Langer Toere

Suidelike Namibia September 2017 (Deel 1)

IMG_4245

Ons het in die Weg tydskrif gelees dat die D707 die Tuinroete van Namibia genoem word. Die hele besluit rondom die toer hierdie keer in Namibia, was om te sien waaroor dit alles gaan.

Ons wou ook hierdie keer net rustig wees, en elke plekkie geniet vir wat dit bied. Ons wou ook 2 aande per keer oorstaan, sodat ons rustig tyd het vir fotos neem en nie so gejaagd is nie. Ook wou ons nie op plekke te staan waar ons voorheen al was nie. Ons het immers al die gewilde toeristeplekke reeds vantevore besoek.

Die wat ons goed ken, weet al teen die tyd, ons bespreek nie lank vooruit nie. As ons ‘n kampplek teëkom waarvan ons hou, wil ons indraai en kamp opslaan. Die basiese roete word dus uitgewerk, die eerste nag of twee in Namibia word bespreek en daarvandaan word net die plekke wat ons weet toeriste atraksies is, vooruit bespreek. Tussenin bel ons die kampeeroorde net vooraf en hoor of daar plek is, en as dit geluk, dan staan ons daar oor. (Ons het al paar keer bloutjies geloop op vorige toere, maar dit gebeur gelukkig weinig.)

KALAHARI LODGE

Die eerste stop, na 3 dae in die Kgalagadi, is die Kalahari lodge. Ons het reeds vroeër bespreek aangesien dit die eerste oorstaanplek in Namibia is. Dit is ‘n natuurpark wat genoeg wild het om te sien, en die area waar die leeus is, is omhein en omtrent 6 km van die hoofkamp af.

Met ons aankoms word ons vriendelik ‘n glasie koeldrank aangebied. Dit is ‘n warm dag. Ons gesels en vra uit oor die nag en dagritte en hoor van ‘n leeurit wat daagliks aangebied word. Twee van die leeus het ‘n opsporingseenheid om hulle nekke en ons word gewaarborg dat ons leeus sal sien. Al is dit die duurste opsie, voel ek dat ons dit moet doen, en hulle beloof om ons die volgende oggend vroeg met die toertuig te kom optel by ons kampplek. Ons word ook aangemoedig om rond te loop op die reservaat en die bome en wild te geniet.

Ons is regtig aangenaam verras met die kampplekke reg langs die loop van ‘n droeë rivier. Elke kampplek is geleë ongeveer ‘n 100 meter van die ander kampplek en bestaan uit ‘n afdak met sy eie ablusie en klein opwasplekkie. Die afdak is groot genoeg gebou dat jy ‘n sesmantent onder dit kan opslaan as jy dit sou wou doen, maar vir ons is dit ‘n heerlike groot kuierruimte.

In die somerhitte is dit heerlik koel onder die afdak, ek maak gou vir ons ‘n ietsie te ete, en dit is ook nie lank nie, toe raak Gert heerlik in sy stoel aan die slaap._K5_6001.JPG

Toe die son effe laer begin sak, gryp ek my kamera en begin met die droeë rivierloop afloop. Ek is baie opgewonde toe ek ‘n witkol uiltjie raaksien. Die afstand is egter te ver vir ‘n goeie foto geleentheid. Oral loop springbokkies rond. Ek geniet die reuk van die Kalahari, die reuk van die grond en bome wat warm gebak word in die son.

Nie lank daarna nie ontwaak Gert uit sy middagslapie en kom sluit hom by my aan. Ons kom twee bakoorjakkalsies teë wat besig is om te jag. Omdat Gert die langer lens op sy kamera het, maak ek my uit die voete, sodat ek nie per ongeluk die jakkalsies afskrik nie. Hulle is aanvanklik sku vir Gert maar later is hulle hom so gewoond dat hy hulle rustig kan staan en afneem.

Dis ‘n heerlike aand en ons steek ‘n vuurtjie op in die geboude braaitjie. Luister later na die geroep van 4 verskillende uilsoorte, ‘n eerste vir ons. Ons geniet elke oomblik van die heerlike aand en kuier rustig tot laat.

IMG_4192

KALAHARI LODGE DAG 2

Ons is lui vandag. Enersyds omdat ons weet ons hoef nie vandag verder te reis nie, en andersins omdat ons weet iemand anders gaan ons vandag rondry.

Maar ons moet steeds vroeg roer want 7 uur kom die wildsbesigtiging voertuig ons optel. En stiptelik soos beloof daag die voertuig toe op, met drie pare Duitse toeriste reeds aan boord. Dis ‘n ysige oggend, maar die toergids het voorsiening gemaak vir kombersies, en omdat ons nou al wildsritte ken, het ek en Gert lekker mussies en baadjies aan.

