlik, ons wou nie een uitklim nie.

IMG_4287
Potbrood bak

Vanaand is die kamp net kwart vol kampeerders. Hier is ‘n groep  van so 10 Hollanders wat al die pad met hulle fietse vanaf die Victoria Watervalle gery het, en elke dag so 60km afgelê het. Na soveel weke op die pad is ek seker hulle het die binnehuise warmbad baie nodig gehad.

Nadat ons die broodjie gebak en vleisie gebraai het, bring ons die res van die aand deur in die warmwater swembad. ‘n Heerlike dag van net lui wees en niksdoen is verby.

 

 

Amanzi

_K5_6604.JPG
‘n Blik op die Oranjerivier vanaf die kampplek

Die plan was dat ons sou kamp op Norotshama, maar daar gekom vertel die ontvangspersoneel dat hulle die kampterrein so twee weke terug opgebreek het om plek te maak vir lodges. Ons ry op hulle aandrang deur na Amanzi. (voorheen Abiqua kampterrein). Hier word ons vriendelik ontvang. Dis waarlik ‘n pragtige kampeerplek teen die Oranjerivier.

Daar is baie veranderinge aangebring deur die nuwe eienaars en elke kampplek het ‘n rietjie heining en rietafdakkie oor ‘n klein opwasplekkie. Dis heerlik privaat en koel onder die bome, want vandag is dit hetig warm hier.

Die Oranjerivier is hierdie keer goed toegegroei onder die riete, maar dit het ook ‘n magdom voëls gelok om hier te kom broei en nes te maak. Ons spandeer ‘n lang tyd met ons kameras en bring ‘n heerlike tyd langs die water deur.

Later die middag besluit ons om die visstokkies uit te haal en ‘n lyn in die water te gooi. Hier is honderderde klein vissies in die vlak water te sien en ons is hoopvol om ‘n panvissie of twee uit te trek. Een van ons medekampeerders en sy vrou is bobaas hengelaars en hulle maak ons gou touwys. Ons is egter nie baie suksesvol nie en die meeste vissies is so klein dat ons net vang en vrylaat. Ek neem egter ‘n foto van Gert se eerste “panvissie” sodat die grote van die vis nie “groei” soos die maande aanstap nie. 🙂 En natuurlik moet my heel eerste vissie ooit ook afgeneem word.

Die wind kom laatmiddag op, maar danksy die rietjiesheinings pla dit glad nie. Ons slaan ‘n vuurtjie aan en kuier laataand met nuutgevonde vriende.

Amanzi (dag 2)

Ons spandeer die meeste van die dag deur foto’s te neem en met mede kampeerders te gesels en te kuier.

Ons haal later weer die visstokke uit. Maar dié keer is ons gelukkig om wel 3 panvissies te vang. Ons ervare hengelaarvriende vertel ons hoe om die vis gaar te maak en ons slaan later ‘n vuurtjie aan om die vissies te braai. Die vis is heerlik, maar boeta hulle het baie fyn grate en dit kos fyneet om nie grate te sluk nie. Definitief nie ‘n maklike vissoort om te eet nie, dus besluit ons om in die toekoms net te vang en vry te laat. Ons is nou maar eenmaal ons seevisse gewoond.

Dis met trae harte dat ons Namibia verlaat. Ons het egter hierdie twee weke in die Suidelike deel van Namibia vreeslik geniet en dit was regtig die moeite werd om die toer te doen soos ons dit beplan het. Deur op elke moontlike plek vir twee dae oor te staan, het ons meer  van die plekke te sien gekry. Dit het ons ook die geleentheid gegee om rustig te raak en weer in voeling met onsself te kom. Ons het meer met die medekampeerders gesels, tyd gemaak om met die mense van Namibia te gesels en te kuier.

Namibia, ons kom kuier gou weer!

About Helma

My husband and I love to travel in Southern-Africa. We are both amateur photographers and also love building, woodworking and projects around the house. / Ek en my man reis baie graag deur Suider-Afrika. Ons is albei amateur fotograwe. Dan is ons konstant besig met nuwe projekte, hetsy dit houtwerk, bouwerk of huisprojekte is.

0 comments on “Suidelike Namibia September 2017 (deel 3)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: