D707 (Die tuinroete van Namibia)
Kanaän

Ons val vroeg in die pad want ons het plek bespreek in Kanaän en wil graag foto’s neem terwyl die lig vir fotografie nog reg is.
Die dag is egter ongelooflik winderig en die pad is ongemaklik sleg. Dit verg al manlief se energie en konsentrasie om in die wind die toertuig op die pad te hou. Van goeie foto’s neem is daar dus geen sprake nie, want die lug is vuil van die stof. Ons stop iewers langs die pad vir ‘n laat ontbyt, maar dit is ‘n haastige affêre want as daar ‘n stofstorm verbykom, is die sand in elke moontlike plek op jou liggaam. Die area is egter ongelooflik mooi.
Ons kom op ‘n snikhete middag op Kanaän aan, windverwaaid, natgesweet en moeg. Marelise, die ontvangsdame, ontvang ons egter vriendelik. Sy stel voor dat ons eers iets by die Lodge gaan drink en dan na ons kampplek toe ry. (En deel ons mee dat in hierdie area die wind gewoontlik so by 7 uur gaan lê.)
Ons ry na die Lodge se restaurant wat bo op ‘n heuwel gebou is, en waar ons die mees ongelooflike uitsig het oor die woestyn. Passionfruit en Lemonade was nog nooit so lekker nie!
Die Kampeerterrein is weereens ‘n verrassing. In hierdie woestynlandskap is daar baie spasie en elke kampplek lê gemaklik omtrent 50 meter van mekaar af. Hier is geen krag nie. Elke kampplek het sy eie afdak en ablusiegerief. Die ablusiegerief is oop bo, en ek dink dit kan nogal baie koud wees in die winter om dit te gebruik. Maar in hierdie hitte en met die sand, het ons lus om af te koel. Jy het skaars tyd om jou hare af te droog of die wind het dit klaar, en in sy eie rigting, droog gewaai.
Net voor sononder arriveer twee Duitse vriende, Bernard en Magdelene, wat ons op die Garasplaas buite Keetmanshoop ontmoet het, met hulle toertuig. Dit is ‘n blye weersiens. Ons gesels net ‘n kort rukkie en toe vertrek hulle op ‘n aandrit saam met die besigtigingsvoertuig van Kanaän die woestyn in.
Gelukkig gaan lê die wind toe 6 uur. Tyd vir ‘n ‘sundowner”! Ek en manlief trek ons stoele nader aan die rand van die afsperring en kry ons sit vir die sonsondergang. En in daardie stilte kry ons die grootste verrassing. Blafgeities in hulle honderde trek los in ‘n koorsang, wat meters ver in woestyn gehoor kan word! Ons, gewoond aan die blafgeitjies in Nossob, is verbaas oor hoe ver die klank oor die plat vlaktes klink. Hemels!
Die sonsondergang in Namibia bly maar eenmaal spesiaal en vanaand is dit ook nie anders nie. Ons kry uiteindelik ‘n paar foto’s geneem. Ek dink nie die term “niks” het al ooit so mooi gelyk nie.
Vanaand smeer ons die lyfroom dik aan ons velle. Die wind het dit so droog gewaai dit lyk na skubbe. Die buitestort onder die melkweg met hulle miljoene sterre is ekstra spesiaal in die warm aandlug.
Kanaän (dag 2)
Vanoggend is ons vroeg op. Dis windstil en ons wil terugry op ons pad van gister om foto’s te neem en ook kyk of ons kan ry tot by Koiimasis, want die e-posse gaan nie deur nie en ons wil kyk of ons slaapplek kan kry daar.
Ons spring weg, maar dit neem ons ‘n hele uur om net die 8.6 km tot by die hek te ry want die fotogeleenthede hier is ongelooflik! Ek dink die toeriste by die lodge en restaurant het gedink ons is bietjie gek, want ons ry omtrent net 100 meter per keer, en spring met die kameras uit om foto’s te neem.
Die pad in Koiimasis toe, lê tussen die Tirasberge en is net so mooi. Dit neem baie lank om by die Plaashuis uit te kom omdat ons so besig bly met die foto’s. Gelukkig is daar vir ons nog staanplek vir die volgende twee aande en nadat die formaliteite afgehandel is, vertrek ons terug Kanaän toe.
Vier ure na ons vertrek het, is ons uiteindelik terug by die kamp. Ons Duitse vriend stap nader en vra hulp met die opwipdak van sy gehuurde toertuig. Die hefboom het afgebreek en ons moet kyk of ons plan kan maak sodat hulle dit weer kan gebruik. ‘n Boer maak ‘n plan en nadat Gert dit op ‘n manier kon herstel, word ons deur hulle genooi om later die aand ‘n wyntjie saam te drink.
Aandete is vanaand skaappot en dit raak ‘n rustige middag met ‘n potjie op die vuur. Ons geniet weereens die sonsondergang en die blafgeitjies. Later die aand stap ons oor na die bure om die wyntjie saam met hulle te geniet onder die sterrehemel. Ons verkeer gesellig saam, ruil staaltjies oor ons verskillende kulture, eet en reisgewoontes. Hulle vra uit oor moontlike plekke om te besoek in Namibia, en Botswana en so kuier ons tot lank na 10uur.
Koiimasis
Dit is vandag ‘n rustige dag, want die eienaar van Koiimasis het gesê dat ons eers 12 uur kan inboek sodat haar mense tyd kan hê om al die ablusiegeriewe reg te kry. Dit is manlief se verjaardag en ons besluit om ‘n lekker koppie koffie te gaan drink op die restaurant se dek. Hulle bied ontbyt aan, maar ons het daarteen besluit.
Nadat ons als betaal het, vertrek ons rustig na ons bestemming. Ons arriveer net na 12 en die eienaar gee ons ‘n keuse om te kamp waar ons wil. Ons kies ‘n staanplek teen die rotse waar daar genoeg skadu is. Dit is baie warm vandag. Ons eet ietsie, en verwyl die res van die middag net daar in die skadu van die boom en rotse. Dit is te warm om iewers te loop of iets te doen.
Teen 4 uur besluit ons om gou ‘n stort te neem voordat die res van die kampeerders opdaag. Al die ablusiegeriewe is modern en skoon en die meeste is meesterlik tussen die rotse ingebou. Van buite is dit, net soos die hoof lodge en restaurant, byna heeltemaal weggesteek tussen die rotse.

Na sononder gaan loop ons ‘n lekker lang ent. Vir aandete is dit heerlike biefstuk met pepersous, mielieplaatkoekies, slaaie en sowaar nagereg.
Koiimasis (dag 2).
Ek is vroeg uit die vere sodat ek foto’s kan neem. Maar die lug is vuil en vol stof en dit werk nie uit nie. Ons sou later hoor dat die wind vreeslik begin waai het van die vorige middag af. Maar omdat die kampterrein en Lodge tussen die berge is, het ons niks daarvan ervaar nie.
Ons gaan loop later ‘n lekker lang ent op die plaas. Dit is ongelooflik mooi hier. Na ‘n lekker warm stort en behoorlik skropsessie gaan klim ons die rantjie by die kampterrein uit. Nie te ver nie, toe is die rotse te hoog, en ons draai om.

Ons besluit dat ‘n middagslapie ‘n goeie idee is en gaan lê. Net om 2 ure later eers wakker te skrik! Dis mos soos mens vakansie moet hou.
Die oomblik toe die son begin sak, gaan stap ons weer ‘n lekker lang ent op die plaas. Dit is ‘n werkende plaas en die eienaar het ons die vorige dag vertel dat dit 7 jaar laas behoorlik op hulle plaas gereën het. Hulle bedryf ‘n hoenderboerdery en nog hokke is in aanbou en dan is daar ook groot hokke met allerhande soorte duiwe te sien. Die stilte hier tussen die berge is iets wat ek altyd sal onthou.

Ons is vroeg wakker, maar traag om van hierdie area te vertrek.
Dit was regtig die moeite werd om te kom kyk waaroor die D707 eintlik gaan. Hierdie area is voorwaar enige fotograaf se droom. Daar is genoeg wonderlike fotogeleenthede….mits die wind nie alles bederf nie. As ons kon, sou ons sekerlik nog langer wou bly, en sal ons volgende keer die Nasionale park ook wil besoek. Dit is regtig beter om 2 nagte per plek oor te staan omdat die area soveel verskillende dinge het om te sien en te doen.
Waarlikwaar is dit op sy eie manier die tuinroete van Namibia.
Een van ons drome. Pragtige fotos moet die artikel vir WEG stuur
LikeLike
Dankie Gert. Bly jy geniet dit. Reis gerus verder saam
LikeLike