Ons gids (Dawid) is ‘n ervare voëlkenner en is byna soos ‘n lopende ensiklopedie. Omdat hy ook ‘n ervare fotograaf is verstaan hy ons behoeftes en gaan uit sy pad uit om ons almal ‘n kans te gee om ‘n ordentlike foto te kan neem. Dawid sien uit sy ervaring voëls raak wat ons andersins sou mis kyk en deur die loop van die oggend sien ons die meeste uile ooit. Daar is ook baie ander wild soos springbokke en die duitsers se gewilde gemsbokke te sien.

DSC_7109

 

 

 

Die eerste leeuwyfies word met behulp van die opspoor apparaat (tracker) gevind bo op een van die rooi duine. Dawid ry met die voertuig tot bo op die duin. Dit het ons nie verwag nie.  Hulle het belowe ons sal ‘n leeu kan sien en sowaar, hulle het gehou by hulle belofte! Ons verwyl ‘n tydjie by hulle en ry toe verder om te gaan soek na nog ‘n trop leeus.

 

 

 

Bo op een van die duine wat ver uitkyk oor die plaas, word daar gestop vir ‘n heerlike koppie koffie en beskuit en koekies. Dit gee ons tyd om ons bene bietjie te rek en net die wye ruimte rondom ons te geniet. (As mens so in die Kgalagadi rondry wonder jy oor wat agter die duine is, en nou is ons agter daardie selfde duine. Dis ongelooflik mooi.)

IMG_4168
Uitsig oor die wye Kalahari

Dis nie lank na ons weer gery het nie, dat ons die volgende leeus sien. Die een is ‘n maanhaarleeu wat alleen rondloop. Hy is omtrent 7 jaar oud en het kom water drink by die watergat. Hy lyk soos ‘n “grumpy old man”, al brullende en vol nukke. Bo teen die duine is nog ‘n maanhaar in die verte sigbaar. Ons ry dus weer die duin op en daar bo, tussen die gras is ‘n groep van omtrent 10 leeus bymekaar. Aanvanklik sien ons eers net twee, maar hoe langer ons sit en kyk, hoe nuuskieriger raak die leeus en later kom die een na die ander tussen die grasse te voorskyn. Ons besef weereens hoe maklik die leeus kan “wegraak” tussen die grasse en jy nie eers weet hoe naby hulle aan jou is nie. Ons kry wonderlike fotogeleenthede.

_K5_6069

Net na 11 word ons weer by ons kampplek afgelaai. Dit was ‘n wonderlike ervaring, elke sent werd, en ons is doodmoeg maar dolgelukkig.

Na lekker middagslapie verwyl ons die res van die middag met ‘n tydskrif in die hand, knie ‘n degie vir worsbroodjie en gaan stap toe weereens ‘n lekker lang ent op die reservaat. Soos die vorige aand sit ons lank en kuier om ‘n vuurtjie, braai ‘n worsie en maak ‘n ligte aandete voordat ons gaan slaap.

GARAS – Keetmanshoop

Ons is vroeg op en traag om te ry. Die proviand in die toertuig is nou laag. Ons plan is om gou by Keetmanshoop te stop om kosvoorraad aan te vul en dan deur te skiet na ‘n ander kampplek.

Op pad, terwyl ons heerlik rustig ry op die grondpad, bars die regter agterband. (die tweede band hierdie twee weke). Hierdie keer is ‘n duidelike bult (swak plek?) voelbaar aan die binnekant van die band. Dis saterdagmiddag en die plekke maak toe. Oorstaan in Keetmans sal dus ons voorland wees, want ons moet die band vervang.

Ons het reeds verneem by die Kalahari lodge oor die probleme met inbrake en diefstal uit die voertuie in Keetmanshoop. Dit blyk nou ‘n probleem te wees deur die hele Namibia omdat toertuie “gemerk” word deur die diewe. Dus stop ons by ‘n winkelsentrum waar ons weet veiligheidswagte is. Ons vul gou ons proviand aan en ry toe deur na Garas Kampeerplek. Ons het gelees in die Weg dat dit ook ‘n kokerboomwoud het en wou graag fotos neem daar.

By Garas ontvang Mariaan ons vriendelik en sê dat sy vir ons kampplek het vir die naweek. Sy wys ons gou rond. Mariaan bedryf die plaas vrou-alleen met haar regterhand Hendrik. Dis ‘n harde werk om water aan te ry plaas toe in groot tenke en elke dag seker te maak daar is genoeg vir die gaste. Oral is handgemaakte (kokerboom)houtpoppe op fietse en grassnyers en ander goed te sien. Dit het begin met Mariaan se vader wat die figure gemaak het uit herwinbare materiaal om uiting aan sy skeppingsdrang te gee. Mariaan gaan net voort daarmee.

Ons kies vir ons ‘n koeltestaanplek, want dit is bloedig warm vandag. Ons stap kokerboomwoud toe toe die son begin sak en dit koeler raak. Ons is net 3 paartjies wat oorstaan vannag en dus voel dit amper asof jy alleen in die kokerboomwoud is. Met ons geluk is dit ook ‘n wonderlike sonsondergang en ons kry fantastiese foto geleenthede.

