Dit was ons eerste kans wat ons kon kry hierdie jaar om bietjie te kan kamp. Op soek na ‘n dierevriendelike kampplek vir ons pug hondjie het ons besluit om eers te gaan kyk hoe die Gourits rivier kamplek lyk. Puggie sou nie die keer saamgaan nie.
Wat ‘n verassing was dit nie. Die kampplek is teen die Valsrivier wat aansluit by die Gouritsrivier. Nie eers 50 km van Mosselbaai af nie. Volgens Ryna en Koos, die eienaars, loop die rivier die afgelope 4 dae, vir die eerste keer in jare. Dit volg na goeie reën in die opvangsgebied iewers in die Karoo. Die kampterrein is nie baie groot nie en uitgelê in terasse. Daar is een sentrale ablusieblok op die boonste terras met twee aparte toilette en twee storte. Die opwasplek aan die buitekant.
Ons was net twee groepe wat bespreek het vir die naweek, dus kon ons kies waar ons wou staan. Ek en Gert het sommer gou besluit dat ons een van die staanplekke teen die rivier wou hê. Tien minute later sit ons rustig met ‘n koeldrank in die hand onder die koelteboom. Iewers hoor ons die visarend roep.
Dit is ook nie lank nie, toe besluit ons om te gaan kyk hoe diep die rivier nog loop oor die pad wat Koos gebruik na een van sy lande toe. Dié lê net oorkant die rivier. Dus is ons versigtig die water in. Die watervloei was nie erg nie, en dit is heerlik warm soos wat dit uit die karoo stroom. Die water oor die pad is net te diep vir ‘n bakkie. Maar die water is so heerlik dat ons vir ‘n ruk heerlik swem en net die vloeiende water geniet.
Ons het ‘n paar vissie sien plas in die water en Gert besluit later om sy visstok uit te haal en sy lyntjie in die water te gooi. Die ander groep mans het dieselfde idee. Dit word dus ‘n rustige middag met visstokke oral te sien en mans wat kort kort lyn intrek, aas bekyk en weer teruggooi. Nie een van ons is egter gelukkig genoeg om vis te vang nie.
Koos het vir ons ‘n sak ordentlike droeë hout, wat ons by hom gekoop het, laat aflewer. Dit word dus ‘n heerlike lang kuier rondom die vuurtjie die aand. Oorkant die rivier is Koos en sy werkers besig om te werk tot laat in die aand. Dit is immers ‘n werkende plaas hierdie.
Laaste dag.
Dis Sondagoggend en alles is rustig op die plaas. Vroegoggend is ek op, en met die kamera in die hand, is ek uit om die beste te maak van die pragtige oggend. Daar is soveel om te sien en fotogeleenthede is volop. Die ander groep kampeerders het net soos Gert besluit om bietjie laat te slaap. Alles om my is doodstil. Vir my voel dit ek is die enigste mens op hierdie pragtige stukkie aarde.
Dis opmerklik hoeveel laer die rivier die oggend is. Dis egter steeds te diep vir ‘n bakkie om deur te ry, maar baie makliker om deur te loop. Die mis lê nog op die water en soos die son warmer begin word, kruip die mis al hoe meer die skaduwee in.
Gert is behoorlik honger en kort na ‘n heerlike laat ontbyt, kom Koos by ons aansluit. Hy stap met ons deur stukke van die rivier waar hy weet die water laer is, sodat ons foto’s kan neem vanaf die rivier se kant. Dit word sommer ‘n lekker uitstappie en ons kuier saam met hom en Ryna vir ‘n lang ruk. Koos gaan wys vir ons die nessie van ‘n rooiband suikerbekkie met twee kuikens in.
Omdat daar nie ander kampeerders is nie, het ons toestemming om bietjie later te kuier. Ons slaan dus weer ‘n braaivleisvuurtjie aan. Ek ontdek ‘n sonbesie wat heerlik bak in die son, teen die stam van die boom, en het vir die eerste keer die kans om hom behoorlik van naby te bekyk.
Ons is baie traag om op te pak na ete. Die naweek was net te kort. Daar is nog soveel mooi om te ontdek en soveel om te sien.
Hier kom ons definitief weer kuier.
0 comments on “Gourits River Guest Farm”