Dit is nou al ‘n tydjie wat ons begin dink het dat ons ‘n ander ryding moet kry. Ons ou bakkie het nou regtig oud begin raak en ons moes toe besluit, sal ons, ons kampvoorkeure heeltemaal verander of sal ons doen wat ons nou doen…en dalk ietsie meer.
Die grootste besluit was of ons sal oorgaan na ‘n Kampeerwa (campervan) of dat ons eerder ‘n 4X4 bakkie sou koop sodat ons die huidige “Camper” agterop kon laat pas. Of sou ons nou ook heeltemaal verander en die bakkiekappie-kombuis-alles-in-een opsie met ‘n tent ding begin doen. En dit moes nog binne ons begroting pas.
Nie ‘n geringe besluit vir ons nie. Vir maande (eintlik jare) het ons gewroeg oor die besluit. Aan die een kant sou die Kampeerwa ons beter pas, want ai, ons sit so graag by watergate om die diere dop te hou. Soms vir ure. En sou dit nou nie lekker wees om jou geriefies byderhand te kon hê of selfs om ‘n middagslapie te geniet terwyl ons daar sit oor die middag ure nie? Maar dan was ons beperk tot beter paaie, minder agterpaaie ,mits die voertuig ‘n goeie grondvryhoogte het en die pad in goeie toestand is. En moderne ryhuise is glad nie goedkoop nie.
Aan die ander kant was daar die moontlikheid om aan te sluit by die 4X4 geledere en darem so bietjie meer van die land te kan sien, maar dan moes die huidige “Camper” op die bakkie kon pas. En dit was nou nie ‘n maklike taak nie. Nuwerwetse bakkies se bakke is nou baie hoog (baie diep) en om die “Camper” te maak pas sou nie ‘n geringe taak wees nie. Boonop is dit nie ‘n goedkoop opsie om van alles ontslae te raak en voor te begin nie. Dus was dit nie eers ‘n opsie wat ons kon oorweeg nie.
Manlief is dus die taak gegee om al die opsies behoorlik na te vors en dan sou ons besluit.
Uiteindelik moes ons toe maar toegee dat die 4X4 opsie die beste vir ons gaan werk. Daar is net nog te veel plekke wat ons graag sou wil gaan sien. Synde die bakkies se bakke so diep is, sou ons egter moes kyk vir die ouer opsie sodat ons nie nog addisionele kostes aan te hoef gaan behalwe die opgradering van die vering en nog so paar ander kleiner veranderinge nie (Of so het ons gehoop).
Uiteindelik is die regte voertuig opgespoor en dit was met groot afwagting en afgeëte vingernaels wat ons die Camper op die bakwerk laat sak het. Want wat as ons verkeerd gemeet het, wat maak ons as dit nie werk nie? Wat ‘n verligting toe dit opgesit is en dit pas! Ons het net nodig gehad om 1cm se rubber of hout op die bakwerk te plaas om als te laat pas. Die nodige is gedoen en na nog ‘n dag se sukkel om die Camper se vashegboute te maak pas, is als nou in reg vir ons eerste toer.
Ek moet sê ek was baie hartseer om ons vorige bakkie te laat gaan. Al was ons ou Ford Bakkie net ‘n 2X4, het sy ons geneem op ver paaie. Het ons met haar gereis deur Botswana en Namibia en het sy ons geneem waar ons geweet het ons wou gaan. Maar ons het geweet sy het beperkinge en kon 4X4 paaie nie baasraak nie. (Al was ons met ‘n gebreekte veer deur die Richtersveld – maar dis ‘n storie vir anderdag). Kyk ons ou bakkie was nie bang vir slegte paaie en slegte weer nie. Het gespin soos ‘n katjie as ons die langpad vat anderkant Vioolsdrif, so asof Namibia haar wêreld was. Tot die petrolverbruik daar was beter. En nee, nie omdat ons dan stadiger gery het nie, net asof sy van die droeë lug daar gehou het. So heel gepas is sy verkoop aan ‘n man wat oorspronklik van Namibia is. So dalk, net dalkies ry sy eendag weer daar rond en sing haar ou bande ‘n vrolike lied anderkant die grens.
Nou om die nuwe ryding te leer ken!
Ek hou van die intro stuk….kan nie wag om verder te lees nie…
LikeLiked by 1 person
Volg so gou ek tyd het
LikeLike
Ek hou van jou woordkeuse regdeur. Ek is nie rerig n kampmens maar dis asof ek jou kan sien sit langs daai watergate … ek kan sien hoe jy die ‘lekker’ van net lewe in jou nuwe bakkie pak .. jou fotos is puik !! Baie dankie … sien uit om met jou kamera oë deur elke reis te kuier !
LikeLike
Dankie Elma.
LikeLike