Sondag op Garas

Vannag was rustig en baie warm. Ons moes met al die vensters van die tent oopslaap. Vannag het ek ook effe las van binnepret gehad. Manlief langs my het in ‘n baie diep en rustige slaap geval. Nou, soms as hy so lekker slaap, dan kom daar ‘n klank uit wat nogal klink soos ‘n brullende leeu.

Ek weet nou ook al, teen hierdie tyd, dat die buitelanders effe skrikkerig is vir die nagtelike suid Afrika hemel. Veral as dit in die buitelug is. En so was dit ook laatnag. Iewers het ‘n toeris besluit dat sy die amblusiegeriewe benodig. So deur die skadunet van die vensters kon ek sien dat die dame en haar metgesel die geriewe ietwat benoud benader. Kyk as die flitslig so heen en weer deur die bome en oor die terrein geflits word, dan weet jy dat die bangegeit mos baie diep lê. Hulle lê die afstand af in heel vinnige tyd, en dit is net mooi op die oomblik toe hulle amper by die ablusieblokke kom, dat manlief so ‘n lekker diep roggelende leeugeluid maak wat oor die Garasvlaktes weerklink. Nog nooit het ek toeriste gesien wat so vinnig omvlieg en terughol na hulle toertuig toe nie. Hulle het ook nie weer probeer terugkeer nie. Ek het heerlik gelag in my binneste, want wakker wou ek “die leeu” ook nie hier langs my maak nie.

Die volgende oggend is ek vroeg op en dit gee my toe tyd om fotos te neem van die beelde en poppe op die plaas.

 

_K5_6266
Hallo Taxi! Ek was mal oor die groot mond agter.

Die res van die dag bring ons net rustig deur. Dis vir ons onbehaaglik warm en ons sit meestal onder die boom se skadu en lees. Na ‘n kort kuiertjie saam met Mariaan in haar winkeltjie en ‘n yskoue koeldrankie uit haar yskas, vertrek sy terug dorp toe vir die res van die dag. Net die stilte van ‘n voertuigdeur wat klap, of iemand wat kos gaarmaak  by sy kampplek versteur die middagstilte.

_K5_6254
Enige herbruikbare materiaal word gebruik om die beelde te maak. Elkeen vertel sy eie storie

Goageb

Nadat ons gou ‘n draai by Keetmanshoop gemaak het om die stukkende band te vervang, vertrek ons na Alte Kalkhöfen. Maar eers wil ek gaan kyk waar die Nauté dam is en ook wil ons gaan brandewyn proe by Naute Kristall digby die dam.

_K5_6306.JPG
Naute dam

Die dam self is vir ons ‘n verassing. In hierdie area wat ooglopend droog is, lê hierdie grote plas water. ‘n Oase in die woestyn.

Ons vind Naute Kristall maklik, proe brandewyn en drink daarna die heerlikste koffie en eet ‘n heerlike stuk wortelkoek. Die pad Alte Kalkhöfen toe is kort en gemaklik.

Alte Kalkhöfen – Goageb

_K5_6339.JPG
Sonsondergang oor die kalkmyn

Op Alte Kalkhöfen is die oorblyfsels van ou kalkmyne te sien, maar die plaas  is ook bekend vir die grootste Lithop kwekery in die land.

_K5_6329.JPG
Lithop (beeskloutjies)

Hilda en Frik se kennis oor die Lithops is ongelooflik en ons verkyk ons aan die honderde verskillende soorte en grotes van die plantjies, en besef hoe maklik ons dit miskyk in die natuur.

Ons was baie gelukkig om ‘n staanplekkie in die Shakity City kampeerplek te kry, want daar is net 3 kampplekke. Gelukkig kon ons vooraf bespreek in Keetmanshoop.

_K5_6360.JPG

Die een ding wat my nou begin verras in hierdie deel van Namibia, is die kampplekkies.

Elke keer is daar iets unieks.  Hier is die “shack” eintlik ‘n groot moderne amblusiegerief met ‘n yslike groot stort van omtrent 2 meter wyd met lekker groot stortkop. Water word warm gemaak in die donkie wat gestook word buite. ‘n Skottelgoed opwasplekkie is gerieflik buite onder die afdakkie. Lekkerste van alles is, elke kampplek het sy eie “shack”.

Laatmiddag besluit ons om die swembad aan te durf. Die water is egter ysig koud, en ons sit vir lank net met ons voete in die water en geniet die stilte. Hoewel hier ‘n restaurant op die plaas is, het ons lus vir lekker stuk beesvleis op die kole vanaand. Die sonsondergang is weereens fantasties en dit is laat voordat ons uiteindelik terug is by die kamp. Dit word ‘n laat gekuier om die vuurtjie.

(Lees gerus verder op deel 2)

 

6 comments on “Suidelike Namibia September 2017 (Deel 1)

  1. Ek kan nie wag om verder jou storie te lees nie!

    Liked by 1 person

  2. Het lekker saam gery net bietjie warm gekry. Daai kamper het n airkon nodig

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: